#Netblomme–bustoer 2021

Kyk blomme in Namakwaland

Vir ’n onvergeetlike ervaring, kom beleef die mooiste blomme op Finesse se #Netblomme–bustoer saam met liedjieskrywer Koos van der Merwe, vanaf 6 Augustus tot 9 Augustus 2021.

Meer oor

Die blomme van Namakwaland lê agt maande van die jaar begrawe onder stof en grond, in ’n semi-woestyn. Kleurloos.

Dan skielik in Augustus breek dié kleurryke natuurwonderwerk deur en word Namakwaland prentjiemooi ingekleur. Wil jy weer kleur in jou lewe hê? Dan is dié blommetoer ’n moet. ’n Vyf dae lange reis deur Namakwaland en die Weskus sal jou die geleentheid gee om een van Suid-Afrika se mooiste landskappe te beleef.

Om net dag-tot-dag te oorleef en dit lewe te noem, is ’n mors. Net soos blomme, kort ons sonskyn, vryheid en ’n bietjie water. Stop, ruik die wilde blomme, want voor jy weet, verdwyn hulle weer.

Wanneer jy deur die blomme stap, sal jy vind dat jy soveel meer ontvang as waarna jy oorspronklik gesoek het. Jy hoef nie ’n kenner te wees nie. Ná die paar dae in die Namakwaland is almal blommekykers.

Die toer word haarfyn deur Namakwa Toere beplan en beloof om ’n ervaring te wees wat jou lank sal bybly.

Koos van der Merwe, die bekroonde sanger en liedjieskrywer, tree as toerleier op. Hy bring ook sy kitaar saam om Leonard Cohen-liedjies te deel …

Die toer is geskik vir alle ouderdomme. Perfek vir almal van 20 tot 80, getroudes en enkellopendes. Kom geniet heerlike kuiers om die etenstafel, ruil stories uit en smee lewenslange vriendskappe. Jy sal wegstap met ’n lewe vol kleur, ’n lafenis vir jou siel en ’n hart vol herinneringe.

Die lang pad sal kort voel in ’n luukse bus, volledige toegerus met lugversorging en ’n radio. Elke dag het sy eie roete en unieke ervaring. Die gids sal leiding neem, kennis deel en seker maak jy put die meeste uit die toer. ’n Piekniek vir ’n veldmiddagete wag ook op jou. Omring deur nuwe vriende en die fraai natuur, sal elke happie smaaklik wees.

Slaapplek word deur Namaqua Lodge verskaf. Dié pragtige lodge is bekend vir sy heerlike etes, vriendelike personeel en uitstekende geriewe.

Bring jou stapskoene en ekstra batterye vir jou kamera. Dié toer wil jy nie misloop nie. Kom ontspan en lag saam. Sit die kleur terug in jou lewe…

Toerleier

Bespreek

DATUM: Vrydag 6 tot Maandag 9 Augustus 2021

Bespreek

R7 900

Enkel tarief (per persoon) R9 500
Deel Tarief (per persoon) R7 900

Ingesluit:
* 3 Nagte akkommodasie by Namaqua Lodge
* Geregistreerde toergids
* Luukse busvervoer
* Etes soos aangedui

Uitgesluit:
Toegangsgeld (maksimum van R150 pp per toer), middagete, fooitjies & drankies.

Program

DAG 1 – Etes ingesluit: Aandete
Ons vertrek vanaf Kaapstad en ry deur Bloubergstrand, verby Melkbosstrand,  Atlantis en Mamre op pad na Darling. Vandaar vertrek ons nader aan die kus waar ons by Langebaan verby gaan. Ons sal ook Saldanha se hawe sien – die grootste, diepste en veiligste hawe in Suid-Afrika!
Volgende op ons roete is die Weskus se drielingdorpies Velddrif, Port Owen en Laaiplek wat aan die mond van die Bergrivier, die bokkomhoofstad van Suid-Afrika uitmaak. Ons ry ook deur Dwarskersbos, verby Rocherspan en oor die Verlorenvlei voordat ons by Elandsbaai uitkom. Hier word die kreefbakkies met hyskrane van die kaai tot in die baai laat sak. Van hier kies ons koers deur die Sandveld verby Leipoldtville en Graafwater via Clanwilliam na Vanrhynsdorp waar ons elke aand van die toer sal oornag in Namaqua Lodge.

DAG 2 – Etes ingesluit: Ontbyt & Aandete
Vandag is ʼn lang dag en een van die hoogtepunte op die toer! Ons vertrek vroeg-oggend en ry deur die Knersvlakte. Op die oog af lyk dit of daar niks is nie, maar wanneer ons stop en uitklim is almal verbaas om die verskeidenheid en hoeveelheid dwergvetplantjies te sien wat tussen die wit kwartsklippies groei. Sommige plantjies lyk ook net soos die klippies! Ons ry deur die Hardeveld met dorpies soos Nuwerus en Bitterfontein. Voor ons Garies bereik ry ons die Namakwalandse Klipkoppe binne wat strek tot noord van Springbok. Ons sal op hierdie roete ʼn ou verlate dorpie sien wat moes skuif en die kleinste titelakte in Suid-Afrika. Ons lê besoek af aan die ou kopermyn-dorpies rondom Springbok – Nababeep, Concordia en Okiep, wat op ʼn stadium die rykste kopermyn in die wêreld was.

DAG 3 – Etes ingesluit: Ontbyt & Aandete
Ons volg vandag ’n ander roete deur die Knersvlakte tot teen die Bokkeveldberge waar ons die skouspelagtige Vanrhynspas sal bestyg tot bo op die Bokkeveldplato by Nieuwoudtville – die bolplant-hoofstad van die wêreld! Ons sal die dag rondom hierdie pragtige dorpie spandeer en besienswaardighede soos die kokerboomwoud, Nieuwoudtville-waterval en gletserspore besoek. Ons sal ook besoek aflê aan die NG-kerk, ’n pragtige sandsteengebou met ’n baie interessante geskiedenis. Hulle glo dat hulle die enigste kerk in die wêreld is wat ’n monument vir skuld opgerig het!

DAG 4 (Laaste dag) – Etes ingesluit: Ontbyt
Die laaste dag van ons toer, maar steeds ’n kleurvolle dag propvol opwinding! Ons ry deur die Olifantsriviervallei tot by Clanwilliam waar ons die Pakhuisberge sal binnegaan. Hierdie rotsformasies laat mens net weer besef hoe nietig ons is. Dit lyk asof die rotse bo-op mekaar gepak is. Ons lê ook besoek af aan C. Louis Leipoldt se graf in die berge. Op Clanwilliam besoek ons die Ramskop natuurtuin op die oewer van die Clanwilliamdam. Hierna ry ons verder deur die vallei met die Sederberge en Olifantsrivierberge weerskante van die pad tot ons die Piekenierskloofpas oorsteek. Die roete neem ons verder deur die Swartland met sy goudgeel canola– en grasgroen koringlande. Na ’n asemrowende dag word ’n sielsverrykende toer afgesluit in Kaapstad.

LET WEL
Dit is belangrik om te besef dat die blommeseisoen in Namakwaland se reënseisoen is. Namakwa Toere behou die reg voor om die dag tot dag reisprogram om te ruil na aanleiding van die weersomstandighede. Verder behou Namakwa Toere ook die reg voor om die reisprogram te verander sodat die beste blomme wat die streek bied, besigtig kan word.