Niemand word oornag ryk nie

1206

Rykdom word nie oornag opgebou nie, dit neem tyd. Die eienaars van Nando’s sê nie verniet dit het hulle 16 jaar geneem om ’n oornagsukses te word nie!

’n Belegging is doodeenvoudig iets waarin jy bates belê. Die doel is om ’n droom te verwesenlik, byvoorbeeld ’n oorsese reis, universiteitstudie of voorsiening vir aftrede. ’n Mens kan uit verskillende beleggingsmoontlikhede kies, soos eiendomme, effektetrusts, staatseffekte, geldmarkte of die aandelemark.

Dit is natuurlik ’n aaneenlopende proses wat eers sal stop as jy finansiële onafhanklikheid en aftrede bereik het. As jou inkomste tot die dag van jou dood instroom, kan jy ’n sorgvrye lewe lei en ’n stewige nalatenskap vir jou geliefdes verseker.

Vermy opsies wat te goed klink om waar te wees

Beleggings hoef nie altyd duisende rande te bedra nie. Jy kan klein begin. As jy begin geld wegsit, wil jy tog die waarborg hê dat jou geld gaan groei. Dit is ongelukkig waar dat baie mense in slaggate trap omdat hulle buitensporige opbrengste najaag met beloftes van 20% en meer. Wees gewaarsku, jy staan ’n groot kans om al jou kapitaal te verloor. As iets te goed is om waar te wees, dan is dit heel waarskynlik die geval.

Vra ’n kenner se advies in verband met jou geldsake. Soek ’n betroubare finansiële raadgewer wat die dinamika van jou beleggings verstaan, of jou uitgevra het oor die drome wat jy waar wil maak.

Ons het almal al ’n krisis beleef. Die meeste noodgevalle het iets met geld te doen. Onthou, die vraag is nie of daar ’n noodgeval sal wees nie, maar wanneer dit sal gebeur. Maak seker jy bou ’n noodfonds op vir die gebeurtenisse. Jy kan dit dan gebruik as jou motor onklaar raak of die huis se dak begin lek.

As ’n reël moet jou noodfonds groot genoeg wees om al jou uitgawes vir drie tot ses maande te dek, sonder dat jy ’n enkele sent verdien. Dit sal natuurlik van jou leefstyl en situasie afhang. As jy die broodwinner van ’n gesin is, sal die bedrag baie groter wees as wanneer jy enkellopend is.

Gebruik jou tyd en kweek die gewoonte om te spaar

Jy moet ook bepaal watter droom jy wil najaag en wat dit gaan kos. As jy byvoorbeeld oor vyf jaar op ’n oorsese reis wil gaan en jy weet dat dit jou omtrent R50 000 gaan kos, sal jy R10 000 ’n jaar moet spaar. Dit is ongeveer R750 ’n maand vir die volgende vyf jaar. Wees realisties of jy in ’n posisie is om daardie bedrag opsy te sit. Tien persent van jou netto inkomste elke maand is ’n goeie begin. As jy meer kan spaar, is dit wonderlik.

As jy ’n vyfjaarplan het, kan jy byvoorbeeld in die aandelemark begin belê, maar moet dit nie self probeer doen as jy nie ervaring of kundigheid op die gebied het nie. Begin deur eers meer daaroor te lees. Jy kan nooit die verantwoordelikheid vir jou finansies geheel en al op iemand anders se skouers plaas nie.

As jy kontant wil belê, sal dit in die vorm van ’n geldmarkfonds wees, waar jy opbrengs verdien as jy dit vir ’n lang termyn vas belê. Daar is ’n paar dinge wat jou beleggingsplan beïnvloed: hoe lank jy het om te spaar, waarvoor jy spaar, en wat die risiko’s is wat jy bereid is om te loop. Hoe langer die termyn van jou belegging, hoe hoër die risiko.

Net Lotto-wenners word oornag ryk

Besluit vandag wat jy wil bereik, hoeveel tyd jy het om daarvoor te spaar en hoeveel jy min of meer maandeliks moet begin spaar. Ek het agtergekom baie mense soek deur te kyk waar die hoogste opbrengs lê wat hulle kan kry, en belê dan sonder om aan die risiko’s te dink.

Die waarheid is: Hoe hoër jou opbrengs, hoe groter die risiko dat jy jou kapitaal kan verloor. Sê vandag ja vir minder spandeer as wat jy verdien; dink voor jy koop en beleggings doen. Doen navorsing om jou belegging so veilig moontlik te hou en maak seker jy verstaan die risiko’s.

Onthou, risikovrye beleggings gaan jou nie oornag ’n miljoenêr maak nie!

Wouter Snyman, attooh!

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Wouter.