Nog ’n dag

Die afsterwe van ‘n persoon gaan gepaard met hartseer, soveel te meer hoe nader ons aan die persoon was en hoe langer ons hom/haar geken het. Ons gaan hom/haar mis. Sommige mense het die vermoeë om diep spore in ons harte te trap.  

‘n Begrafnisdiens is egter ook ‘n geleentheid om, te midde van die hartseer, saam met familie, vriende en kollegas die lewe van die afgestorwene te vier. Sy/Haar hoogtepunte, besondere karaktereienskappe, hoe hy/sy ander se lewens aangeraak het, ensomeer. Deesdae word daar tydens die diens dan ook fotos van die geliefde en sy/haar gesin, vakansietye saam, kleinkinders, vriende en selfs geliefde troeteldiere op ‘n grootskerm vertoon. Die spreker/s by die diens sal selfs ‘n staaltjie oor die afgestorwene deel wat hom/haar altyd sal bybly. 

Ek het vanjaar twee begrafnisdienste bygewoon. Om na die spreker/s tydens die begrafnisdiens te luister en na die fotos van die afgestorwene te kyk, bring ook ‘n mate van introspeksie tot gevolg. ‘n Geleentheid om jou lewenswedloop te oordink en aspekte aan te spreek wat jy voel aandag nodig het.

‘n Begrafnisdiens is ook ‘n geleendheid waar jy besef dat daardie spesifieke dag nie jou laaste dag op aarde is nie – ek is nog hier. Alhoewel ek geen waarborg het nie, het ek, deur genade, waarskynlik nog ‘n dag oor.  

Ek het nog ‘n dag beskikbaar om na die voëls se vroegoggend sang in die tuin en die tannie oorkant die straat se hoenders te luister. Te kyk hoe die hommelbye om die struik met die pers blommetjies vlieg, die verandering in die seisoen te sien, dankbaar te wees vir my intellektuele en fisiese vermoeëns.    

Ek het nog ‘n geleentheid om in die verhoudings te deponeer van hulle wie steeds hier is. Nog ‘n geleentheid om te bid, vergewe, vergeet, lag, dankbaar wees, komplimenteer, aanmoedig, bemoedig en lief te hê.  Myself ook.

Ek kan niks doen aan die jare wat verbygegaan het nie, maar ek kan jubel oor die dae en jare wat nog voorlê en elke dag dankbaar en voluit leef saam met die geliefdes en vriende wat God in my lewe geplaas het.  

Mag my lewe vandag, môre en elke dag ‘n lewe tot Sy eer en glorie wees.