Om in die donker rond te sluip

Elke oggend as ek opstaan, maak ek vir my vrou tee en vir my ’n lekker vars koppie stomende koffie. Nadat ek haar tee vir haar gevat het, sit ek die kombuislig af en stap deur die eetkamer en sitkamer na my studeerkamer toe en korrel.

In die donker weet ek presies waar die kaggel se voetstuk, die bank, die koffietafel, die muur, die deur en die lessenaar is, want ek het al ’n paar keer in elkeen van hulle vasgeloop. Wanneer my korrel my in die steek laat, moet ek gewoonlik eers terugloop, die lig aanskakel, ’n lappie gaan haal en al die koffie opvee wat ek in die hindernisbaan gemors het. Ter wille van rustige waters deel ek nie altyd die petalje met my vrou nie.

’n Lessie hieruit te leer? Moenie dink jy is bevoeg om in die donker te loop nie, want meubels het mos die geneigdheid om deur die nag self rond te loop. Skakel maar altyd die lig aan. Dit werk beter.

Jesus is die lig wat die donker uit die wêreld kom verdryf het.

Wat doen die lig? Behalwe dat dit die duisternis verdryf, kom belig dit die vrot kolle, die verkeerde goed wat weggesteek word. Hierdie is die goeters waaroor mense so maklik struikel. Soos die meubels wat in die nag in my huis rondsluip en veroorsaak dat ek ’n toon stamp en die koffie oor alles stort.

Uit ondervinding weet ek dat dit nie maklik is om toe te laat dat die lig van die boodskap hier binne ons skyn nie. Eintlik is dit beter dat dit net daar bly. Maar die netto effek is dat my vreugde gesteel word. Daarom moet ons die bul by die horings pak en ons oë as spieëls gebruik. Ons moet rustig gaan sit en in elke hoekie en draaitjie die verkeerde dade en woorde uithaal, dit bely en vir Jesus gee – Hy het mos in ieder geval klaar daarvoor aan die kruis betaal.

Neem tog hierdie een ernstig op. Jesus het gekom om ons van alle bagasie vry te maak. Laat Jesus se lig in jou skyn en maak ’n plan. Dalk moet jy dit met ’n pêl gaan bespreek of iemand wat jou kan help uitpak. Jy sal vir seker anders wees!