Norma Rossouw

0
227

1. Wat is die belangrikste les wat die lewe jou geleer het?

Die belangrikste les wat die lewe my geleer het is dat vandag spesiaal, kosbaar en ʼn geskenk uit God se hand is. Ons wil altyd ons spesiale klere, borde en linne hou vir spesiale okkasies en dan vergeet ons dat vandag spesiaal is. Gebruik jou bestes en leef voluit vandag!

 2. Hoe sal jy graag onthou wil word?

Ek sal graag onthou wil word as ʼn besonderse vrou, ma en dogter vir wie verhoudings belangrik is. Iemand wat ʼn verskil gemaak het, ʼn draer van die Goeie Nuus wat hoop gebring het vir mense. Een wat vir mense ʼn kykie kon gee in hoe God se nuwe wêreld lyk en werk.

3.  Is daar ’n spesifieke Bybelvers waarvolgens jy leef? Wat is dit?

Vir my is dit belangrik dat ek nie net deur die Bybel sal lees nie, maar dat die Bybel deur my sal lees. Dat die hele Bybel my daagliks so sal transformeer dat ek sout en lig in die wêreld kan wees omdat ek weet dat ek net uit genade gered is.

4.  Hoe het jy die struikelblokke in jou pad oorkom?

Ek dink nie dat ek daaroor gekom het nie, maar dat die krag van God my telkens daaroor gedra het. As die struikelblok kom dan hardloop ek na God toe, kruip onder sy vlerk weg tot Sy hartklop my rustig het en uit genade kry Hy my dan oor.

5. Watter drie sleutelwoorde sal jy gebruik om jouself te beskryf?

As ek myself in drie woorde moet opsom sal dit wees. Genade. Vreugde. Gebed. Alles wat ek het en is, is genade. Die Here het vir my geseën met ʼn onuitputbare bron van vreugde wat elke nou en dan in my lag uiting kry. Gebed is die suurstof in my lewe.

6. Wat was die grootste uitdaging waarvoor jy nog te staan gekom het?

Dit voel of ek al hoe meer uit my gemaksone gehaal word en uitgedaag word om die verskil te wees wat ek sou wou sien in ons land. My grootste uitdaging is om weekliks die Woord so verantwoordelik oop te breek dat die Bybel vir mense begin leef in hul eie wêreld.

7. Wie wil jy graag inspireer?

Ek sou graag my kind die meeste wou inspireer om God se droom vir hom te leef en om die beste hy te wees. Daarna wil ek vroue inspireer om te ontdek wie hulle in Christus is en dan te leef as dogters van die Almagtige Koning.

8. Hoe sal jy ’n wonderlike dag by die werk beskryf?

ʼn Wonderlike dag by die werk is vir my om te sien hoe die verlore kind weer hardloop na die arms van hulle Vader of wanneer iemand ontdek dat God hulle waarlik lief het net soos hulle is. Om te sien hoe God steeds wonderwerke doen en gebede verhoor.

9. Wat doen jy as jy nie met werk besig is nie?

My seun is versot op perde. So as ek nie werk nie, is die kans goed dat jy ons iewers by perde sal kry. Alhoewel ek nie self perd ry nie het hierdie besonderse dier diep in my hart kom kruip en is die geleentheid om hulle lief te hê baie terapeuties.

10. Watter dinge wil jy nog doen voor jy doodgaan?

Ek wil my man en kind nog liefde gee. Ek wil tyd spandeer saam my hartsmense. Ek wil soos ʼn breekbare kruik rondbeweeg en God se Goeie Nuus lek oral waar ek kom. Ek wil vir meer mense leer dat as jy in Jesus glo, jy nooit sal doodgaan nie.