Neem só die regte besluite

2430

Jou planne loop gereeld skeef – al het jy oor jou besluite gebid. Vra jy verkeerd, luister Hy nie, of verskil jou wil van God s’n?

MAANDAG

Baseer jou besluite op die regte waardes

’n Besluit is ’n beslissing of ’n vasgestelde plan; ’n slotsom of ʼn gevolgtrekking wat iemand maak. Dis om iets ná oorweging vas te stel. Besluite is nie net algemene wense nie, maar ’n aktiewe keuse vir ’n bepaalde rigting.

’n Mens kan nie jou lewe op verkeerde dade en besluite bou nie. Dit is ’n wankelende fondament wat enige tyd kan meegee. Met ander woorde, ’n besluit wat jy om die verkeerde redes neem, is nie net ’n tydelike saak nie. Dit affekteer jou hele lewe vorentoe en hou nadelige gevolge in vir jou hele bestaan.

Daarom is dit dwaas om jou lewe op so ’n uitgangspunt te bou. Jy is verblind deur die korttermynvoordele sodat jy nie die langtermynnadele kan raaksien nie.

Ons besluite moet gegrond wees op ons waardes en op die Woord. ’n Besluit is nie ’n dobbelspel nie. Daarom moet jy jou nie sommer alles laat welgeval nie. Een besluit kan jou lewe in ʼn heeltemal ander rigting stuur.

Die digter in Spreuke sê dat ons God eerste moet stel as ons sukses wil behaal. Kyk ’n slag goed na jou waardes en prioriteite.

Wat is vir jou belangrik? Waar staan Hy op jou lys? Stel Hom eerste in alles wat jy doen. Dan sál jou pogings met sukses bekroon word, want jy sal werk om Sy doel te bereik.

Omdat jy vertrou op jou eie planne en op jou baie soldate, sal oorlog teen jou volk losbreek en sal al jou vestingstede verwoes word (Hos. 10:13-14).

DINSDAG

Dis soms nie wát jy besluit nie, maar hóé

Om die regte besluit te neem lê nie noodwendig in wát jy besluit nie, maar in hóé jy besluit. Jy moet dit soos ’n lang, onbekende reis aanpak.

Aanvanklik voel jou bestemming vreeslik ver en jy wonder of jy ooit daar gaan kom. Maar as jy die regte kaart het, weet hoe om dit te lees en gereeld seker maak jy bly op die regte pad, sál jy daar uitkom!

Heel eerste moet jy mooi gaan dink oor wat jy van God vra. Selfs die mees gesoute avonturier maak seker van sy bestemming voor hy die reis aanpak. Waarheen gaan jy? Hoekom? Wat gaan jy daar aantref?

Net so moet jy van ’n paar dinge seker maak voor jy ’n besluit neem, en dan vir Hom vra om dit te laat gebeur. Onthou, jou optrede en keuses gaan gevolge hê. Maak seker dit is gevolge waarmee jy vir die res van jou lewe kan saamleef.

Toets jou motiewe so: Ondersteun dit ’n eerlike saak? Is dit regverdig en dink jy dit is deel van God se plan met jou lewe? Is die tydsberekening reg? Gaan dit jou meer bruikbaar vir die koninkryk maak? Net jy sal weet as een van hierdie vrae rooi ligte laat flikker.

As jy sou sê: “Ons weet daar niks van af nie”, sal God wat die gedagtes toets, weet wat die waarheid is. Hy wat oor jou wag hou, Hy weet en Hy vergeld ’n mens vir wat hy gedoen het (Spr. 24:12).

WOENSDAG

Die Woord is jou padkaart en GPS

Hou maar jou GPS byderhand – netnou verdwaal jy of beland êrens waar jy nooit wou wees nie! Gelowiges behoort altyd die Bybel te gebruik om seker te maak hulle is op die regte pad. Dit help nie jy neem ’n besluit wat nie met die Woord strook nie en blameer God dan vir die gevolge.

As Hy die middelpunt van jou besluit is, kan jy seker wees die opdraandes in jou pad sal vir jou ’n bietjie meer gelyk gemaak word!

’n Lewe sonder Hom is egter soos die dood. Keuses wat Sy wil vir jou lewe dwarsboom, sal jou nooit gelukkig maak nie.

Die oplossing is baie eenvoudig: gehoorsaamheid aan Hom. Dit is die pad wat verstandige mense kies. Sommige mense is natuurlik so hardkoppig soos muile – hulle weier om leiding van Bo te aanvaar.

Daarom moet hulle voortdurend gedissiplineer word, anders is hulle nie bruikbaar vir die koninkryk nie.

Hy wil ons graag met liefde lei, nie met straf nie, daarom kry ons die belofte dat ons die heel beste pad as roete sal kry. Aanvaar die raad wat jy in die Woord kry, dan sal dit nie nodig wees om jou te dwing om bruikbaar te wees nie.

Die keuse is eenvoudig: sonde en smart, of geloof en vergifnis.

As jy verkeerd was, sê jy is jammer en begin weer oor.

Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou (Ps. 32:8).

DONDERDAG

Moenie aanmekaar praat nie – luister!

Natuurlik gaan jy langs die pad gedaan raak, en selfs begin twyfel oor jou besluit. Onthou, deur te bid, maak jy kontak met God – en dit is net wat jy nodig het as jy uithouvermoë kort! Jy sal sommer vanself kalm raak wanneer jy met Hom praat, so bid as die angs jou bekruip – al sê jy eintlik niks nie.

Maak net kontak. Enige tyd. Altyd. Al is jy ook hoe “hardhorend”.

Op ’n stadium sal jy ’n duidelike “ja” of “nee” hoor. So, luister fyn en hoor dit vroeg, of wag tot jy dit hard en duidelik hoor.

Gebed gaan nie daaroor om te vra en te kry nie. Dis ʼn verhouding waarin jy ook dankie sê en sommer net stilsit en Iemand se teenwoordigheid geniet.

Vrees vir mense kan alles wat jy probeer bereik, in die wiele ry.

Dit kan selfs veroorsaak dat jy bang sal wees om uit die huis te gaan!

Aan die ander kant sal vrees vir God jou bevry, want dit beteken dat jy Hom aanbid, vereer en vertrou.

Hoekom bang wees vir mense wat in elk geval nie ewige skade kan aanrig nie? Vrees liewer die Een wat die slegte dinge wat ander jou toewens, tot jou eie voordeel kan gebruik.

Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word (Matt. 7:7-8).

VRYDAG

Die regte gesindheid vir ’n goeie besluit

Jy het jou aanvanklike besluit met soveel opregtheid geneem, maar is dit steeds die geval? Hoe lyk jou hart nóú? Het jy intussen hoogmoedig geraak? Beterweterig? Ondankbaar? Dalk soos ’n kind op sy fiets wat skree: “Kyk, Ma! Loshande!” (En ons almal weet wat daarna gebeur…)

Onthou, ’n goeie besluit is net so goed soos die gesindheid waarmee jy dit aanpak. As jy iets doen sodat jy die eer kan kry, kan jy dit netsowel los. Vroeër of later sal jy jou fout agterkom.

Ons word in sonde gebore, daarom is ons van nature geneig om onsself, die eie ek, tevrede te stel. Ons doen dit omdat ons selfsugtig is. Daarom moet ons vra dat Hy ons harte en gedagtes moet skoonmaak sodat ons nuwe gedagtes kan dink en nuwe begeertes kan hê.

Ons geestelike insig stel ons in staat om duidelik te sien wat God in hierdie wêreld met ons lewens wil doen. Ons insig kan egter baie maklik deur ons eie gedagtes en begeertes beïnvloed word.

Selfsugtige begeertes en belange vertroebel ons geestelike wysheid.

Hou jou geestelike oog gevestig op God en dien Hom met oorgawe.

Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees (Matt. 6:19-21).

SATERDAG

Pas aan by uitdagings en verander jou plan

Geen roete is sonder uitdagings nie – en soms moet jy jou plan effens aanpas om die probleem te systap of te oorbrug. Moenie hardkoppig wees en dinge net op jou eie manier wil doen nie. Wees buigsaam en maak seker jy doen dit eerder volgens God se wil.

Daar is twee moontlike reaksies op die Woord: ’n gelowige reaksie en ’n ongelowige reaksie. ’n Ongelowige reaksie hou in dat iemand wat Sy stem hoor, hardkoppig is en Hom op die proef stel en uittart.

Sy loop die pad wat God wil hê sy nie moet loop nie, en wil doelbewus nie leer nie. Sy hoor wat Hy wil hê en doen steeds die teenoorgestelde. Hierdie verkeerde reaksie bring baie hartseer.

Pasop dat jy nie uit pure frustrasie haastig raak en die verkeerde afdraai vat nie. Of dalk op ’n vreeslike ompad beland wat jou tyd en vreugde kan steel nie! Raak gereeld stil om te voel of jy innerlike vrede het, en stap dan weer flink voort.

Daar is groot krag in stil wees. Dit dui op vertroue. Jy moet afsien van jou eie planne en staatmaak op die hemelse planne vir jou. Wees oop vir oortuiging. Hy wil Hom so graag oor jou ontferm en aan jou goed doen en jou help. Jy moet net die regte keuses wíl maak!

Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het (Heb. 3:15).

SONDAG

Lag vir die lewe, al gaan dit rof!

Hou jou oë op die pad, maar moenie vergeet Wie jou lei nie. Wees versigtig om nie so gefokus te raak op wat jy self vermag het dat jy vergeet Wie in die eerste plek daarvoor verantwoordelik was nie. Eer Hom in elke tree en vir elke deurbraak.

Wees bly en dankbaar, ten spyte van wat met jou langs die pad gebeur. So sal jy op koers bly, al val jy soms jou nerwe af!

God kan selfs die slegste besluit in iets goeds omskep, maar dan moet jy kies om altyd Sy leiding te volg. Dis belangrik om te onthou dat Hy nie vir óns werk nie. Hy staan nie in jou diens en spring as jy jou vingers klap nie.

Maar Hy wíl jou help – en jou gehoorsaamheid waarborg seën.

Sorg dat jou besluite altyd die hemelse roete na sukses volg en jy sal vrede hê oor jou keuses.

God het jou in staat gestel om te doen wat van jou verwag word.

Aanvaar dankbaar dat jy ’n goeie verstand en insig gekry het om die regte besluite te kan neem. En dat jy nie die pad alleen hoef te stap nie. Jy is deel van die hemelse familie.

In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees. Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God (Ef. 1:5-7).