Om deur die woeste winde te beur

Het jy ’n bietjie “anders” om jou nodig? Waai die winde sterk? Is die golwe dalk net te hoog?

Dit is dalk nou die tyd dat jy weer jou oë op Jesus moet rig. Dit is dalk nou die tyd om die Gees toe te laat om alles in en om jou oor en in te neem. Dis nou die tyd om weer te glo soos die ouens wat geglo het dat as hulle aan Jesus se soom raak, hulle gesond sou word.

Daardie soort geloof moet ons hê. Ons moet glo dat God gesond kan maak. Ons moet glo dat God die winde stil kan maak en die branders kan laat bedaar. Daar in jou lewe, elke dag. En dan moet ons saam met die dissipels op ons knieë val en ons God, Heer en Gees loof en aanbid.

Ja, selfs die groot storms waarin ons so nou en dan vasjaag, is soos ’n nul op ’n kontrak vir Hom. Daarom, my vriend, my vriendin. Maak weer plek vir God se Gees in jou lewe in. Glo en vertrou en val op jou knieë neer en jy sal sien jou lewe sal anders word.