Niks hou my terug nie

0
1247

Die aktrise, aanbieder en sangeres Nadia Beukes se lewe is besig om ’n nuwe, opwindende seisoen binne te gaan – een wat haar daaraan herinner om nooit weer haarself te vergeet nie.

’n Skoolvriendin het haar nou die dag uit die bloute gebel. “Kom ons gaan drink een of ander tyd koffie.”

Met die groetslag sit sy ’n boks op die tafel neer. Mooi toegedraai, met ’n parmantige geel lint om.

“Geel, omdat dit die kleur is wat my aan jou laat dink. Aan vreugde en aan hoop,” verduidelik die vriendin.

Nadia het die boks versigtig oopgemaak en toe breed geglimlag. Binne-in was ’n klompie lekker herinneringe aan lank, lank gelede. Sy het die artikels een vir een uitgehaal en weer onthou…

’n Briefie in geheime skrif wat die twee vir mekaar geskryf het. Sjokolade met ’n blink geel omhulsel, omdat Nadia van ’n bietjie ekstra sprankeling hou. Blomme-goed, want vrolike blomme soos magrietjies was toe al een van haar groot liefdes, en ’n gunstelinglyfsproei, Charlie Sunshine, waarsonder sy nooit ’n skooldag sou aanpak nie. Ook ’n potjie glitter, waarmee sy altyd glans aan die lewe wou gee.

Dit is alles dinge wat toe al iets oor Nadia se menswees verklap het. ’n Sonskynmeisie wat vreugde najaag, wat glo dat drome waar kan word.

“Moet nooit vergeet wie jy is nie,” het die vriendin haar so tussendeur die koffiedrinkery herinner. “Ek voel die Here wil jou terugroep na jou eerste liefde toe… na wie Hy jou gemaak het om te wees. As jy in Hom gegrond is, sal die res vanself in plek val.”

Vir die seisoen waarin sy haar nou bevind, was dit presies wat Nadia moes hoor.

Toe ek klein was, het my ma my gevra: “Wat wil jy eendag word, Niets?”

“’n Prinses,” het ek blykbaar sonder skroom geantwoord.

“Nou wat doen ’n prinses?” wou Ma weet.

“Sy trek mooi aan en waai vir die mense.” Hoe dan anders?

Dit klink miskien oppervlakkig, maar in hierdie onskuldige antwoord was my meisiehart versluier.

Vandat ek kan onthou, wou ek in die kollig wees, in ’n invloedryke posisie van waar ek mense kon inspireer. ’n Fasiliteerder van hoop – dís wat ek poog om te wees.

Die lewenspad wat ek al gestap het, het my oor berge van vreugde, maar ook deur diep dale van hartseer, depressie en alleenwees gelei. Die verlies in myself was die ergste.

Dit het my ’n belangrike les geleer: Dinge werk nie altyd uit soos jy beplan nie, maar daar is ’n plan. In the end it will be okay, and if it’s not okay, it’s not the end – soos hulle in die fliek The Best Exotic Marigold Hotel sê.

Partykeer is die lewe sleg, en ek dink nie noodwendig daar is altyd ’n gelukkige einde vir almal en vir elke situasie nie. Ons het egter almal gelukkige oomblikke. Ons moet op die uitkyk wees daarvoor, daaraan vashou en toelaat dat dit ons deurtrek na die volgende oomblik van geluk.

In die seisoen waarin ek nou is, is daar ’n klomp vreugdes en opwinding, maar ook groot onsekerheid.

Ek gaan later vanjaar ma word – en dis absoluut fantasties, maar ook met tye vreesaanjaend. Dink maar aan wanneer laas jy iets vir die heel eerste keer gedoen het.

Daar is talle vrae, opsies en beplanning, en deur dit alles, die groot uitdaging om nie myself in die proses te verloor nie. Nie weer nie.

Daar was tye in my lewe dat ek nie meer geweet het wie ek was nie. Die terapeut wat my destyds ondersteun het, het my voor ’n spieël laat staan en gevra: “Kyk vir jouself. Wat sien jy?” Ek het ge-um en ge-aa en toe met pynlike eerlikheid geantwoord: “Ek sien iemand wat ek glad nie herken nie. Ek weet nie meer wie hierdie mens is nie.”

Haar volgende vraag was: “Wie wil jy graag in die spieël sien?”

Sy het my geleer dat dit wat jy oor jouself dink – jou innerlike gedagtes – uiteindelik jou waarheid word. As jy glo: Ek is alleen, oorgewig, nie goed genoeg nie, niks werk vir my uit nie, is die kans groot dat dit die lewe is wat jy sal leef.

Maar as jy kan omdraai en sê: Goed, ek is alleen, maar ek wil graag iemand in my lewe hê. Ek wil gesonder leef, gelukkig in myself wees, die geld verdien wat ek werd is… As jy jou gedagtes verander, is dit asof jou lewe ook verander. Toe ek eers anders begin dink het oor myself, het ek ander besluite geneem en ’n pad begin stap om die Nadia te word wat ek graag in die spieël wou sien. Ek wou selfvertroue sien. Iemand wat gesond leef. ’n Vrou wat gelukkig is. Wat hoop in ander inspireer en haar passie uitleef.

Dit staan duidelik uit. Daar is iets omtrent mense wat hulle passie uitleef. Dit blink in hulle oë. Ek het dit al met TV-onderhoude gesien. Die kameras en ligte maak die mense erg senuweeagtig, maar as jy hulle net kan kry om te praat oor dit waarin hulle glo en waarvoor hulle lief is, begin hulle oë blink.

Ek wil graag daardie blinkheid in ander mense se oë aansteek, in my eie ook. Daardie innerlike trots op wie en wat jy is. Dis ’n nederige, dankbare tipe trots wat niks met selfvoldaanheid te doen het nie.

By die vroue-oggende waar ek my “Paaie van Hoop”-praatjie aanbied, sê ek graag vir die mense: “Julle almal sit nou hier, maar vanoggend moes julle waarskynlik skarrel om die huis aan die kant te maak, skottelgoed te was, kos te maak of dalk te stoei om die kinders onder beheer te kry. Dink net wat jy alles vermag het om tot hier te kom, en dan lyk jy boonop mooi ook. Klap hande vir jouself!”

Dis ’n plesier om te sien hoe die vroue klap en glimlag van lekkerte, want hulle besef: “Sjoe, ja, ek is toe nie so bad nie.”

Natuurlik nie! Net jammer ons vergeet dit soms.

Ek het lank na my verlore identiteit gesoek, omdat ek nie daardie goed in my lewe hanteer het nie. ’n Mens is mos maar geneig om net aan te ploeter.

Tot die lewe jou die dag tot stilstand ruk. Dit het met my gebeur toe ek een oggend uit die bed klim en nie kon loop nie. My een been wou nie beweeg nie. Die skrik was groot.

Die ortopeed het vasgestel dat dit ’n neurologiese probleem was. ’n Rugoperasie was onvermydelik.

Die tydsberekening kon nie slegter gewees het nie. Groot projekte waarvan ek nog altyd gedroom het, was binne my bereik, maar daar lê ek toe, plat op my rug. Met baie tyd om te dink.

Grappenderwys gesê, ek was nie al een wat tyd nodig gehad het om uit te pluis wie ek is nie. Die vrou wat langs my gelê het, met verbande om haar kop, het my op en af gekyk en gesê: “Jy laat my vreeslik baie aan daardie Nadia Beukes-meisie dink.”

“Ek ís sy,” wou ek haar vermoedens bevestig.

“Hû-û,” het sy kop geskud. “Nee, jy is nie.”

Ek het nie krag gehad om te stry nie.

Die goeie in hierdie slegte situasie was dat ek daar in die hospitaal weer besef het hoe belangrik liefde en ondersteuning is. Baie mense het gewys hulle is lief vir my. Kuiers, blomme, boodskappe. Ek was verstom en het net gevoel: “Wow, ek het niks van my kant af gedoen om hierdie verhoudings te verdien nie.”

Dit het my opnuut laat verstaan dat jy nie alleen deur jou uitdagings hoef te worstel nie, en dit gee jou ’n vegtersgees. Al wat jy moet doen, is om op te staan en aan te gaan. Get up, dress up and show up.

Dis presies wat ek gedoen het – en so het die drome wat op daardie tydstip binne my bereik was, steeds waar geword.

Vandag praat ek graag van die bakens in jou lewe – die mense en dinge wat opdaag as jy deur moeilike tye stoei. Soms is dit daardie innerlike hoop en geloof, ’n uithou en aanhou binne-in jou, wat jou aanspoor om vas te byt, want jy weet dit gaan iewers vorentoe beter gaan. Ander kere is dit die mense of geleenthede aan die buitekant wat jou help om deur te druk.

Oprah het ’n mooi aanhaling wat sê: “Ons is nie ons foute nie. Ons is ons geleenthede.” Ons foute vorm ons, maar ons moenie toelaat dit die geleenthede oorskadu nie.

Vir my is dit ’n ingesteldheid: om oop te wees vir hierdie bakens in jou situasie. Ek is altyd op die uitkyk daarvoor. Fyn ingestel om dit nie te mis nie. Wanneer ek raadop voel of moed wil verloor, begin ek vrae vra. En die vrae lei gewoonlik tot antwoorde.

’n Stukkie goeie raad wat ek oor die jare gekry het, is dat ’n mens baie versigtig moet wees met wie jy in jou binnekring toelaat. Hulle sê mos jy word soos die vyf mense in wie se geselskap

jy die meeste is. Ek het geleer: Kies hulle versigtig. Kies mense wat deur goeie en moeilike tye by jou sal staan, wat bakens van hoop in jou lewe kan wees.

Daar is talle voorbeelde van mense wat op die verkeerde plekke hulp en antwoorde gaan soek. Soos Iva, my karakter in Getroud met rugby. Sy is besig om heeltemal verslaaf te raak aan pynpille. Terwyl ek die teks leer, voel ek gefrustreerd en jammer vir haar – ’n vriendin met wie ek nou al jare ’n pad stap. Dit skeur my emosioneel in twee, want ek kan sien hoe sy die verkeerde keuses maak, maar daar is niks wat ek daaraan kan doen nie.

Keuses… dis iets wat ons almal dwarsdeur ons lewens moet maak. Die kernbeginsel is dat wanneer jy die besluit geneem het, jy daarby moet kan berus.

Dit bring my terug na die seisoen waarin ek nou is. Dit was ’n keuse om vir jare al my tyd en energie in my loopbaan te stort. Vir lank was dit goed so, want ek is mal oor my werk. Dis my kos, my asem. In sekere opsigte was dit soos my kind, my alles. Maar nou het ek my voete in die bedryf gevind en daardie “kind” het ’n tiener geword.

Vir die eerste keer in my lewe het ek ’n mate van balans gevind. Ek het altyd net op een ding gefokus – óf net ’n verhouding, óf net werk. Nou is ek op die stadium dat ek voel ek kan werk, in ’n verhouding wees en ’n ma wees. Dit is alles stukkies wat saam ’n mooi mosaïek vorm, en dis ’n prentjie waarvan ek hou: die idee dat daar plek is vir ’n verlenging van myself, ’n nuwe toevoegsel tot my lewe. Ek en my man, David, word letterlik méér.

David het ’n groot rol gespeel om my in hierdie nuwe fase in te lei.

Dis snaaks hoe ons as jong meisies lysies maak oor hoe ons “droomman” moet lyk. Hy moet bruin hare hê, blou oë… maar wat van karaktereienskappe soos dat hy my spanmaat moet wees? My beskermer, ’n planmaker? Getrou, eerlik en ’n harde werker?

David is al hierdie dinge, en baie meer.

Ek het hom ontmoet toe ek uiteindelik op ’n goeie plek in my lewe was. Ek was alleen, maar gelukkig en heel oukei met myself. Ek het nie iemand nodig gehad om my te vervul nie.

Dis dalk wat hy in my raakgesien het en hoekom hy my gekies het.

Hy is ’n oulike ou, maar nie eintlik my tipe nie, het ek gedink. Ek beweeg gewoonlik in kunstenaarskringe en hy kom uit die korporatiewe wêreld. Ons het niks van mekaar se wêrelde geweet nie.

Na ’n paar keer se uitgaan het hy op ’n stadium net aangeneem dat ek sy meisie is.

“Nee, jy moet my eers vra,” het ek teëgekap.

“OK, sal jy my meisie wees?” Baie onseremonieel.

Gelukkig het hy vir alles vergoed toe ons baie romanties in die Franse Alpe verloof geraak het. Dit was absoluut ongelooflik! Ek noem daardie trippie my Bridget Jones-oomblik. Ek het ’n pofferige ski-pak by iemand geleen, en so gelag en gehuil van die gesukkel met die ski-ery dat my masker die hele tyd toegewasem was… en nog steeds het hy my gevra om te trou.

Ons vul mekaar eintlik baie goed aan. Ek is ’n gevoelsmens en jy hoor dit in hoe ek praat: “Ek voel nie gemaklik hieroor nie…” My man is weer die denker wat sal sê: “Ek dink dit of ek dink dat…”

So skuur ’n mens in ’n verhouding naderhand aan mekaar af, maar ek reken die geheim is dat jy steeds jouself in hierdie prentjie moet behou. Skaaf aan mekaar, maar bly jou eie, unieke mens.

Dit was ’n verrassing toe David my nou die dag hieraan herinner het. “Ek is so opgewonde oor ons baba,” het hy gesê, “want ons is albei sulke sterk individue…”

Wat ’n voorreg om te besef: Sjoe, hy sien my nog as ’n individu.

Dis jammer ek vergeet dikwels om myself ook so te sien. As ek ’n rol vertolk, word dele van daardie karakter deel van my, en gee ek ook iets van myself in die proses prys. By die huis, weer, is ek iemand se vrou, en nou gaan ek ’n nuwe mensie se ma word.

Binne-in al hierdie rolle wil, en móét, ek steeds onthou wie die vrou in die spieël is. Swakhede en al. Ek wil haar nooit weer verloor nie.

Daar is paar aspekte van my menswees waaraan ek nog elke dag hard moet werk. Sensitiewe dromers soos ek het die geneigdheid om soms teleurgestel te voel in die hoë verwagtings wat ons vir onsself skep. Ek is haastig dat goed moet uitwerk, dat my drome moet gebeur. Dit maak my soms ongeduldig.

Verder is ek ook verskriklik taakgerig. Ek is so ingestel op die eindbestemming dat ek vergeet om die reis te geniet – al die mooi blommetjies langs die pad.

Ek hou van beplan, tot in die fynste besonderhede. Vra maar vir David. Met ons troue wou ek ’n kruisie op die vloer in die kerk plak om presies aan te dui waar hy moet staan, want van daardie hoek af sou die foto’s die beste lyk. Hy het my verseker hy sal op die regte plek staan, sonder ’n kruisie.

Ek sukkel as dinge nie uitwerk soos ek gedink het dit moet nie, en ai, die hardkoppigheid wat my al van kleins af volg. As ek eers ’n idee in my kop het, is dit bitter moeilik om daarvan afstand te doen. Maar ek werk aan hierdie dinge, en soos ek kan aflei, gaan my nuwe fase as ma my baie vinnig tot ’n paar verrassende insigte bring.

Ek voel ’n klein bietjie benoud daaroor, maar ek kan nie wag nie.

Toe my skoolvriendin die mooi toegedraaide boks voor my neergesit het, het ek opnuut besef: Nadia, jy het álles wat jy nodig het om hierdie nuwe tydperk ’n sukses te maak. Leef naby aan God, bly getrou aan jouself en koester die mense wat jou bystaan en ondersteun: die familie, vriende en die lede van die publiek wat nou al so lank my lewensreis met my deel. Dit is ’n voorreg om hulle by hierdie nuwe wending in my pad in te sluit.

Op my foon staan daar geskryf: Be the girl who decided to go for it.

Vir ’n beheervraat soos ek is dit nogal gewigtige woorde. Ek wil die meisie wees wat ja sê vir die lewe, al voel ek soms bang en onseker.

Ek is opgewonde oor wie, wat en waar ek nou is, en reg vir al die kronkels wat die pad vorentoe ook al mag inhou.

Dít inspireer my

  1. Ek raak opgewonde oor…

goed wat blink, veral iets wat besaai is met glitter. Ook blomme van my man af en enige reis, veral na die buiteland. Dit laat my voel soos ’n kind die aand voor Kersfees.

  1. My ideale dag is…

’n produktiewe werksdag. Ek hou daarvan om besig te bly en met my talente te woeker. Ook om daarna rustig by die huis in ’n borrelbad te ontspan en TV te kyk voor ek gaan slaap.

  1. Ek is gelukkig as…

ek my drome, doelwitte of selfs net die dinge op my daaglikse doenlysie kan afmerk. Dit maak ook my hart bly as ’n saadjie of plantjie wat ek geplant het, groei en blom.

  1. My wildste droom is om…

eendag as ’n Suid-Afrikaanse aktrise op internasionale vlak naam te maak en saam met my man by bekende filmtoekennings, soos die Oscars, in ’n asemrowende aandrok op die rooi tapyt te verskyn.

  1. Ek word geïnspireer deur…

my man, familie, vriende, kollegas en selfs die karakters wat ek vertolk. Mariëtte Loubser sê nou die dag in ’n praatjie: “Soek, sien en roep die goud. In ander se lewens en ook in jou eie.”

  1. As ek nie werk nie, doen ek…

papierwerk! Ek het altyd ’n duisend administratiewe takies om af te handel. Daar moet ook tyd gemaak word vir oefen, kruideniersware koop en fliek. En in my af tye laat ek my hare en vel “rus”.

  1. My gunstelingplek op aarde is…

in ’n vliegtuig op pad êrens heen, met my man langs my. Daar is iets omtrent ’n vliegtuig wat my laat voel ek is nader aan ons Skepper. Miskien is dit omdat jy absoluut beheer oorgee.

  1. Ek staan op in die oggend…

soms weens werksverpligtinge, ander kere bloot omdat ek dankbaar is vir nog ’n nuwe, avontuurlike dag. Binnekort gaan ek opstaan vir ons kleinding, maar hopelik sal my man regstaan met ’n koppie rooibostee.