Net 2 Macdonalds burgers ....

0
51
image.jpg

My lewe lank nog vra ek vir meer tyd. Dis asof die dae nooit lank genoeg is nie. En toe kry ek dit...

Dit was soos ʼn groot wit boks met ʼn rooi strik om. Dis by my voordeur afgelaai op 10 Januarie 2015 om 16:00. Maar toe ek dit oopmaak en kry waarvoor ek gevra het, het juis dit die gat in my hart net groter gebrand. Soos om in ʼn spelonk te gil het my verlange elke keer teruggeroep.

“Noem jy dit ʼn geskenk?!” wou ek skreeu.

Ek het koffie gemaak. Dit was half vyf. Ek het my leë koppie op die tafel neergesit en dit was nog steeds half vyf...

Kul die lewe ons as ma’s nie? Daardie klein handjies wat oor jou wang streel, die skatlike glimlag wat maak dat jou kinders so diep in jou hart inkruip. Die geselsies in die bad en die stoei op die mat. Alles maak jou net liewer en liewer vir hulle. Jy groei vas aan hulle. En dan, op ʼn dag, trek hulle. Uit die huis uit. Die kamers is leeg en die Maltees gaan soek verdwaas na hulle. Sy kyk met ʼn vraagteken op haar voorkop na jou. Wat moet jy sê?! Hulle is universiteit toe. Koshuis toe. Weg. Ek weet nie of dit net ek is nie, maar dit voel of ek ʼn arm verloor het. En al huil of bid ek hoe hard niks gaan dit verander nie. Hulle groot avontuur begin...

Natuurlik het ek gehuil toe die stilte my wou insluk. Ek dink omtrent 36 keer (and still counting!). Natuurlik het ek gaan stap. (oefening skei mos voelgoedhormone af!). Natuurlik het ek gaan swem daarna om af te koel. Natuurlik het my man vir ons Macdonalds burgers en chips gaan koop. Natuurlik het ek die knop in my keel daarmee probeer afsluk. Natuurlik het dit nie gewerk nie.

Ek voel nog steeds soos ʼn pasiënt wat na die kliniese wit laken staar waar my arm nie meer is nie.

Het jy ook so gevoel toe jou kind uit die huis getrek het?