Nie meer ‘n dooie hond nie

2 Samuel 9:8 “ . . . Wat is ek tog dat u aandag gee aan ‘n dooie hond soos ek?”

Vir heeltemal te lank in my eie lewe het ek myself toegelaat om ‘n dooie hond te wees! O hoe kon ek durf om so min van myself te dink. Hoe kon ek durf om die etiket van verwerping aan te trek! My eie dooie hond selfbeeld het my weerhou daarvan om alles te wees wat ek moes wees en ook om alles te hê wat ek kon in hierdie lewe.

Om mee te begin, moes ek regtig ernstig besin en my eie gesindheid verander teenoor myself.  Glo my dit vat tyd, baie geduld en leiding van die Heilige Gees. Nietemin was en is ek nog steeds gedetermineerd dat ek doodeenvoudig weier om buite die geseёnde lewe wat God vir my alreeds voorsien het te leef. Ek sou nie meer onder wees en bloot net voort ploeter as die “stert” terwyl God my die “hoof” gemaak het om bo  te wees nie. Genoeg is genoeg. Dit was tyd dat ekself standpunt inneem en myself posisioneer om my regmatige erfenis van God nou alreeds vir my lewe op te eis.  Deuteroneum 28:13 “ As jy luister  . . . sal die Here jou God jou die kop maak, nie die stert nie, en jy sal altyd bo wees, nie onder nie.”  Ek moes leer elke belofte van God vereis ‘n voorwaarde wat ek sou moes toepas: As ek luister, sal God. Sal God. Nie miskien nie. Sál God.

Jy sien, ‘n dooie hond selfbeeld dryf mens om vanuit vrees en verwerping eerder as geloof te funksioneer.  Ons het nodig om in die waarheid van 2 Korintiers 5:21 te wandel. “Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus deur God vrygespreek kan wees.”

Ek lief die einde van die storie rondom Mefiboset. 2 Samuel 9:13 “ Mefiboset, wie se voete gebreklik was, het in Jerusalem agtergebly, want hy het van toe af by die koning aan huis geëet.” O hoe gebreklik raak ons eie twee voete nie tydens ons eie reis op ons lewenspad nie.

Verblind deur ons foute en swakhede vergeet ons alte gou ons staan nogsteeds in ‘n bloedverbond met Jesus Christus. Niks en niemand kan ons skei hiervan nie. In verbond bied ons God alles wat ons is en het en Hy gee ons alles wat Hy is en het. Hy neem al ons sonde, foute, swakhede, mislukkings, tekortkominge op Hom en gee vir ons Sy vermoё, Sy regverdigheid en Sy sterkte. Hy neem ons armoede en gee vir ons Sy rykdom.  Hy neem ons gebrek en siektes op Hom en gee vir ons Sy heling en heel wees. Hy neem ons opgemorste lewens en verlede vol mislukkings en gee ons hoop vir die toekoms. In Hom blink ons toekoms inderdaad!

Sit op daai sonbril!

PS. In onsself is ons niks nie. In Jesus Christus is ons alles.

Vorige artikelGun sukses vir jouself en vir ander
Volgende artikelMevrou Doeminie kerm oor lyding
Blogger - Tania Delport
Tania Delport is terselfdertyd onkonvensioneel, passievol, vreesloos, kreatief, teen die grond neergegooi maar nie vernietig nie, vol blydskap en humor, Woord deurdrenk en geesvervuld, ‘n onvergeetlike persoonlikheid. Tania Delport se skryftalent is ‘n passie en natuurlike gawe van God maar ook stil-stil geïnspireer deur die welbekende skrywer Hennie Aucamp wat 20 Maart 2014 oorlede is. Sy het in die Stormberg hoogland in die Oos-Kaap grootgeword op die buurplaas vanwaar hy grootgeword het. Haar oom aan haar pa se kant was getroud met die suster van Hennie Aucamp, dus was hy deel van haar familie binnekring. Tania Delport is in haar finale seisoen van liefde en lewe. Haar prioriteit is haar man Pieter. Sy is toegewyd en gaan haar gawes met veral vroue deel. Tania Delport se G-I-L in die nag het L-I-G in die dag geword want God is Liefde. Haar lewe het vlerke gekry. Dis tyd vir joune! Besoek gerus haar web tuiste https://eet8eet.co.za