Nog ’n Bybelverhaal sien eersdaags die verhooglig …

0
17
jesus_musiekblyspel.png

Die verhoogproduksies Ester en Dawid het gehore op hul voete gehad. Johan Scholtz het dus besluit om ook Jesus se lewe hier op aarde só vas te vang. Ons het meer oor hierdie musiekblyspel gaan uitvind …

Almal was in rep en roer toe die Christelike musiekblyspel Ester die lig sien. Na afloop van die produksie se sukses is die storie vanDawid ook later die jaar in die vorm van ’n musiekblyspel aangebied. Dit was nét so ’n groot treffer onder gehore regoor die land. Johan Scholtz het toe besluit dit is tyd dat Jesus se storie ook op die verhoog vertel moet word en hy het aan die musiekblyspel Jesus begin skryf.

Nou het ’n droom ’n werklikheid geword en vanaf 27 April word hierdie aangrypende storie van Jesus op die verhoog vertel. Soné Combrinck produksies en kanselteater is aanboord as vervaardigers vir hierdie verhoogproduksie terwyl Janine Neethling sorg vir die musiek. Dit beloof om die musiekblyspel van die jaar te wees.

Talle bekendes sal ook in Jesus te sien wees soos Heinz Winckler wat die rol van Jesus sal vertolk en Robbie Wessels as Johannes die Doper. “Johannes die Doper is ’n Bybelfiguur wat my nog altyd gefassineer het. Omstrede, radikaal, ek kan nie wag nie,” was Robbie se woorde.

Woensdagoggend (3 April) was daar ’n groot opgewondenheid in die lug met die afskop van die amptelike repetisies. “ Dit gaan ’n teatrale, musikale skouspel wees. Dié produksie sal gehore se sintuie oorweldig en weer opnuut laat besef wat Hy vir ons kom doen het,” sê regie en teksskrywer Johan Scholtz. .

Daar is ook ’n nuwe TV advertensie op pad en die Jesus – die Musiekblyspel facebookblad is ook propvol agter die skerms video’s, foto’s en verskeie kompetisies. .
As jy meer wil weet oor hoe om plakkate vir jou kerk/skool/werk te bekom of oor groepbesprekings en afslag-aanbiedings, stuur gerus ’n e-pos aan Elanie by info@jesusmusiekblyspel.co.za. .
Bespreek jou kaartjie nou vir Jesus – die musiekblyspel by www.jesusmusiekblyspel.co.za of by Computicket. Hierdie een kan jy eenvoudig nie misloop nie!