Oefen om depressie te oorbrug

0
48
oefening_depressie.jpg

Depressie is ’n ernstige siekte wat derduisende mense wêreldwyd beïnvloed. Kan dit wees dat oefening depressielyers help om beter te voel? Oefening laat jou goed voel, en beveg depressie.

Baie mense sê depressie is die “siekte van ons tyd”, maar dié benaming is eintlik verkeerd as jy in aanmerking neem dat selfs Bybelfigure soos Job, Dawid en koning Saul onder depressie gebukkend gegaan het.

Daar is heelwat maniere om dit te behandel en ek stel voor dat jy die gebruik van medikasie met jou dokter moet bespreek. Oefening is ’n uiters effektiewe manier om depressie hok te slaan. As jy gereeld ’n oefenprogram volg, sal jy meer positief voel, van buierigheid ontslae raak en meer energie en selfvertroue hê. Wanneer jy oefen, word jou brein gestimuleer om endorfiene vry te stel, wat ’n gevoel van behaaglikheid by jou skep.

Jy hoef nie te oefen asof jy vir die Comrades marathon voorberei nie. Kardiovaskulêre oefeninge soos vinnig stap (of draf as jy fikser is), fietsry, roei of aërobiese oefenklasse dertig minute drie keer per week kan hewige depressie verlig. My beste raad is egter om eers by jou dokter seker te maak oor die graad van depressie en of dit nodig is om medikasie ook te neem. Sommige mense ervaar swaar newe-effekte van medikasie en kan dus slegs oefen om depressie te oorbrug.

Geskryf deur Linda Kriel