Noord-Korea

0
26
oorlog.png

Die Noord-Koreaanse weermag het vandag gesê dat oorlog tussen Noord-Korea en Amerika enige dag kan uitbreek. Hulle dreig Amerika met “gevorderde, kleiner kernaanvalle.” Intussen het Amerika gesê dat hulle hierdie dreigemente ernstig opneem.

Intussen lees ek ook vandag dat Open Doors Organization aangekondig het dat hierdie einste Noord-Korea steeds die land is wat groter vyandigheid as enige ander land teenoor Christene openbaar. Dit is nou reeds die elfde jaar dat Noord-Korea die eerste plek haal op die lys van lande wat vyandig is teenoor Christene. Christene word in Noord-Korea gearresteer, hulle word aangehou, hulle word gemartel, en hulle word selfs in die openbaar tereggestel. Daar is tans 20 miljoen mense in Noord-Korea, en ondanks al die vervolging is daar 400,000 Christene. Ongeveer 25% van hierdie Christene word in strafkampe aangehou.

Dit maak mens nogal skaam as jy daaraan dink dat ons hier in Suid-Afrika met soveel gemak ons geloof in Jesus kan bely, terwyl ander Christene op hierdie oomblik swaar vervolging ly omdat hulle glo wat ons glo. En dan kom die vraag op of ons genoeg bid vir ons broers en susters wat onder sulke omstandighede steeds vashou aan Jesus!

Paulus skryf in 2 Tim 3:12 soos volg: Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word.  Kom ons dink regtig vandag aan hulle wat ‘n baie duurder prys as ons betaal vir hul geloof in Jesus.