Nou dans ek nét vir Hom

0
69
simone_botha.jpg

Simoné Botha (23), Mej. Dowe SA 2012, het al van kleins af geweet haar leefwêreld klink anders as ander mense s’n. Sonder haar gehoorapparaat is dit ’n wêreld van absolute stilte – maar ook een waarin Godgegewe drome bewaarheid word.

Dis openingsaand. Die opwinding van die gehoor in Kaapstad se Baxter-teater is amper tasbaar. Dis my eerste hoofrol vir die Bovim-balletgeselskap. Ek voel ’n bietjie senuweeagtig en moet fyn konsentreer op die klanke wat deur my gehoorapparaat opgevang word. Daarsonder is ek stokdoof. Dáár’s die klank waarvoor ek wag. ’n Harde tromslag … mý beurt om op te gaan … om te doen waarvoor ek gebore is.

My passie vir dans het begin toe ek as tweejarige op my ma, Ines, se skoot in die balletklas gesit het. My ouer sus, Elnette (met dieselfde gehoorgebrek as ek), het met ballet begin en ek wou met alle geweld saamdans. Ek wou glad nie stilsit nie en het heen en weer gewieg, al kon ek nie die musiek hoor nie. Aan die einde van die klas het die balletjuffrou, Natalie Swanepoel, na my ma toe gestap en gesê: “Jou dogtertjie is klein, maar haar hele hart en wese wil op die dansvloer wees. Laat sy maar kom saamdans, al staan sy net agter in die klas.” Dáárdie dag het my reis begin.

Om ballet te doen was lekker, maar dit was deel van ’n vreemde wêreld waar ek niemand kon verstaan nie. Daar was ook min mense wat mý kon verstaan. Op twee jaar was my kogleêre inplanting nog ’n splinternuwe ding om aan gewoond te raak.

Ek was anders, maar dit het my min geskeel. My ouers vertel dat wanneer ons uitgegaan en ek ’n verhoog of platform gesien het, ek dadelik stelling gaan inneem en begin perform het, totaal onbewus van die menigte mense wat my dan dopgehou het. Ek was in my eie wêreld en besig om te doen wat my die heel gelukkigste maak. Dans was vir my soos asemhaal. Dit was vir my ma en pa, Gawie, belangrik dat ek stelselmatig by die normaal horende samelewing moes inpas. Ek het selfs saam met horende kinders skoolgegaan en het nie eens dowe vriende gehad nie. (Dit was eers verlede jaar, toe ek as Mej. Dowe SA gekroon is, dat ek dowe vriende gemaak het).

[Pagebreak] Maar al is ek ook hoe “normaal” of veelsydig grootgemaak, was dit steeds ’n groot uitdaging om my voete as dowe in ’n horende wêreld te vind. Ons het byvoorbeeld bure gehad wat glad nie wou hê dat hulle kinders met ons moes speel nie. As ons in die voortuin gespeel het, het hulle die kinders ingeroep huis toe. Hulle was oningelig en bang dat my doofheid hulle kinders sou aansteek of negatief beïnvloed.

Ek was ses jaar oud toe ek in die eindrondte by ’n kunstefees gedans het. Die beoordelaar moes ’n afdelingswenner kies. Ek het nie gewen nie, maar die volgende dag het my ouers ’n foonoproep van ’n baie emosionele beoordelaar gekry. Sy het gesê dat sy ’n groot fout begaan het. Sy moes tussen my en ’n ander meisie kies as die wenner. Dis toe dat sy die vrou langs haar se opinie vra. Die vrou vertel haar dat ek doof is en dat sy eerder die ander meisie moet laat wen, “aangesien die dowe enetjie dit nooit eendag ver in die danswêreld sal maak nie”. Die beoordelaar het haar raad gevolg, maar het agterna so skuldig oor haar keuse gevoel dat sy besluit het om die prys vir die “regte” meisie te gee.

Selfs vandag nog is die horende wêreld soms ’n uitdaging, al is ek meer gewoond aan mense se opvattings en reaksies. Die meeste normaal-horendes dink dat as hulle hulle monde totaal oorrond, tien keer stadiger en kliphard praat, dowes hulle beter sal verstaan, maar dit is nie die geval nie. Gehoorgestremdes kan oor die algemeen baie goed liplees; en al hoor ons nie alles duidelik nie, kan ons baie dinge uit mense se natuurlike liggaamstaal aflei. My raad aan horende mense is om net normaal te praat en vir die dowe persoon te kyk terwyl jy praat. Dis ook asof mense gehoorgestremdes oor die algemeen as minder intelligent beskou, bloot omdat ons soms moet vra dat iets wat ons nie mooi gehoor het nie, herhaal moet word. As ek terugkyk, besef ek hoeveel moeite my ouers vir my gedoen het. My kinderdae is vol herinneringe aan kinderspeletjies – boomklim, Barbie speel, boek lees … Ek het nie besef my dae verloop anders as ander kinders s’n nie. My ma het allerhande aktiwiteite beplan om in te pas by die gehoor-, spraak- en taaloefeninge wat ons moes doen. Sy het gereeld vir my en Elnette op uitstappies geneem om die leerproses pret te maak. Ons sou tuis iets leer, en dit dan later prakties toepas.

[Pagebreak] Danksy my ouers se manier van opvoeding, het ek as kind ook oorgeloop van selfvertroue. As mense my verkeerd verstaan het, het ek maklik opgemerk: “Mamma, dis nie ék wat sleg praat nie, dis hulle wat nie reg luister nie!”

Ek is grootgemaak met die leuse: Gryp elke geleentheid aan, want jy weet nooit watter deure dit vir jou sal oopmaak nie. Maar ek weet ook dat God van die begin af onteenseglik deel was van elke tree wat ek tot hier gestap het. My gehoorgestremdheid is beslis deel van Sy groter plan met my lewe. Dít het ek opnuut besef toe ek onlangs ervaar het dat Hy vir my sê: “Simoné, jy ken My al jou lewe lank, maar tot dusver het jy net vir jouself geleef. Van nou af gaan jou lewe oor My.” Die skille het van my oë afgeval toe ek besef het dat ek heeltyd nog net vir myself geleef (en gedans) het! Ek het Hom nog altyd aanvaar as my Saligmaker, maar my lewe het nie oor Hom gegaan nie. Van nou af gaan dit anders wees.

Ek het die gevoel gekry dat die Here graag wou hê ek moet in die eerste plek op Hom fokus en tot die verheerliking van Sy Naam dans. Dit het die idee vir ’n professionele Christelike dansgeselskap by my laat posvat, maar ek het lank gebid om seker te maak dis regtig wat God wil hê. Ek het na ’n teken gesoek. Die teken het een aand in ’n vreemde droom na my toe gekom. Dit was ’n droom vol getalle. Toe ek wakker word, het ek dadelik besef dit was ’n boodskap van God af. Die getalle het in plek geval en my na Prediker 3:4 gelei: ’n tyd om te huil, ’n tyd om te lag, ’n tyd om te treur, ’n tyd om van blydskap te dans.

Toe ek dit lees, het ek net gewéét: Die tyd om van blydskap te dans (tot eer van Sy Naam) het aangebreek! Ek beplan om hierdie droom in 2014 ’n werklikheid te begin maak. Die gordyne skuif oop … ek haal diep asem … en voel hoe alle benoudheid wegval toe ek die verhoog betree. Ek is gebore om te dans. Dis my én God se droom. “Dit was ’n lang reis tot hier,” flits dit deur my gedagtes, “maar dis nog lank nie die einde nie.”