Niemand misbruik my ooit weer nie

28454

“Jare lank is ek in ’n verhouding misbruik, maar vandag weet ek my eerste verantwoordelikheid is om na myself om te sien.” ‒ MONIQUE STEYN

Dit was wéér ’n laat aand, nadat ek van ’n konsert by die huis gekom het. Hoe sal hy vanaand wees?

Die een oomblik is hy kalm, toegewyd en selfs sjarmant. Die volgende heeltemal die teenoorgestelde. Sy drinkery was altyd in die geheim.

Dis weer só. Hy is kort van draad en gooi goed in die huis rond omdat hy nie sy sin kry nie. Beledigings is nou die norm. Ek is skynbaar onnosel, nutteloos en talentloos. Die sterk band met my ouers en sussie is óók ’n probleem. Hoekom is hy nie die belangrikste nie?

Alles is my skuld!

Hy het dit altyd ontken, want hy kon dit nie onthou nie. Sy naaste mense wou my nooit glo nie. Professionele hulp was buite die kwessie. Volgens hom was daar geen probleem nie.

As ek net vasbyt, vir hom liefde gee, geduld wys. Hy kan dit mos nie help nie? Môre is hy weer sy ou self, dan probeer ons van voor af…

Dit het erger geword. Breekpunt was naby. Vriendinne het my vertel van vreemde boodskappe wat hy in die nag vir hulle stuur, dinge wat hulle ongemaklik maak. Hulle was bang vir hom. Ek was ook onveilig naby hom!

Ek is ewig dankbaar vir vriende se eerlikheid. Ook familie se bystand met die besluit om weg te kom.

’n Mens glo so lank dat jy ’n totale mislukking is omdat jy nie die situasie kon red nie. Selfs dat jy dit verdien. My ouers se stemme was hoorbare gedagtes. Hulle was die beste voorbeeld van ’n ideale verhouding met wedersydse respek.

Ek het my eendag afgevra: Sal jy sy optrede teenoor jou toelaat met hulle in dieselfde vertrek? Sal jy ook toelaat dat hy voor jou ouers so met jou praat, jou fisies seermaak en dreig? Die antwoord was ’n baie duidelike néé!

Dit was tyd om my krag en waardigheid weer in die oë te kyk. Dit het durf gevat om te erken die verhouding was ’n doodloopstraat. Ek het voortdurend met skuldgevoelens geworstel, maar die verligting toe ek uitstap, was baie groter.

Daar is niks fout daarmee om jouself eerste te stel nie. Om streng met myself te wees was normaal. Daarom was dit maklik vir iemand om ’n houvas op my te kry. Die lelike goed oor myself was maklik om te glo…

Tot die Here my eendag in die geestespieël laat kyk het en my gewys het wat Hy sien. Hy het my oortuig. Dis die regte ding om myself my prioriteit te maak.

As iemand vir jou wys wie hulle is, glo hulle. Wanneer jy in die spieël kyk, moet jy lief wees vir wie jy daar sien. Wees dapper, kyk mooi na die gawe wat jy is. Daar is net één van jou in hierdie wêreld. Doen wat jy moet, maar moet nie ’n oomblik langer bly nie.

Familie en vriende het nooit gesê: “Ek het jou mos gesê” nie, al was hulle waarskuwings heelpad daar. Onvoorwaardelike ondersteuning het vandag nuwe betekenis gekry.

Ek is spyt oor niks. En hulle almal, selfs dié wat nie meer naby is nie, het my gedra en gemaak wie ek vandag is.