“Downsindroom het ons lewe verander”

133
Downsindroom

Na jare se pogings om swanger te raak, het hulle oudste seun, Oliver, alle grense van normaal in hulle lewe kom verskuif toe Downsindroom by hom gediagnoseer is.

Rayno en Lynn getuig vandag dat hulle lewens deur ’n pynlike seisoen verryk is, en hoe hulle groter vertroue en geduld geleer het.

Toe raak die dokter net stiller. Daar was ’n ongemaklikheid. Dalk moet ek my kamera wegsit?

My kamera was gereed om elke oomblik van ons 12-weke-ondersoek af te neem. Die afwagting was immers groot. Watter geslag is ons baba? Ons wou dit al lankal weet! Dit was reeds nadat ons vir sowat ses jaar probeer swanger raak het.

Die dokter was bekommerd oor die dikte van ons baba se nekvelletjie. Volgens hom is daar ’n een uit 288 moontlikheid dat ons eersteling abnormaal sou wees. Bloedtoetse was die volgende stap.

As die mat onder jou uitgeruk word, leer jy baie vinnig dat alles nie altyd uitwerk soos jy dit beplan of wil hê nie. In dié pynlike tyd word ons geduld en vertroue geleer.

Dieselfde aand was die nuus oor die foon dat die kans vir ’n abnormale kind nou een uit 33 is. Nog ’n toets het gevolg. In my kop was dié kans steeds skraal en die hoop veel groter dat ons baba normaal sou wees.

Die volgende oproep van die dokter was ’n enorme skok! Ek was heeltemal verbouereerd. ’n Kollega het lank met my gesels en vir my gebid. My bleek gesig en trane het seker alles verklap.

My worsteling het aangehou. Vriende se opinies was uiteenlopend. Sommige het my aanbeveel om die swangerskap te laat beëindig. “Jy’t dit nie nodig in jou lewe nie, daar’s nie plek in die wêreld vir hulle nie.”

Oliver was ’n keuse. Ons kon maklik voorgegee het dat ek ’n miskraam gehad het. Mense doen dit.

Sulke nuus maak ons stukkend.

Vandag is Oliver ’n absolute sonskynkind. Die geluk, vreugde en dinamika wat hy bring, oorskry verreweg al die negatiewe idees en persepsies wat mense oor Downsindroom het. Lynn was by die werk toe ek haar die nuus moes meedeel. Ons het nie woorde vir mekaar gehad nie.

Daar was dae van trane. Ook lang stiltes. Dit was ’n gevoel van magteloosheid. Dit was só oorweldigend.

Al wat Lynn vir ’n maand gedoen het, was huil en bid. “Hier het ek geleer om net te vertrou, en alles oor te gee aan die Here. Ek kon myself nie as die spesiale persoon sien wat ’n kind met spesiale behoeftes kangrootmaak nie,” het sy gesê.

Ons het mekaar belowe om nooit kwaad te wees indien die ander een ’n aborsie wou laat doen nie. Ek was so bang. Gaan die kind op ’n jong ouderdom sterf? Ek sal die kind heeltyd moet oppas. Lynn se woorde was dat indien die Here haar kind wou wegvat, dit in Sy hande was en nie in ons s’n nie.

Sy was ongelooflik. Haar kop was reg. Sy het nie ’n saak gehad met wie wat dink nie.

’n Neef het ook ’n Downsindroomdogter, Megan. Ons het al ons kommer met hom gedeel. Daardie Sondag by hulle was ’n keerpunt.

Megan het op my skoot kom sit. Met soveel liefde rus haar hande op my kop. Die onvoorwaardelike liefde wat sy op daardie oomblik gewys het, het alles verander.

Ons het byna opgehou met werk voor Oliver se geboorte. Navorsing oor terapie en gesprekke met ander ouers het baie tyd in beslag geneem. Bekommernisse het nie opgehou nie. Daar was soveel dinge wat nog verkeerd kon loop. Dit het ons uitgemergel!

En ja, sy grootmaak het geduld gekos. Dit het ure gevat om hom te borsvoed, ure by terapie, ure van baie goed. So leer jy om niks as vanselfsprekend te aanvaar nie, en net ’n bietjie to let go.

As gevolg van die tekort aan ondersteuning is die sindroom te veel vir sommige in die samelewing. Meer as 99% van mense beëindig die swangerskap. Mense verstaan nie die sindroom nie. Dit is nié ’n klad op ’n familie se naam nie.

Oliver bring eindelose vreugde. Mense ken amper nie my naam nie, ek is net Oliver se pa. Hy het ’n manier om in mense se harte in te kruip. Ouers en kinders s’n. En sy hart is so sag. Hy vergewe altyd maklik. Nie soos party mense wat vir dae dikmond rondloop nie.

Hy is een groot hanswors. Hy vermaak ons gereeld met musiek, gesigtetrek, dieregeluide en push-ups soos sy pa.

Hy is ’n ontdekker en loop die wêreld vol. ’n Mens moet hom maar dophou. Hy wonder nooit waar ons is nie. By die see stap en praat hy met almal. Hy kuier van sambreel tot sambreel. Dis altyd ’n gespot. As ek sy paspoort in sy swembroek sit, sal hy dalk tot in Mosambiek loop.

Persone met Down se sindroom verander nie net die ouers se lewe nie, maar ook dié van al die mense rondom hulle. Jou perspektief verander ten goede. Ja, daar is enorme uitdagings…

Die grootste uitdaging is mense se opinies. Party mense sal voor ons praat van ’n “mongool” of ’n “Corky” – dit is so vernederend vir ouers. Ander sal sommer praat van “die Downsindroomkind”. Vir my is hy eerstens ’n kind. Milan, sy sussie, is normaal.

Ons gesin se lewe is steeds wonderlik, ons roete lyk net anders. Milan is 18 maande jonger as hy. Sy was vroeër uit die doeke en kon ook vroeër gepraat het as hy.

Maar elke mylpaal en nuwe woord is rede vir ’n gejuig in die huis. Volgens Lynn was daardie oomblik toe hy vir die eerste keer “Mamma” sê, vir haar die ongelooflikste gevoel. En laasjaar met die atletiekdag wou ons harte bars van trots toe hy tydens die byeenkoms met ’n breë glimlag vir almal waai.

Oliver is die magneet wat ons gesin keer op keer nader aan mekaar trek. En hy was die rede vir die grootste besluit wat ons al saam moes neem. Ek glo dit het ons band baie sterker gemaak.

Hy is mal daaroor om ons hande te vat en ons te maak mekaar druk en soene uit te deel. Daar is dus nie tyd om uitmekaar te beweeg nie.

Maar ons het lank nie besef dat Milan eintlik afgeskeep voel omdat ons Oliver so sterk aanmoedig nie. As hy vorder, word daar altyd vir hom hande geklap.

Vandag doen ons ekstra moeite met haar.

Hy gaan darem nie ’n rebelse tiener wees wat dalk in die nag dronk huis toe moet bestuur nie. Dit is dinge om die pad vir jouself makliker te maak.

Lynn sê Oliver is die gelukkigste mens wat sy ken. “Ek beny hom en wens ek kon soos hy wees.” Die geluk, vreugde en dinamika wat hy bring, oorskry verreweg al die negatiewe idees en persepsies wat mense oor persone met Downsindroom het.

En hy het die manier om net voor slaaptyd uit sy maag uit te begin lag, soveel dat ’n mens nie anders kan as om saam te lag nie. Die lewe is kleurvol met hom. Ons seun was nooit ’n fout nie.

En ons gaan nooit die leënessindroom beleef nie. Oliver is hier om te bly!