Nuwe jy finaliste Top 8 van 2020

Ek is Tanya Venter (43), ’n grafiese ontwerper. Ek kan nogal alleen en verlate voel as ek ’n dieet volg. Die vroue op die 100-dae-uitdaging se Facebookgroep het my gehelp om op koers te bly en ek het reeds 9 kilo’s verloor!

Ek is Marisha Raath (48), ’n kwaliteitsbestuurder. Ek kan steeds nie glo dat ek met die 100-dae-uitdaging reeds 12 kilogram verloor het nie! Die oefening het beslis bygedra tot my sukses en het my gemotiveer om vol te hou.

Ek is Linda Erasmus (35). Ek het ’n graad in teologie, maar is deesdae ’n tuisblymamma. Ek het besef dat ek nie hoef te eet wanneer ek stres ervaar nie! Nou skryf ek eerder of gaan sit op die stoep.

Ek is Laurika de Jager (34). Oor naweke speel ek haarstilis, maar op weeksdae is ek ’n verkope-analis. Dis veral die inspirerende pitkos wat ons tydens die 100-dae-uitdaging gekry het wat my gemotiveerd gehou het.

Ek is Janita Schoombee (31), ’n mondhigiënis wat deesdae my lyf finansiële assistent hou in my man se besigheid. Dankie tog vir die 100-dae-uitdaging wat gehelp het dat ek nie nóg meer gewig tydens die grendeltydperk opgetel het nie!

Ek is Hesmari van Wyk (21), ’n rekeningkundestudent by Tuks. Dit was nie vir my moeilik om by die 100-dae-uitdaging eetplan te hou nie, want die kos is van so aard dat jy eintlik alles reeds in die huis het.

Ek is Cat Benade (42), ’n persoonlike assistent by ’n laerskool. Met die 100-dae-uitdaging het ek besef dat die trauma in my lewe veroorsaak het dat ek kos as troos gebruik. Ek moet nou emosioneel gesond word.

Ek is Annelise van der Net (42), ’n verpleegkundige. My skoonsus het my van die 100-dae-uitdaging vertel en ons het dit saam aangepak. Ek is so dankbaar! Ek het reeds 9 kilogram verloor en my lewe voel meer gebalanseerd.

STEM EN WEN!

Drie lesers wat vir hulle gunstelingdeelnemer stem, staan die kans om een van die volgende pryse te wen!

’n NUWE VOORKOMS wat insluit ’n  voorkomskonsultasie, ’n grimeerles, asook ’n haarsny en kleurbehandeling, PLUS R1 000 vir ’n nuwe somer-uitrusting. Die waarde van die totale pakket is R6 000.

’n VOELGOED RETREAT by Kasteelkop Gasteplaas in die Oos-Vrystaat. Twee nagte se verblyf en etes, ’n spa-behandeling en vier sessies saam met topselfhelpkenners. Die Gallup StrengthsFinder-toets is ook ingesluit. Die waarde van die prys is R6 000.

’n 3-NAGWEGBREEK by die lieflike Mont d’Or Franschhoek. Die prys  sluit bed (standaardkamer)  en ontbyt vir twee persone  ter waarde van R9 000  in en kan vir ’n naweek  tussen April tot September  2021 gebruik word.

Die Nuwe jy Stem en Wen het reeds gesluit.