Net soos ’n kaalvoet-kind…

“Ons twyfel is verraaiers en veroorsaak dat ons die goeie verloor, wat ons dikwels kan wen, deurdat ons vrees om te probeer.”  William Shakespeare

As ons regtig die duiwel wil omkrap dan moet ons begin om ons lewe te geniet, ten spyte van, al die dinge wat ons nie verstaan nie, al die vrae waarop ons nie antwoorde het nie en die omstandighede wat lyk asof dit nooit gaan verander nie.

Vat elke ding wat jou hart onrustig maak, jou laat twyfel en onseker laat en gee dit vir die Here.

Vertrou die Here en laat Hom toe om jou te lei op die pad wat jy moet neem.

Deur te vertrou in die Here, beteken nie altyd dat al die dinge wat jou omkrap of die vrae wat in jou kop rondmaal noodwendig verdwyn nie, maar dit help om jou uit die storm te haal en nie deur die storm meegesleur te word nie.

Want dit is presies wat die duiwel probeer doen, hy wil ons die heeltyd van balans af gooi, sodat dit onmoontlik is om vorentoe te beweeg.

Jy kan nie vorentoe beweeg met ’n hart wat van balans af is nie.

En ons maak baie maal die fout om impulsiewe besluite te neem wanneer ons daardie benoudheid in ons hart ervaar en dit veroorsaak dat dinge net meer en meer buite beheer raak.

Terwyl wanneer ons rus in die Here, Sy wysheid, Sy insig en Sy tyd, raak alles vir ons meer helder en sien ons ’n duideliker beeld en vind ons weer rigting.

Ons almal het ’n klein bietjie beheervraat in ons binneste, al wil ons dit nie altyd erken nie. Daar is niks so ongemaklik soos onsekerheid nie, of die gedagte dat ek nie beheer het oor wat gebeur nie. Daarom is geloof so belangrik, want geloof is daardie sekerheid, dit is ons enigste sekerheid. Die vertroue dat niks te groot of onmoontlik is vir die Here nie.

Moenie toelaat dat vrees jou weerhou daarvan om te probeer nie. ’n Mislukking is nie ’n beslistheid nie, dit is net ’n geleentheid om te verbeter. Ons het baie maal drome en dan werk dinge nie uit soos ons graag sou wou hê nie. Beteken dit dat daardie droom nie vir jou bedoel is nie, of dat daardie droom nie verwesenlik kan word nie? Nee, dit beteken bloot dat jy daardie droom dalk net bietjie.. of soms BAIE.. verkeerd benader het en as jy kan leer uit die foute wat jy gemaak het, is daardie droom binne jou bereik.

Moenie opgee op die dinge wat regtig vir jou saak maak in jou hart nie. Moenie toelaat dat die duiwel jou met twyfel en vrees van balans af gooi nie. Hou vas aan die Here, wat gister, vandag en altyd dieselfde bly en hou vas aan die drome wat jy koester in jou hart.

Dink net weer eenmaal soos ’n kind aan daardie drome in jou hart, en sê vir jouself, “Daar is NIKS onmoontlik vir die Here nie.”

Dit is God se begeerte vir ons om te glo soos kinders. Want kinders se drome is nog nie so geskend soos grootmense sin nie. Kinders is nog nie in boksies met naamplakkers verpak nie, kinders is nog vry om sonder beperkinge te vlieg tot op die hoogste hoogtes.

Glo weer soos ’n kaalvoet-kind, sonder enige limitasies of vrese oor die dubbeltjies op die pad en gaan voluit vir jou drome met die wysheid van iemand wat al ’n voetpad deur die lewe gestap het.

NIKS is onmoontlik vir Hom nie, NIKS!