Om geluk uit te deel

0
18
africa-mercy.png

Ek lees netnou in ‘n koerant ‘n artikel oor die boot Africa Mercy. Dit is tans geanker in die hawe van Conakry in Guinee in Wes-Afrika. Dit lyk soos ‘n gewone skip. Dit het ‘n dek van 150 m lank en is agt verdiepings hoog en het sowat 450 bemanningslede aan boord. Maar dit is eintlik ‘n hospitaalskip wat van land tot land gaan en mense bedien wat andersins nie toegang tot mediese geriewe het nie. Daar is 90 verpleegsters en 15 dokters op die boot wat hul dienste gratis aanbied.

In die artikel word een van die helpers op die boot aangehaal wat sê: “Om die geluk en ’n nuwe begin in iemand se lewe te sien wat letterlik deur die dood in die gesig gestaar is of geen nut in sy lewe gesien het nie, bly keer op keer vir my onbeskryflik. Dis ’n bevrediging wat woorde nie kan beskryf nie. Wanneer ek ’n laagtepunt beleef, herinner hierdie oomblikke my hoekom ons hier is.”

Ons is dikwels so op soek na ons eie lewensgeluk. Intussen kan ons geluk bekom deur geluk in ander se lewens te bring!