Net Goedheid & Guns

Wel, my leuse is “net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe”.

Dit is hoe ek my lewe lei en my verwagtinge vir elke dag beplan ek daarvolgens. Dit is my houding teenoor die lewe, dit is die lied in my hart.

Ek was nege weke swanger, oorstelp van vreugde oor die belofte van lewe, vreugde en liefde wat binne-in my besig was om te groei. Om ‘n baba te hê was nog altyd my grootste begeerte. Dit was ‘n feesviering van my en Richard se liefde vir mekaar.

Niks het my voorberei vir wat ek op die sonar skerm gesien het nie. Daar was nie meer ‘n baba nie, die skok was onbeskryflik. Die warm trane het  oor my wange gerol. My deurmekaar gedagtes het dadelik gedink: “Hoe kan ek so gesond lewe, na myself en baba kyk, maar my baba se hartjie het opgehou klop. Hoe kan ek so ‘n positiewe lewe lei en so iets gebeur met my? My hart was in vlarde.

Jy sien, God se Woord sê, dat as ek deur die vlamme gaan sal dit my nie skroei nie en al gaan ek deur ‘n dal van doodskaduwee sal ek geen onheil vrees nie. My verhouding met God en my positiewe lewenswyse is nie ‘n waarborg dat ek nie deur hartverskeurende situasies gaan deurgaan nie, maar daar is ‘n waarborg dat die vuur my nie gaan skroei nie. Wat ookal ek deurgaan en kies om vierkantig in die oë te kyk gaan my nie onderkry nie.

Ek het daardie dag besluit om God te vertrou al gaan ek deur ‘n dal van doodskaduwee want Hy het belowe dat ek nie hoef te vrees nie. Iets het binne-in my verander. My lewe het in ‘n blomtuin verander want jy sien net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe.