Neem só mooi foto’s van jou kinders

0
127
foto_3.jpg

Met ’n topgehalte kamera in elke foon, neem jy maklik foto’s van jou kind. Maak dit só onoortreflik.

Ons het by die uithaler fotograaf, André Douwenga, wat self twee dogter het, gaan uitvind hoe om jou kind perfek af te neem. Hier deel hy sy wenke.

1. Kom op hulle vlak (Kyk in my oë)

Laat sak jou kamera tot op die vlak van die kinders se oë of selfs laer. Die wêreld lyk anders daar ónder en kinders vind dit makliker om met jou (of jou kamera) ’n konneksie te maak.

2. Staan ’n bietjie nader

Ek het eenmaal ’n fotograaf hoor sê dat as jou foto’s nie impak het nie, staan jy te ver. Moenie bang wees om die zoemfunksie te toets nie. Vul die foto met jou kind.

3. ’n Glimlag is nie alles nie; konneksie is wel

Moet nooit die woord “cheese” gebruik as jy jou kind wil laat glimlag nie. Sodra ’n kind dit hoor, sit hulle hulle “fotogesig” op. Laat jou kind eerder net haarself wees, dit is tog wat jy wil vasvang.

4. Daardie klein flitsie, ook bekend as “the ugly maker”

Daardie klein flitsie bo-op jou kamera maak nie snak-na-jou-asem-foto’s nie. Skakel hom af, hou jou kamera stil en jy sal dit nooit weer anders doen nie. Die skadukant van ’n muur of gebou sal jou taak maklik maak.

4 top foto-wenke

  • Soek na die “portrait”-verstelling. Dit is gewoonlik op die boonste draaistelknop. Soek vir ’n prentjie van ’n vrou met ’n hoed op. Op dié verstelling fokus die kamera op die kind en nie op die hele prentjie nie.
  • Speel met dinge soos hoede, troeteldiere en klein, mooi speelgoed.
  • Vermy klere met prentjies soos Spiderman en Barbie.
  • Wat die agtergrond betref: hoe eenvoudiger hoe beter. Die skadukant van ’n muur of gebou sal jou taak vergemaklik. Binnenshuis by ’n groot venster werk ook goed.

 

fotos.jpg