Nogstans sal ek jubel

Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie…

Soos wanneer ‘n motor teen 100km per uur in ‘n betonmuur vasry. Jy voel hoe breek jou bene, hoe iets jou bors vasdruk, hoe die die bloed jou liggaam verlaat. Dit is hoe dit voel as jy die finale handtekening op ‘n egskeidingsdokument plaas, na ‘n sonarskerm kyk en jou baba se hart het opgehou klop, met al jou energie, hart en siel aan ‘n projek werk en die resultate nie in jou guns tel nie. Teleurstelling, die een ding wat ons nie kan vermy nie want, een of ander tyd gaan dit ‘n verskyning in jou lewe maak.

Ek glo dat ons nie beheer het oor alles wat met ons gebeur nie, maar ons het wel beheer oor hoe ons reageer wanneer teleurstelling aan ons hartsdeure kom klop. Josef se kleed was van hom afgeruk en hy was in die donkerste put gegooi. Josef se broers kon sy waardigheid
van hom af wegneem en hom in ‘n tydelike put van depressie gooi maar, hulle kon nooit sy droom, sy doel of visie van hom af wegneem nie.

Soms moet ons eers van ons kleed ontneem word sodat ons kan besef wie ons regtig is. Soms moet ons in die put van omstandighede geplaas word sodat ons kan besef wat ons eintlike doel en visie is en wat regtig belangrik in die lewe is.

Soms moet jy net jouself herinner om asem te haal, een keer op ‘n slag. Jy sien, terwyl daar lug in jou longe is en jou hart nog klop bly jou droom lewend binne-in jou. Terwyl jy jou kop optel en vorentoe kyk word jou visie verbreed, terwyl jy dankbaarheid betoon vir die droom in jou hart word die wonderwerke gebore.

Ja, teleurstelling het aan my deur kom klop maar God het dit wat gestuur was om my te verwoes in seêninge verander.

Soms bot die vyeboom nie, soms is daar geen druiwe aan die wingerde nie, maar niemand kan jou droom steel of dood maak nie. Kies om vandag te jubel oor jou droom, jou visie en jou passie.

*Genesis 50:20
*Habakuk 3:17-18
Foto krediet: Tanja Rootman Photography