Olifante maak nuus

0
106
Olifante.png

Olifante het in die afgelope week die nuus gehaal. ‘n Poolse toeris is ernstig beseer toe ’n verwoede olifantbul in die Krugerwildtuin op sy Hyundai-motor getrap het en dit omgeslaan het.

En dan het Carte Blanche ook videomateriaal gebeeldsend waar gewys word hoe ‘n olifanthanteerder van Brian-Boswell-sirkus ‘n olifant met ‘n stok of yster slaan. Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging het daarna ‘n klagte van dieremishandeling ingedien teen die Brian Boswell-sirkus en sy olifanthanteerder.

Ek sien ‘n verband tussen hierdie twee berigte, en dit is dat die mens moet besef dat ‘n olifant ‘n wilde dier is. ‘n Olifant is inherent geen mak dier nie. Die gebruik van wilde diere in sirkusse is ook reeds in 30 lande verbied, insluitende Griekeland, Oostenryk, Israel en Singapoer. ‘n Wilde dier is wild. Punt. Gen 1:25 sê: God het die wilde diere op die aarde gemaak, elkeen na sy aard; ook die mak diere, elkeen na sy aard; en ook al die diere wat kruip, elkeen na sy aard. En God het gesien dit is goed. Dit is in ‘n wilde dier se aard om wild te wees.

Jesaja (11:6-8) vertel egter vir ons dat wanneer daar ‘n nuwe vredesryk aanbreek, sal daar harmonie wees tussen God en mens, en tussen mens en die skepping. Hy sê:

Wolwe en skape sal dan saam bly,
luiperds sal tussen bokkies lê,
kalwers, leeus en voerbeeste
sal bymekaar wees
en klein seuntjies sal vir almal sorg.
Koeie en bere sal saam wei,
hulle kleintjies sal bymekaar lê,
leeus sal gras eet soos beeste.
Babatjies sal by die gate van adders
speel,
klein kindertjies sal hulle hande
uitsteek na giftige slange.