Net liefde moet agterbly…!

Ek het klomp goeters besluit, vat my ‘n rukkie om seker te wees maar as ek besluit het, kan dit nogal ‘n ding van vasmaak kaliber raak!

Van die besluite wat ek geneem het is om hierdie jaar, een van eenvoud en maklik te maak.  Mens kan dit doen, die Lewe het my nou mooi gewys.  Ek wil my hele lewe vol liefde en sagtheid maak.

So begin ‘n grootse skoonmaak proses.  Van die kop tot woorde en mense,  energie en huis en als wat voorkom. Nikse aardige gedagtes word meer geduld nie…as ek negatief begin dink dan stop ek myself summier!  As die irritasie opstaan en ek wil ‘n ding kwytraak wat nie goed is, dan haal ek asem en se dankie vir die naaste blymaak ding wat ek sien.  Ek kies om gelukkig te wees! En dit beteken skoonmaak tot by die binneste.

Ek is nogal tevrede met wat ek nie uitgesmyt het nie.  Meeste praat nou sagte stories wat lekker is om te hoor.  Party is wel op “probation”, ander verdra ek, want hulle is my “teachers” om hierdie “tightrope” wat ons lewe noem, te bemeester!  Dan is daar ook die wat ek baie liefhet, hulle kom nog weg met bietjie meer.

Een van die besluite wat ek geneem het is om op Sondae te rus, te maak wat ek wil, maar veral, nie te doen wat ek nie wil nie. Daar is perke want ek slaap nie in ‘n onopgemaakte kooi nie, ouma Alida het my ordentlik grootgemaak en sy praat steeds elke dag in my kop.

Nog ‘n besluit was om niks verder te hou wat my nie gelukkig maak as ek dit sien nie.  Al die goed wat ek afstof en oppas praat mos stories,  en as dit nie ‘n sagte mooi storie is nie dan sit ek hom in die boksie en hy is op sy pad.  Daar is stapels goed by die deur uit na ‘n nuwe adres, en ek voel al hoe lekkerder.  Saam met die skoonmaak het my kop ook ligter en oper geraak.  Ek het ingesien ek hou goed vir die verkeerde redes. Party hou ek want ek is te aardig om die ding wat ek persent gekry het, en rerig nie liefhet, weg te gee.  Of ek voel te skuldig omdat ek 5kg swaarder is en die mooie linne skirtjie sit nou stokstyf.  Skuld en aardig maak dat ek hom en ander bly terugsit in die kas, want ek hoop ek gaan weer dunner worre!!  En so spoel daai skuld oor na allerlei annerlike gedagtes rondom eet en oefen ook.  Niks van dit maak my bly nie.

En dan is daar die boeke wat ek nog gaan lees op ‘n reëndag, stildag of annerdag.  As ek hulle sien dan wroeg ek oor ek so ongedissiplineerd is dat ek nie by lees uitkom en dan staan Skuldig en Ingedoen my alweer in die oe en kyk!

In die proses het ek agtergekom as ek die skirtjie en sy maters uitsit, dan sit ek ook die las van 5kg swaarder wees en dunner word, by die deur uit.  As ek die boeke weggee dan gee ek ook die gevoelens weg.  Die opgehoopte idees in die vorm van lappe word ook weggegee.  Daar is ek vry om ‘n nuwe stukkie te koop as ek wil, sonder die skuldgevoel van 17 ander stukke lap wat wag om te gebeur, al het ek lankal my sin vir 16 van hulle en hulle idees verloor.

Nou maak ek my kas oop en ek is bly om my klere te sien.  Ek dra steeds net die wat ek dra, ek mis niks.  Nou loop ek by die boekrak verby en niemand skree op my nie.  Nikse leë beloftes van ek kom by julle uit of dalk later of volgende week nie. Ek gesels nie meer myself oor dit wat ek nie by uitkom of lus het om te doen nie want dit wat op die rak is maak my vriendelik terugpraat en vredig glimlag.  My kop rus en my lewe raak by die dag sagter en meer vol liefde.

Vorige artikelOns staan bakhand voor U Here
Volgende artikelHoop in die donker
Blogger - Annali Swiegers
Ek is 56, woon in die Weskaap op ‘n beeldskone plaas. Lang storie...’n bottermaak storie! Baie van wat ek blog/storie gaan oor die laaste 5 jaar se Lewensdans hier op Deo Volente. My skrywery het jare gelede begin as sommer outydse dagboek houery, journal klink soveel mooier. Ek het altyd groot strikke gebind om my skryfboeke want dit was vir eie oë, eie sanity! Later het ek dapper muiserig dit vir hier en daar ‘n mens begin wys en so het ek agtergekom mense lees lekker daaraan. En soos enigiets wat mens met lekkerkry doen, het die skrywery gegroei tot waar ek dapper muis skoene aangetrek het en ‘n blog begin het!