Net een sou nie doen nie

Ek probeer vanaand ver terugdink, maar van Standard 6 af was ek in die noodhulpspan en as ek reg onthou was ons 5 in ‘n span: Een neem verantwoordelikheid vir die pasiënt se kop en nek en hart, een vir die linkerarm, een vir die linkerbeen, een vir die regterarm en een vir die regterbeen. Of so onthou ek dit altans!

Elkeen het ‘n verantwoordelikheid gehad om die toegewysde deel van die pasiënt na haar beste vermoë te ondersoek, die beserings te assesseer en met weldeurdagte volgende stappe vorendag te kom.

Net een in ‘n span sou nie doen nie.

In Jesus se gelykenis van die lampies was daar 10 maagdelike lampdraers. Vyf was verstandig en vyf was onverstandig. As ek myself as een van die verstandiges beskou, verstaan ek vanaand die waarde van die vier ander daar by my.

Net een sou nie doen nie.

Ek het meer as een iemand nodig wat tydig en ontydig vir my kan herinner aan die ekstra olie vir my lampie.
Want mense raak besig en het hulle eie skedules en pyne en hartseer en vreugdes.
Mense raak moeg.
Mense raak vasgevang in hulle eie krissise.
En te verstane.

Ek glo dat as ek iemand het wat my kan herinner daaraan om my kop regop te hou wanneer hy donkerkant toe wil staan, of my hande oop kan hou wanneer hulle inmekaar wil trek, of my voete in die regte rigting kan neersit as hulle weg van Nineve af wil pirouette, dan sal dit my ook gesond genoeg hou om dieselfde vir hulle te doen.
Om ten minste ‘n kwart van die las te kan dra.

Dis ‘n ewigdurende siklus hierdie, vermoed ek. Deur die jare word díé wat dele van jou versorg, omgedraai en neergesit en opgetel en vervang. Soms is jy gelukkig en kry jy ‘n kleinwees-grootword-oudword-een… dieselfde een.

Maar al verander hulle ook, een maatstaf bly staan:

“I choose as my friends everyone who worships you.”
Psalms 119:63 CEV

Hoe klein ookal, hoe skynbaar onervare in geestelike sake, hoe jonk nog in die geloof…

“You know how a pebble from a poor shepherd boy slew,
in days of old, a most powerful and defiant giant;
but then that pebble was taken from the brook
in the spirit of confidence in God.”

God wil jóú gebruik om die Goliatte in mý lewe tussen die oë te klits. Met ‘n slingervel in die een hand en ‘n vol lampie vol lig in die ander.

Wéét jy hoe dankbaar is ek vir jou?

Jou temalied vir die week: Turn on the light

Vorige artikelDie grootste reus
Volgende artikelHands of man
Blogger - Maxie Heppell
Vir baie lank het my lewe nie regtig rigting gehad nie. 'n Gekompliseerde kindertyd, verkeerde keuses en dan die ongelukkige gevolge daarvan, het my gevange gehou. Tot daardie dag dat die Here Sy kind uit die modder opgetel en haar voete stewig op Vaste Rots laat land het. Psalm 40 bly tot vandag toe 'n groot favourite! Dit het my baie jare geneem om uit te kom by dit wat Hy nog altyd vir my lewe bedoel het. Maar nou is ek hier. En ek glo in God Drie-Enig, in die maagdelike geboorte, in Jesus aan 'n kruis, maar meer nog - aan die opgestane Jesus in my eie lewe. Ek glo dat Hy ons weer gaan kom haal en dat ek tot dan die Heilige Gees het wat my lei en my denke help vernuwe. In 2009 behaal ek my B.Th graad in teologie en sedertdien preek ek, praat ek en deel ek oral waar ek genooi word. Ek en my eerste liefde en ons langhaar-vierbeen meisiekinders bly tans op Jeffreysbaai in die Oos-Kaap en ons getuig gereeld: Die Here is nie net goed vir ons nie, Hy bederf vir ons!