Nie uit nie!

Ek was 13 jaar oud met een groot droom in my hart. Om vir die Suid-Afrikaanse krieketspan te speel. Plakkate van oud-krieketsterre het die muurruimte van my slaapkamer van bo tot onder bedek.

Daar was baie uitdagings langs die pad. Nadat ek dit suksesvol tot op eersteklas-krieket in Suid-Afrika gemaak het, was ek een van die gelukkiges om die kans te kry om op 24-jarige ouderdom landkrieket vir Northamptonshire as die oorsese speler te speel. Dit word gewoonlik uitgesit vir die grootste name in die wêreld, spelers soos Shane Warne, Jacques Kallis, ens.

Ek het twee weke voor ons eerste wedstryd daar aangekom. Jonk en baie opgewonde oor hierdie enorme geleentheid! Gedurende die oefening het ek geduik om ‘n bal te keer en swaar op my regter skouer geland. Die val het veroorskaak dat ‘n besering van vier jaar tevore weer opvlam. Ek kon nie my arm bo my kop lig nie en nog minder kon ek boul.

Oor die volgende 10 dae het ek intense fisioterapie gehad met ons voltydse fisioterapeut. Die teleurstelling was groot, maar ek het vasgehou aan die vaste versekering dat ek nie na Engeland gekom het, net om beseer te word en weer terug te vlieg nie.

My afrigter van destyds het voorgestel dat ons die oggend van die eerste wedstryd teen Lancashire ‘n finale fiksheidsassessering doen. Ek onthou die aand voor die spel. Ek het Bybelstudie soos gewoonlik gedoen. Ek kon God se teenwoordigheid op ‘n dinamiese wyse voel. Ek onthou hoe ek Hom gevra het om my skouer te genees. Ek het geglo en nie verder daaraan gedink nie.

Die volgende oggend het ek vir die eerste keer die nuwe klere aangetrek. Op die veld gestap en geglo vir ‘n wonderwerk. Net die dag vantevore was my skouer nog baie seer. Ek het die eerste opwarmbal geboul.. Geen pyn nie! Tot vandag toe het ek geen pyn nie.

Ek het in 2004 ‘n fantastiese debuut en rekord seisoen met Northamptonshire gehad! Ek weet dit was ‘n bonatuurlike deurbraak!

Jou drome mag dalk onmoontlik lyk. Maar net soos die Here sy vloed van genesing deur my skouer laat vloei het, kan Hy ook deurbreek vir jou. Soos ‘n vloed kan Sy guns jou inhaal en bespoedig dit waarvoor jy vertrou.

Wanneer die teëstander sê, “Jy is uit!”, kom die Here in soos ’n opgedamde vloed en dryf jou vinniger vorentoe.

Soos ’n saamgeperste stroom, deur die Heilige Gees aangeblaas, stroom Hy deur jou lewe en ‘n besigheidskollega gee aan jou ’n geleentheid wat jou 20 jaar sou neem om te bereik.

Wanneer hierdie rivier van die Here, jou kind wat sukkel om te praat in besit neem, vloei sy woorde soos vars waterstrome.

Ons geloof raak die hart van die Vader en Hy sal geen goeie ding van ons weerhou nie! Ek wil jou aanmoedig. Staan elke oggend op en dank God vir die guns waarmee Hy jou lewe vloed. Stap hierdie dag binne met ‘n verwagting vir dit wat net die Here kan doen!

Vorige artikelWat voer jy jou kinders?
Volgende artikelJy’s OK, Hy WEET…
Blogger - Johann Louw
“Ek is 'n entoesiastiese mens wat groot droom en hard werk om die drome te verwesenlik. Ek probeer so ver moontlik glo soos 'n kind en nie te tegnies raak oor dinge wat dalk moeilik is om te begryp nie. Tog is ek dankbaar deur my ervaring as professionele krieket speler wat wereld wyd kon speel vir 15 jaar om geseën te wees met die gawe van onderskeid (decernment). Ek is tans besig met drie projekte, een is infrastruktuur ontwikkeling vir 'n Oostenrykse maatskappy waarmee ek glo ons 'n groot verskil in die Suid Afrikaanse ekonomie kan maak veral in die Klein tot Medium grote besigheids sektor. Ek en 'n vriend is ook die eienaars van 'n tegnologiese gedrewe besigheid genaamd snappistore.com. Dan is ek baie passievol om 'n verskil te maak en die Here het op my hart gele om deur my kontakte wat ek met die sport gemaak het uit te reik om in Suid Afrika hoop te gee en dit het die gedagte #we_r_thechange na vore gebring.