Om eerlik te wees met jouself

0
1851

Tracey Lange glo dat die waarheid ’n mens vrymaak. Die oomblik dat jy dit in die oë kyk, kan jy regtig die verlede laat los.

Mense jok vir hulleself omdat dit moeilik is om verantwoordelikheid te aanvaar vir ’n fout wat hulle begaan het. Dit is mos makliker om jouself te oortuig dat jy nie eintlik ’n aandeel daaraan gehad het nie. Of dat dinge tog nie so sleg is nie, terwyl dit eintlik uitmekaarval. Ons leef in ’n wêreld waar mense skynbaar net nie foute kan maak nie. Almal, veral vroue, probeer die front voorhou dat hulle perfek is. Dit maak net te seer om te erken dat jy nie is nie.

’n Paar jaar gelede was ek verloof, maar het uiteindelik besef die verhouding is verby. Dit was moeilik om dit aan myself te erken, want vir my was verloof so goed soos getroud. Dit was ’n belofte waarmee jy moes deurdruk. As ek sou erken dat daar fout was, dan het die volgende besluit gewag – om die verlowing te verbreek. Dit het gevoel of dit my familie sou teleurstel, want ek het hierdie wonderlike man in hulle lewe ingebring. Elke keer wat ons ’n datum wou vasstel, het daar iets voorgeval.

Na die derde keer het ek vir my ma gesê: “Die Here probeer vir my iets sê.” Sy het reeds besef daar was fout, en het al ’n ruk lank daaroor gebid. Toe was my pad vir my duidelik, maar dit was baie moeilik. Ek moes eerlik met myself wees, oor hoe lank ek al uit die verhouding was en oor die feit dat wat ander sou dink, my wel gepla het. Jy sê jy gee nie om nie, maar eintlik is dit daar in jou agterkop.

As jy nie eerlik met jouself is nie, sal jy nooit kan aanbeweeg nie. Die leuen hou jou vasgevang. Dit is wat afsluiting vir my beteken. Jy kan vir ander mense vra wat verkeerd geloop het, maar voordat jy nie jou eie rol daarin erken nie, sal dit nog steeds by jou spook. Jy kan partytjie hou en in die beste geselskap gesien word en vir almal op sosiale netwerke probeer oortuig hoe wonderlik die lewe is, maar jy sal nooit alleen met jouself by die huis sit nie, want dit jaag jou.

[VIDEO] Hoe hanteer mens sarkastiese of kritiese opmerkings?

My vriende help my om die waarheid in die oë te kyk. Soms sal ek in trane by ’n vriendin opdaag. Nadat sy vir my ’n koppie tee gemaak het en kans gegee het om te bedaar, sal sy vra: “Wat is nou die regte probleem?” Dit sal my laat dink en dikwels tot die kern van die probleem lei. Ek is baie bevoorreg om sulke vriende te hê. Die oomblik dat jy iets hardop erken, word dit werklik, en kan jy dit nie vermy nie. As jy dit met iemand deel, word die vrees in jou agterkop ’n bietjie kleiner.

Beide my ouers is baie eerlike mense, met hulleself en met ander, daarom is dit vir my ook maklik. Hoe gouer ek die waarheid aan myself erken, hoe gouer kan ek aanbeweeg. Die oomblik dat ek dit doen, is dit asof die Stem vir my sê: “My genugtig, My kind, Ek wag mos nog heeltyd vir jou. Hier is jou volgende hoofstuk.”

Dan kan jy sien wat om die draai vir jou wag. Dit kom egter saam met stiltetyd. Jy moet alleen met jouself wees. Gelukkig is ek iemand wat dit geniet om met myself te gesels, maar soms moet jy tyd opsy sit daarvoor. Ek glo daaraan om elke maand nuwe besluite te neem, nie net elke jaar nie. Een van my besluite sal byvoorbeeld wees om tyd te maak om stil te word met myself, al is dit hoe pynlik.