Nuwe gewoontes vir sukses

0
291
sukses.jpg

Jy sukkel só om balans te kry. Verander eerder jou daaglikse gewoontes om groot sukses te kan behaal.

Erken dit maar: Ander mense se oornagsukses maak jou ’n bietjie jaloers – daardie boek wat ’n topverkoper is; die sanger wie se album in ’n rekordtyd goue status bereik. Wie wil dan nou nie in ’n kort tydjie suksesvol wees nie?

Die probleem is jy verneem gewoonlik net van die resultaat, maar nie van al die swoeg en sweet om daarby uit te kom nie. Jy weet nie dat die skrywer elke oggend douvoordag – voor die kinders wakker geword het – gaan sit en skryf het nie.

As jy só op die uitkoms gefokus is, dink jy net aan jou doelwit en vergeet jy dat die proses net so belangrik is.

Voor jy resultate kan behaal, moet jy eers jou gewoontes verander. Jy kan tog nie alles nog steeds op dieselfde manier doen en verwag dat jy skielik ander resultate moet kry nie. As jy ’n ding oor en oor doen, word dit ’n gewoonte. Dus, as jy ander resultate wil kry, moet jy ’n nuwe gewoonte begin.

Jou lewe vandag is die produk van jou lewenslange gewoontes. Is jy gelukkig of ongelukkig? Ken jy die Bybel? Besef jy dat elke gewoonte – goed of sleg – die resultaat van baie klein besluite is wat jy oor jare geneem het?

Maak dit dan nie sin dat jy enigiets kan kry deur elke dag die regte besluite te neem nie? Dis die regte gewoontes wat uiteindelik jou groot drome ’n realiteit sal maak. Dan sal jy die vrou kan word wat jy graag wil wees – een wat haar drome volg, maar nooit vergeet waar sy vandaan kom nie. Dit gaan oor die hele wedloop, nie net oor die wenstreep nie!

Die grootste fout wat jy kan maak, is om al die klem te plaas op die kitssukses wat jy wil hê. Kry eerder ’n program in plaas van ’n sperdatum en jy sal outomaties die verandering sien.

Hoe om jou gewoontes maklik te verander

Jou gewoontes volg almal ’n sekere patroon. Daar is altyd ’n sneller wat die optrede aan die gang sit. Dan volg die aksie. En daarna kom die beloning of die voordeel wat jy uit die aksie kry.

Herhaal dit ’n paar keer en jy het ’n nuwe gewoonte gevestig. Maklik! Doen dit so:

Stap 1: Party dae is jou wilskrag en motivering maar min. Hoekom sal jy dan nou daarop staatmaak om jou lewe te verander? Gebruik eerder ’n bestaande gewoonte om jou aan ’n nuwe een te herinner.

Gestel jy wil jou tande gereeld begin vlos. Koppel dit dan aan ’n bestaande gewoonte – tande borsel. Hou die vlos in ’n mooi bakkie by jou tandeborsel, dan het jy ook sommer ’n visuele herinnering. Jy sál onthou, al is jy nie gemotiveerd nie!

Maak ’n lysie van die dinge wat jy elke dag doen – stort, aantrek, eet, stop by ’n verkeerslig, TV kyk of ’n WhatsApp-boodskap stuur. Gebruik een van hierdie aksies as sneller vir jou nuwe gewoonte.

As jy wil begin oefen, doen vyf opsitte as daar ’n advertensie op TV of oor die radio is.

Stap 2: Begin klein en maak dit so maklik dat jy nie nee kan sê nie! Begin om net een tand te vlos. As jy ’n boek wil skryf, skryf ’n paragraaf.

Stap 3: Prys jouself, dan sal jy wíl aanhou om hierdie dinge te doen, omdat dit jou sal laat goed voel. Vlos een tand of eet een gesonde maaltyd en sê: “Mooi so!”

Moenie te veel dinge gelyk probeer doen nie

Begin klein! Jy is dalk so begeester deur jou vriendin se gewigsverlies dat jy sommer dadelik wil begin slaaiblare eet. Maar jy gáán honger word en daarom sal jou motivering nie lank hou nie. Jy sal makliker misluk en daarna wens jy het meer wilskrag gehad.

Dis omdat jy by die diep kant inspring dat jy so gou moed verloor. Dis beter om aan die vlak kant in te klim en geleidelik dieper in te gaan. Totdat jy kan swem, of jy nou gemotiveerd is of nie!

Begin om aan jou groot, lewensveranderende doelwitte te dink as klein, alledaagse gewoontes wat jy maklik kan verander. Jy hoef nie eers ’n ander werk te kry voor jy meer tyd vir jou gesin het nie – begin klein!

Besluit wat jy wil verander en doen dan net een ding op ’n slag. James Clear, skrywer van Transform Your Habits, praat van ’n keystone habit, ’n hoeksteengewoonte. Dis daardie een optrede of roetine wat sommer jou hele lewe regtrek.

Byvoorbeeld, as jy gereeld oefen, wíl jy graag gesond eet. Jy is dan ook meer produktief en jy slaap beter; daarom het jy meer geduld met jou gesin en kollegas. Omdat jy meer produktief en vriendeliker is op kantoor, word jy genader om daardie nuwe projek te lei.

Dis mos sukses, en dit het met een nuwe gewoonte begin! Besluit watter gewoonte jy deel kan maak van jou daaglikse roetine, die een wat sommer ’n klomp goed in jou lewe sal verander.

Wat om te doen as jy misluk

Dis menslik om nie altyd by jou roetine te hou nie. Dit beteken egter nie jý is ’n mislukking nie. Die suksesvolste vroue maak ook af en toe foute. Wat die groot verskil maak, is dat jy moet terugbons en weer aangaan.

As jy vanoggend verslaap het en nie gaan stap het nie, is dit nie die ergste nie. Die probleem is net dat as jy eers een keer oorgeslaan het, dit makliker is om volgende keer te laat slap lê.

Daarom móét jy by jou program hou, al is dit hóé klein. Het jy nie genoeg tyd om ’n hele ete te kook nie? Maak dan net ’n gesonde slaai.

Jy het jou dalk voorgeneem om saans die ontbyttafel te dek en die kosblikke in te pak. Dan hoef julle nie soggens te skarrel nie en is daar meer tyd vir lekker gesels.

Jy het die nuwe gewoonte aan ’n bestaande een gekoppel – jou laataandtee. Jy doen dit nou al vir ’n paar aande. Mooi so! Maar vanaand is jy net te moeg…

Hou by jou plan, maar maak dit ’n bietjie makliker. Besluit jy sal vanaand net die tafel regkry en môre die broodjies maak. Môreaand kan jy weer alles doen. So wys jy vir jouself jy kán slaag, al is die omstandighede nie ideaal nie.

Dis die klein daaglikse dingetjies wat jy doen wat maak dat sukses onafwendbaar is. Dis soos ’n saadjie wat jy op die regte plek plant. Dit het nie motivering nodig nie, dit groei net!

Vertaal en verwerk uit Transform Your Habits deur James Clear.