Nog steeds positief!

0
16
hans.png

In Vrydag se Beeld is daar ‘n beriggie oor Hans Hattingh. Hy het ‘n klompie jare gelede diabetes gekry. In 2001 is sy een been weens gangreen geamputeer. In 2005 het hy beroerte gekry wat veroorsaak het dat die regterkant van sy lyf verlam is. Hy praat ook baie moeilik vanweë die verlamming. In 2007 is sy ander been afgesit. Hy ry nou in ‘n elektriese rolstoel en is ‘n bekende gesig in Vereeniging. Verlede Woensdag het ‘n bakkie sy rolstoel raakgery en die bestuurder het weggejaag. Twee van Hans se nekwerwels is gebreek en sy kop is oopgestamp.

Die berig vervolg so: Beeld het Hattingh gevra hoe dit gaan en of hy mooi versorg word en sy antwoord was: Ons kla nie. Baie goed. En dan sluit die berig soos volg af: Sy rolstoel is afgeskryf. Maar hy bly positief, deur alles.

As ek dit lees, word ek skaam en het ek nie die vrymoedigheid om enigsins verder te kla oor my eie situasie nie! ‘n Mens kan lank gesels oor lyding, maar ek weet net dat die lewe vol voorbeelde is van mense wat daarin slaag om pyn en seerkry te oorwin.