Nuwe hoop ná die seerkry

5983
Andries Enslin

Andries Enslin van die Alberton Lewensentrum is sterker ná sy krisis. Hy gesels openhartig oor sy seisoen van swaarkry en wat dit hom geleer het.

Die dinge wat gebeur het, het my … nie heeltemal onkant betrap nie. In ‘n stadium was my program net te rof. Daar was ‘n paar nuwe gemeentes om te bestuur en ek moes voorberei vir Sondae se erediens en TV-preke. Dan moes my persoonlike lewe ook nog iewers aandag kry. Dit was regtig hectic en uitbranding was my voorland. Na eerlike gesprekke met die ouderlinge is daar besluit dat ek eers ‘n ruk moes rus.

Die Bybelboek Judas het ‘n groot rol in daardie tyd gespeel. Dit gaan oor ‘n gemeente wat erg vervolg is, maar met die Here se hulp het hulle dit oorleef. Dis ongelooflik dat soveel dinge een gemeente kon tref! Dis duidelik dat daar ‘n rede was waarom hierdie boek my aandag vasgevang het – om my voor te berei vir wat sou kom. Niks gebeur ooit toevallig nie!

Ná my rustyd was ek eendag op pad terug werk toe toe die bom skielik bars. Die media was vol onwaar aantygings en skinderstories wat stertjies gekry het. Selfs mense wat my goed geken het, het vir my vyandige SMS-boodskappe gestuur. Sjoe, dat iemand hulle so kon verlustig in my seerkry! Dit was amper asof dit hulle laat vergeet het van dinge in hulle eie lewe wat opgelos moes word.

My ouderlinge, gesin, familie en die grootste gedeelte van die gemeente het my heeltyd ondersteun. Gelukkig het ons gemeente se inkomste en bywoningsgetalle dieselfde gebly. Die belofte in Judas dat daardie gemeente beskerm sal word en die aanklagte soos miswolke sal verdwyn, het net so ook in my eie lewe waar geword.

Om nie kwaad te bly nie, was … uiters moeilik, maar dit was nodig vir my eie sielsgeluk. Wanneer iemand jou seermaak of te na kom, is die maklikste ding om jou te onttrek of ander terug seer te maak. Die versoeking om een van hierdie twee dinge te doen was vir seker daar!

Dit het vir my soos stank vir dank gevoel. ‘n Mens sloof jou af om ander mense te help en al wat jy terugkry, is verraad en skinderstories! ‘n Hele paar keer het ek iets in ‘n diens gesê of selfs ‘n onskuldige in-house grappie gemaak, net om die volgende dag daarvan in die koerante te lees. Dit was gewoonlik heeltemal buite konteks aangehaal. Dit ruk ‘n mens, veral as jy nie eers geweet het dat die media die diens bygewoon het nie.

Jy moet partykeer oor en oor kies om nie kwaad te bly nie. Ek wou graag passievol bly vir die bediening en het goed geweet hierdie tipe ding kan ‘n mens lelik ontnugter. As dit jou keer om jou doel uit te leef, is dit presies wat die vyand wil hê!

In die verlede sou ek maklik voorbeelde uit my eie en my gesinslewe gebruik om ‘n punt in ‘n preek te maak, maar omdat my preke op die internet uitgesaai word, het ek nie meer beheer oor wie wat skryf of aanhaal nie. Daarom is dit belangrik dat daar duidelike grense moet wees om my gesin te beskerm, so, daar is nou ‘n baie strenger wag voor my mond. Niemand wil tog hulle pêrels vir die varke gooi nie!

Om te vra waar God is as jy probleme het… is ‘n baie natuurlike reaksie. Dis maar alles deel van die manier hoe ‘n mens sulke dinge verwerk. Ek het ook hierdie vraag in my stiltetyd gevra, maar dit het vinnig verdwyn toe ek besef het dat Hy in beheer van alles bly – goed én sleg. Alles sal mos uiteindelik reg uitwerk. Partykeer is dit ook maar nodig om aan ons karakter te skuur en te skaaf sodat ons beter kan word.

Eenkeer het ek iets hieroor in ‘n preek gesê om ‘n sekere punt te maak. Net daarna is die opskrif van ‘n artikel in een van ons land se tydskrifte: “Prediker vra God hoekom al hierdie dinge hom tref.” Volgens die artikel is my lewe tot stilstand geruk en wou ek weet waarom Hy toelaat dat al hierdie dinge gebeur. Dit was glad nie die geval nie!

Oktober is om die een of ander rede altyd die maand vir introspeksie. Dit het al in my eerste jaar as student begin toe daar ‘n moontlikheid was dat ek Grieks en Hebreeus kon druip. Daar was ‘n bietjie van ‘n emosionele insinking en dit was amper of ek het my studie gestaak.

‘n Paar keer daarna was daar weer groot uitdagings – almal hierdie tyd van die jaar. Elke keer was dit van voor af ‘n stryd om positief te bly vir die jaar wat voorlê. In hierdie krisisse het ek oor en oor my afhanklikheid van Hom besef. Die laaste ‘Oktobermaandkrisis’ was beslis een van die ergstes in my lewe, maar ek is daardeur gedra – en dit sal sekerlik ook nie die laaste keer wees nie.

Om my passie vir die bediening te verloor… was iets waarteen ek hard moes stry. Seerkry in die kerkwêreld is nie vir sissies nie; dit kan ‘n ou nogal tap! Vandat ek as tiener agtergekom het wat my roeping is, het ek elke jaar die Bybel van voor tot agter deurgelees. Later was alles daarin so bekend dat dit al hoe meer net ‘n handboek geword het om my preke voor te berei.

In daardie donker tyd het ek begeer om die Woord weer soos ‘n tiener in te drink. Toe ek dit begin doen het, het my uitkyk op die situasie ook heeltemal verander. My fokus was nou weer op die regte plek.

In die proses het ek besef dat ek eerstens Sy kind is en dan ‘n skrywer of prediker. My waarde is nie in wat ek doen nie, maar in ons verhouding. Hieruit vloei al die ander dinge. My gawe is om die Bybel te lees en dit vir mense te verduidelik sodat hulle dit goed kan verstaan. Ek moet hierdie kennis egter eers in my eie lewe van toepassing maak sodat ek dit op die regte manier kan oordra.

Ek is só dankbaar vir my vrou se liefde en ondersteuning. Haar uitgangspunt is dat sy na die huis en kinders kyk sodat ek genoeg tyd en energie aan die bediening kan gee. Dit maak dit vir my makliker om met ‘n geruste hart daarop te fokus om soveel moontlik verlore siele vir die koninkryk te wen. Is dit nie ’n ongelooflike groot geskenk nie?

‘n Mens kan weer gelukkig wees na… enige storm as jy kies om jou oë op die Een te hou wat die storm kan stilmaak. In die middel van die storm het dit nie gevoel asof ek ooit eendag by hierdie punt sou kom nie, maar nou kan ek eerlik sê dat ek gesonder is, dat my tydsbeplanning beter is en dat ons as gesin en familie nog nader aan mekaar is.

Waar ek gesukkel het om positief te bly oor die bediening net nadat ek so ontnugter is, is ek nou opgewonde oor wat alles vir ons voorlê. By Alberton Lewensentrum wil ons graag ‘n plek skep waar gelowiges saam kan aanbid. Dit moet ook ‘n plek wees waar niegelowiges geïnspireer kan word om Hom wel ‘n kans te gee.

Die seerkrytyd het my geleer dat Hy nooit klaar is met ‘n mens nie. Sy doelwit is tog dat ons meer vrugte moet dra. Seerkry gee ons meer empatie met ander. Dit stroop ons van dinge wat ons aandag en tyd steel en dit bring ons op ‘n plek waar ons ‘n nuwe, beter visie kan kry. Wanneer dit by die leier van ‘n gemeente begin, spoel dit mos makliker oor na die hele gemeente.

Vandag weet ek dat enige hartseer in geluk kan verander. Genesing is moontlik. Herstel is moontlik. Vergifnis is moontlik. Hý maak dit moontlik. In die moeilikste tye het ek Hom die beste leer ken. Dit is die tyd waarin my motiewe, my visie en my roeping nuutgemaak is. Die begin was aaklig, maar die einde is goed.