Nuwe baba en 'n nuwe lewe

0
1805

Hulle lyk soos die perfekte gesin, maar sanger Gerhard Steyn en sy vrou, Zelri, weet nou dat daar nie ’n ding soos “perfek” is nie.

Ouerskap het baie geluk in hulle lewe gebring, maar ook groot aanpassings wat hulle in hulle hart en lyf kon vóél.

“Die telefoonoproep was ’n geskenk so reg uit die hemel uit,” onthou Zelri. Dit het op ’n tydstip gekom wat sy moeg en moedeloos was. Die beeld wat sy van haarself in die spieël gesien het, het net een woord gespel: v-e-t.

Gerhard het nie veel beter gevoel nie. “Ek was nog altyd ’n groot ou, maar die ekstra gewig op verkeerde plekke het my laat wegskram van mense af. Skielik was ek nie meer lus om op ’n verhoog te staan nie. Ek het skaam gevoel oor hoe ek gelyk het.”

Soos die meeste paartjies het dié twee op die harde manier kennis gemaak met die stryd om ’n balans tussen ouerskap, tyd vir mekaar en ’n gesonde leefstyl te vind. Intussen het die kilogramme bly klim.

“Ek was later so oorweldig dat dit my nie eers meer gepla het nie,” erken Zelri. “Ek kon voel dit raak ’n probleem, maar het dit opsygeskuif. Later se worries.”

Die foonoproep het haar letterlik tot stilstand geruk. “Venessa het uit die bloute gebel en gevra of ons sou belangstel om deel van die Nuwe Jy-program te wees. Haar woorde het al die regte knoppies gedruk: selfverbetering, dieet, oefenprogram, nuwe leefstyl. Dit was presies wat ons nodig gehad het.”

Gerhard het sy vrou se entoesiasme gedeel. “As ek ’n normale werk gehad het, sou die ekstra kilogramme my nie eintlik gepla het nie, maar ek is in die openbare oog en mense verwag ek moet op ’n sekere manier lyk. Hulle kyk op na jou en soek na inspirasie.

“Maar eintlik doen ek dit vir my gesin,” sê hy oor sy besluit om die uitdaging aan te pak. “Ek wil goed lyk en gesond leef, vir húlle.” Dis deel van sy lewensfilosofie. “Vir my gaan dit daaroor om myself neer te lê ter wille van my vrou en kind. Ek het eintlik op ons troudag al daardie besluit geneem: Van nou af is ek tweede. Met Zardi se geboorte het ek afgeskuif na die derde posisie, en ek glo dis hoe dit hoort.”

Maar ouerskap het nie maklik gebeur nie. “Mense sê alles verander die dag as jy kinders het. Hulle is heeltemal reg, maar niemand sê jou hoe enorm die verandering is nie.”

In baie opsigte was dit vir die Steyns ’n groot lekkerte om hulle eersteling as deel van hulle lewe te verwelkom, maar hulle was nie voorbereid op hoe dit hulle lewenstyl en die dinamika in hulle verhouding sou beïnvloed nie.

“Dit was ’n moeilike pad tot hier,” erken Gerhard. “Ons was lank in survival mode.”

Die moeilikheid het al voor die geboorte begin. “Die dokter was altyd opgewek wanneer ons vir die sonarondersoek gekom het,” vertel Zelri. “Maar dié dag was hy tjoepstil.” Hy het die beeld op die skerm bekyk, en weer gekyk, en toe sê hy: “Sjoe, hier is erge verkalking, ek kan omtrent nie julle baba sien nie.”

Sy woorde het skielik al hulle rooskleurige idees oor babas en ouerskap aan skerwe laat spat. Die moontlike komplikasies was skrikwekkend. Met geboorte kon sy dalk blind wees. Of doof. Of selfs breinskade hê. “Haar groei is alreeds belemmer,” het die dokter voortgegaan, “en Ma, jou bloeddruk is hemelhoog. Ons sal dinge baie fyn moet dophou.”

Die nuus was oorweldigend. Zelri was so geskok dat sy in die motor op pad huis toe ’n angsaanval gekry het. “Dis nie die woorde wat jy op 29 weke van swangerskap wil hoor nie.”

Gerhard, altyd die rustige-in-beheer planmaker, het net daar op die snelweg omgedraai en teruggery hospitaal toe. Daar was nie tyd vir dink nie. Net doen.

Sy vrou is met die eerste van talle sessies sterk kortisoon ingespuit om die baba se groei aan te help – en dit was die einste kortisoon wat veroorsaak het dat sy ’n volle 14 kg binne ’n kwessie van dae aangesit het. “Met my swangerskap was ek ’n gesonde 10 kg swaarder, maar die kortisoon het my lyf byna oornag buite proporsie laat swel. Enkels, bene, gesig... ek het erg groot en ongemaklik gevoel en gelyk.”

Hulle dogtertjie is twee weke later gebore. Piepklein en heeltemal te vroeg, maar gesond. Ma en Pa was baie dankbaar, maar hulle uitdagings het toe net begin.

“Ek was sterk deur alles, maar toe ek haar in die intensiewe eenheid moes agterlaat, het die hele ding my oorweldig,” onthou Zelri. “Ek het dae aaneen gehuil, tot my man naderhand vir my moes sê: ‘Skat, jy moet nou ophou huil en dankbaar wees ons baba is gesond. Sy is net in intensief om te groei.”

Die uitwerking van stres en bekommernis... Gerhard-hulle kan boekdele daaroor skryf. Daardie eerste klompie weke in intensiewesorg het beteken dat die twee moeë ouers pal in die hospitaal se restaurant rondgesit het. Melkskommels, cappuccino’s en hamburgers was uitstekende teenvoeters vir die senuwees en min slaap, maar dit het niks vir hulle lywe gedoen nie.

Toe kom die groeiende baba huis toe, en die volgende uitdaging tref hulle soos ’n vloedgolf: koliek in die ergste graad. “Ons het letterlik maande aaneen amper nooit geslaap nie,” onthou Gerhard. Die baba sou ná ure se gehuil vir ’n paar minute insluimer, net om weer van voor af aan die skree te gaan. “Dit dryf jou later teen die mure uit. Ons het alles probeer. Ek het selfs laatnag in ’n warm bad geklim met haar op my bors, in die hoop dat die warm water haar sou sus.” Dit het nie.

Die stres en min slaap het stadig maar seker aan hulle verhouding begin torring. Bedags moes Gerhard steeds hard werk – toer en optredes hou – en as hy moeg by die huis kom, het sy vrou hom ingewag met rooi oë. Van baie huil en min slaap.

“Vooraf het ek die idee in my kop gehad dat moederskap ’n fairy tale gaan wees. Alles sal wees soos voorheen, net béter, maar toe is dit baie moeiliker as wat ek gedink het. Ek is ongelooflik lief vir hierdie pragtige rooikoppie van ons, maar as ek nou terugkyk, weet ek regtig nie hoe ons dit tot hier gemaak het nie.”

Sedert hulle dogtertjie se koms het tyd die grootste oorsaak van konflik in hulle huwelik geword.

“Reg aan die begin was dit erg,” onthou Gerhard. “Werk heeldag, kom moeg by die huis, help met die baba, en sodra sy rustig raak, val ek en my vrou op die sitkamerbank neer, net om te besef ons eie doen-lysies is nog ver van klaar af.”

“Of Gerhard draai na my toe en sê: ‘Kan ek en jy nou ’n bietjie tyd saam spandeer, my vrou...”, net om agter te kom ek het intussen reg langs hom op die bank aan die slaap geraak.”

Dinge het verander toe Zardi haar koliek ontgroei het en haar ouers doelbewus besluit het om hulle nuwe omstandighede beter te bestuur.

“Ons het besef min tyd saam is ’n groot probleem, veral vir my,” sê Zelri. “Nou, in plaas van om in die tien minute wat ons saam is, oor kleinighede te stry, probeer ek eerder stilbly en ons saamwees geniet.”

Gerhard het ook intussen planne beraam en ’n nuwe besigheid op die been gebring, sodat hy in die toekoms minder hoef te toer en meer by sy gesin kan wees. Tog het die selfvertroue om hierdie kans te waag hom aanvanklik ontbreek.

“Ek was nog altyd iemand wat ’n risiko sou loop. Skrik nie vir waagstukke of nuwe uitdagings nie, maar met ons dogtertjie se geboorte het ek skielik aan myself begin twyfel. Gaan daar genoeg geld wees vir melk en doeke? En later, om in groter behoeftes te voorsien?”

Vrees vir mislukking. Die ding wat lank terug by hom gespook het, het weer begin kop uitsteek. “Dit was asof die vyand, die duiwel, my van God se beste vir my en my gesin wou weerhou.”

Die vrae het hom snags laat rondrol. “Dink jy regtig jy is ’n goeie man? Dink jy regtig jy is goed genoeg? Wat laat jou dink jy kan ’n sukses van jou lewe maak?”

Dit was vrese wat hy eintlik lankal oorwin het. “My pa is basies as ’n boemelaar dood. Hy het net opgegee met die lewe, en met ons. Ek en my pa het al van my tienerjare af geen verhouding gehad nie, en sy mislukkings het my gerý. Vir jare het ek geld en rykdom nagejaag as ’n manier om vir hom, en vir myself, te wys ek kán suksesvol wees. Later het ek besef ek probeer iets aan iemand te bewys wat nie eers meer hier is nie.”

Zardi se geboorte was vir Gerhard soos ’n nuwe begin. “Ek het nie ’n baie goeie voorbeeld gehad van hoe om ’n seun groot te maak nie. Vir eers is ek dankbaar dat die Here my met ’n meisiekind geseën het.”

Hy het ’n lang pad gestap om ’n pa-seun-verhouding in sy geloof te vind, en dít het vir hom vrede gebring. “Daar is vir my niks so belangrik soos om in die oggend op te staan en presies te weet wat Hy vandag van my wil hê nie. Ek stap na die badkamerspieël toe, kyk myself in die oë en vra: ‘Here, wat wil U hê moet ek vandag doen?’”

Mense vra hoe hy dan weet. “Laat vrede jou skeidsregter wees, sê die Bybel. Dís hoe ek weet. As ek ’n droom of idee het en vrede in my hart daaroor voel, dan weet ek dis die regte ding.”

Soos om die Nuwe Jy-program aan te pak, al was dit nie aldag maklik nie. “Soms gaan dit rof om presies by die eetplan te hou en tyd te maak vir oefening, soos om saam met my gesin te gaan stap,” sê Gerhard. “Maar ek het gou besef vordering gaan nie oor perfeksie nie. Ons is maar net mense, en om foute te maak is deel van die pakket. Ek kroek af en toe en dit doen my eintlik goed, want dan voel ek weer van voor af gemotiveerd om reg te eet en aktief te bly. Gesond leef, weet ek nou, is ’n proses. Dit verg oefening, maar as jy die meeste van die tyd die regte keuses maak, volg die resultate vanself.”

Zelri beaam dit. “Tussen al die uitdagings van ’n normale huishouding deur is ek bly ons het besluit om deur te druk en konstant te werk aan ’n nuwe, gesonder leefstyl. Ons lyk en voel al baie beter, en dit het beslis ook na ons verhouding toe deurgewerk. Deur alles wat ons saam deurgemaak het, het daar het ’n volwasse liefde tussen ons gegroei. Een van ruimte en begrip.”

“En ons doen al baie beter met die aanpassings van ouerskap,” voeg Gerhard by. “Ons dogtertjie is in ’n vaste roetine en ons twee maak doelbewus meer tyd alleen by mekaar.”

Dit was skoon vreemd om nou die dag weer alleen iets saam te doen. “Ons het vir die eerste keer in bykans ’n jaar tyd afgeknyp om te gaan fliek. Ons het handjies vasgehou soos in ‘ou dae’ en diep in mekaar se oë gekyk, al was hulle moeg en rooi en wou hulle net-net toeval. Dit was lekker.”

Die twee besef daar lê nog baie uitdagings vir hulle voor, maar hulle is dankbaar dat hulle die skuif van “oorleef” tot voluit leef kon maak.

Iewers in die huis kraai klein Zardi van die lag en klap haar handjies. Sy is net so bly daaroor.