Olimpiese swemmer Marianne Kriel se droom om ma te word

390

Ons Olimpiese ster MARIANNE KRIEL is weer tuis en borrel van vreugde oor ’n nuut ontdekte liefde, wat destyds soos ’n verlore droom gevoel het.

Die Olimpiese oomblik was vir lank vir my die grootste, maar ’n onlangse gebeurtenis het selfs daardie oomblik oortref.

Sý het daardie oomblik verbygesteek. Sý bring selfs meer trane as die paar minute op daardie podium in Atlanta. Sý wat so diep in my oë kyk. Haar naam … Nina.

Die droom om ’n mamma te word, het onmoontlik gelyk. Iets buite my bereik. Dit het verder weg as ’n Olimpiese medalje gevoel.

12 jaar later is daar nie net ’n baba in my arms nie, maar is ek sedert Junie verlede jaar weer terug in Suid-Afrika. Die aanneming was die bepalende faktor om terug te kom huis toe. As iemand wat daarvan hou om te beplan, was die skuif totaal en al teen my aard.

Daar was ’n groot dryf om terug te kom. Nina moes tussen familie groot word. Sy moet voel sy het ’n familie. My terugkeer was niks anders as ’n stap in geloof nie.

Hoewel die idee om aan te neem reeds in Amerika posgevat het, was die wens om die regte man te ontmoet eintlik eerder op die voorgrond van my gedagtes.

’n Man, selfs een met kinders, het ’n hartsbegeerte geword en wanneer moontlikhede opgeduik het, was die opgewondenheid daar. Maar Amerikaanse mans was ’n néé …  Daar was nog seer en vrees waardeur gewerk moes word.

Vandag voel dit of ek iemand anders se lewe lei. Die Here se restourasiewerk na dié egskeiding het gelei tot heelmaking. Dit was ’n stukkende seisoen met soeke na antwoorde.

Binne ’n tydperk van twee jaar was dit die egskeiding en die onverwagse afsterwe van my ma.

Ek het lank gehoop en gedroom dat die huwelik sou uitwerk.

Jy dra dan die gevolge en seer. My selfvertroue was geknak en het my pateties laat voel. Sonder ’n man en sonder ’n werk. Ek moes wegkom.

Vanweë samelopende omstandighede en my betrokkenheid by die reël van ’n kerkkonferensie, het die geleentheid opgeduik om ’n kollege se sportuitreikprogram in Florida te help stig.

Maar te midde daarvan, was daar die nuus dat my pa kanker het. Dit was moeilik, maar die kanker was onder beheer. Dit was ’n vredeskaart om die stap landuit te neem.

Om nuut te begin in ’n ander land was ’n uitkomkans. Ja, die lewe was gerieflik, maklik en veilig, maar die besef was elke dag daar: Dit is nie my land nie. ’n Mens voel net nie tuis nie.

In hierdie tyd was daar ’n diep soeke om heel te word. Dis wonderlik om te sien hoe Hy als ten goede laat meewerk het, selfs daardie verwerping na aanvaarding en liefde.

In my nuwe werk was daar ook die geleentheid om in ander se lewens in te spreek. Mense met huweliksprobleme en ander met wonde weens ’n egskeiding. Daar was ook dié wie se ouers siek geword het of skielik dood is. Al my aaklige, moeilike oomblikke is vir Sy doel gebruik.

Kort voor veertig begin ’n mens om vrae te vra. Daar is baie vroue wat dit ken. Die leemte wat kinderloosheid laat, het groter geword. Ek was ver en het na my broerskinders verlang en het bly wonder: Is die tyd om ’n biologiese ma te wees dan nou vir my verby?

Die deur van twyfel was wawyd oop en spyt oor besluite wat in die verlede geneem is, het bly knaag. Al wat ek kon doen, was om vas te klou aan hoop.

’n Geleentheid om ’n kinderkerk te lei het opgeduik. Aanvanklik wou ek so ver moontlik daarvan af weghardloop. Wat weet ek dan tog nou. Ek het nie eens kinders van my eie nie. Die kopgevegte was belaglik, maar die geleentheid was die grootste hartsgeskenk.

Die kinders kon nie my naam uitspreek nie en het my “Mar-Mar” genoem, wat amper soos Mamma klink. Dit was ’n blessing en het die leemte tydelik gevul.

Vir baie lank was my een voet seker nog in dié wêreld, maar vir die eerste keer daar in die verte was my lewe volkome voor die Here se voete neergelê. Dit haal nie die genot uit die lewe nie, dit raak net ’n beskermde genot. En met dié oorgawe, het alles verander.

Die begeerte na ’n kind van my eie het net sterker geword. “Is ek goed genoeg of sou ek ’n kind ’n onreg aandoen om as ’n enkelvrou hom of haar aan te neem.” Vrae soos dié sou dae lank in my gedagtes rondmaal. 

Een van my mentors het raad gegee en saam met my gebid en later aangemoedig. Sy het na die Bybel verwys wat sê ons moet na weduwees en weeskinders omsien; om ’n huis te bied vir ’n kind wat nooit dit kan hê nie, is God se hart.

Daardie dag was ’n draaipunt. Finansies en om as ’n enkelma te moet werk, het steeds soos ’n berg gevoel.

My raad: Moenie te lank wag nie. Begin die proses van aanneming as dit jou begeerte is. Maar bid eers daaroor. En, onthou, daar is omdraaikans as jy voel jy het te vinnig in die ding ingespring.

Wanneer my knieë kraak en Nina wakker word of my rug seer raak as ek ’n doek ruil, kom die besef dat háár mamma al ouer is. Dit kom van die jare se ooroefen. Dit is lekker dat my lewe nou om iemand anders draai.

Dit bly ’n reuseverantwoordelikheid. Daar is nie meer tyd vir jouself nie. As ma sien jy die lelikste in jouself, maar ook die mees onselfsugtige jy, die een wat aanhou gee. Die afgelope paar maande leer ek baie oor geduld.

Selfs ná lang nagte van wakker-wees, kan Nina my net een kyk gee, dan is alles verby. Daai oop bekkie en gums wat so vir ’n mens lag, slaan jou asem weg. Alles voel vir ’n oomblik vergewe en vergete.

’n Mens leer ook om nie so hard op jouself te wees nie. Hierdie mom guilt-storie is eg! Jy voel so gou sleg as jy enigiets doen wat nie oor haar gaan nie. Jy moet vir jouself ook daardie genade gun. Neem ’n blaaskans en berus jouself op ander se hulp en ondersteuning.

’n Enkelma het hulp nodig, ’n mens moet dit aanvaar. As jou ondersteuningsnetwerk in plek is, is dit moontlik om ’n enkelmamma te wees.

Dit is ’n groot aanpassing. Veral as jy ’n mens is wat van alleentyd hou. En die gemis na ’n paar manliefhande, om soms te help sorg, raak meer. Dit sou beter wees om dit as ’n span te kon doen.

Op die aannemingsondersteuningsgroep deel ander graag hoe hulpvaardig hulle mans is. In die aand is daar net twee hande om vir Nina te bad. Dis menslik om daarna te verlang.

Dit sou heerlik gewees het om in die aand Nina se oomblikke van die dag te kon deel. My broers spring vir elke opening om my te help met Nina en soveel ander probleme wat oë wys.

Dis net menslik om te twyfel. Jy kyk na doeke en melk se prys en dink: Here, gaan ons dit regtig maak? ’n Gedeelde verantwoordelikheid sou dit beslis makliker gemaak het.

Nina is eerste Sy kind. Hy voorsien. Vir nou is die gemeenskap rondom ons, soos naaste familie. Dis ongelooflik hoe ander net gereed staan om te help en inspring waar ons hulle nodig kry. Deur hulle sien ek die liefde van my Voorsiener.

Elke dag word die besef net groter. Nina, wat ek aangeneem het toe sy vyf maande oud was, is ’n geskenk aan my geleen. Party dae voel dit nog onwerklik. Is ek nou regtig uiteindelik ’n mamma?

’n Mens moenie die droom van moederskap begrawe nie. My eie pad as ’n ma het vir my nog groter waardering vir my ouers gegee.

My ma het elke dag van oefen voor die Atlanta- Olimpiese Spele probeer beter maak. Dit was óf ’n warm bad óf ’n gunstelingkossoort. Pappa het weer bemoedig met woorde. “Onthou net, sien dit as jou daaglikse werk.” En dit was, want jy oefen ses tot sewe uur op ’n dag.

Om professioneel ’n sport te beoefen was ’n verskriklike alleen plek. Dit is ’n eensame pad, wat min mense verstaan.

Selfs jou beste vriendinne kan hulle nie met jou situasie vereenselwig nie.

Daar is tye wat die paniek jou tref as jou skouer pyn of jou neus begin loop. Jy mag geen medikasie gebruik nie, want daar is ’n kans dat jy positief vir verbode middels kan toets. Daai vrese van “nou kan alles waarvoor ek geoefen het, verlore gaan”, is eg!

Die druk wat so in jou nek blaas. Jy wil dit vir ons land doen. Jy wil dit vir Madiba doen. Ook vir jou familie wat ure en vakansies langs swembaddens opgeoffer het. Dit was elke druppel swembadsweet werd.

Albei my ouers is intussen oorlede. Om hulle langs daardie Olimpiese swembad te kon hê was … Dit vang my élke keer as daardie herinnering opkom. ’Skuus, dis seker mamma-hormone!

Met die uitdunne was hulle byna reg langs die wegspringblokke. Die Here was só betrokke in die detail, want ’n mens weet nie vooraf waar jy ’n sitplek gaan kry nie. Dit was amazing.

Reg voor die resies kon ek hulle sien en hoor. “Sussaaaa!” Daardie cheer was die helderste Afrikaanse klank wat in die arena van buitelandse stemme weergalm het.

Met die aand se finaal, kon ek hulle nie vind tussen die toeskouers nie. Die ontsteltenis het ’n gevoel van onsekerheid gebring. Hulle het sitplekke reg langs die podium gehad. Dit was só spesiaal.

Daar was talle mislukkings op my pad na die bronsmedalje. Daar was geen manier om die ander swemmers se spoed te beheer nie. Al wat binne my beheer was, was om harder te oefen. Wat doen jy om die beste jy te wees? Dissipline en harde werk het gehelp.

Dit het vier jaar geneem om een sekonde te verbeter. Daardie oomblik is onbeskryflik. ’n Mens kom op ’n punt wat jy dink jy is seker net nie goed genoeg nie. Dit was ’n groot donker realiteit. ’n Ondersteuningsnetwerk is goud werd in sulke tye.

Ek was dié gelukkigste bronsmedaljewenner nog! Dit was onwerklik. Eerlikwaar, Marianne was nie sterk of vinnig genoeg nie.

Met al die feesvieringe en gelukwensings, raak ’n mens gou in die heldingevoel vasgevang. Kindertjies hardloop na jou toe. Jy word oral heen genooi. En eintlik is jy weer stoksielalleen.

Daar was vele aande waar ek die gasspreker by die een of ander geselligheid was, terwyl die res van my vriendinne net ’n normale lewe gehad het. Dit klink glamorous, maar werk en reis is nie!

Dit was ’n intense tyd in die kalklig, wat nie sonder sy leer- en groeikurwes was nie. ’n Mens raak moeg vir swem, sport en politiek.

Ná jare in die bediening het ek gedink my passie vir sport is totaal verlore. Maar ná ’n seisoen van byna uitbranding, wou ek iets anders doen. Met die oog op aanneming, was dit belangrik om buigsaam te kan wees, sodat daar genoeg tyd tuis kan wees.

Die geleentheid om ’n afrigter van ’n swemskool in die Paarl te wees het my pad gekruis. Eers was dit glad nie ’n opsie nie. En ná ’n gewik en geweeg, het die regte rigting duidelik geword.

My passie vir swem is toe nooit weg nie! As swemafrigter borrel dit weer hierbinne. Van hoe die kinders se selfvertroue verbeter, tot hoe hulle hulle swemstyl opskerp en hulle tye beter raak. Dié coach wil onthou word as iemand wat pret het en die beste in die kinders na vore bring.

Nina het ook ’n veilige plekkie langs die swembad. Die swemmammas het haar uitgebreide familie geword. Hulle het al soveel geskenk en is so hulpvaardig. Tydens ’n middagoefening beweeg sy graag van skoot na skoot.

My broers tree reeds in as Nina se rolmodelle en ander familie is geweldig ondersteunend. Die alleen gevoel en vrese was onnodig. 

Ná alles, is daar ’n nuut ontdekte liefde hier binne, wat ’n mens nie weet bestaan nie. Dit is harde werk, maar beter as wat ’n mens jou vooraf sou kon indink …Ons is tuis en omring met soveel liefde.

Marianne Kriel, Olimpiese ster