Oefening kan spatare voorkom

0
33
spatare.jpg

Spatare is geneties oorerflik, maar daar is sekere dinge wat dit kan vererger. Maak seker jy weet wat om te doen om dit te vermy.

Spatare is oorerflik en jou lewenstyl het ook ’n groot invloed op die vorming van spatare.  As jy baie onaktief is of ’n beroep het waar jy heeldag sit, is die kanse baie groot dat jy spatare sal kry. 

Hou jou gewig in toom! Dit sal die druk op jou bene verlig. Daarom is gereelde oefening ’n moet! Oefeninge sal help om jou gewig te laat verloor, of jou gewig konstant te hou én dit verbeter jou bloedsirkulasie in jou bene.

As jy nie elke dag ’n formele oefenprogam kan volg nie, probeer om dan ten minste so aktief moontlik te wees. As jy heeldag agter ’n lessenaar sit, moet jy sorg dat jy na elke uur ’n bietjie opstaan en jou bene beweeg. Loop ’n draai, of klim ’n stel trappe op en af. Jy kan ook sit en jou voete sirkel en jou tone punt en flex, sodat jou kuite kan saamtrek en ontspan.

As jy vir ’n lang tydperk staan, moet jy ook probeer om gereeld jou bene en veral jou kuitspiere te laat werk, deur ’n paar keer op jou tone te staan en dan weer jou hakke te laat sak. Probeer ook om dan af en toe te gaan sit en jou bene te lig (’n goeie verskoning om soms bietjie skoene uit te skop).

Geskryf deur Linda Kriel