Om jou man sy affair se vergewe

0
2007
gretha_wiid.jpg

Gretha Wiid ken affairs, sekwestrasie en swaarkry goed. Hulle verhaal van opstaan en glo is een soos min.

As jy al na Gretha Wiid se motiveringspraatjies geluister het of ’n kamp van haar bygewoon het, sal jy saamstem dat sy ’n stukkie dinamiet is, toegedraai in ’n mooi verpakking. Sy is positief, energiek, selfversekerd – en kan ’n sinvolle antwoord gee vir feitlik elke persoonlike krisis onder die son. Gretha verstaan hoe dit voel as die lewe jou platslaan. Sy weet ook wat dit verg om weer op te staan.

Die eerste skok: bankrotskap

Vroeg in ons huwelik het dit finansieel baie goed my en my man, Francois, gegaan. Hy was ’n suksesvolle versekeringsmakelaar, een van die jongstes wat op sy ouderdom onder die top 30 in die land was. Maar wat gebeur as jy baie geld het? Jy dink jy het nie die Here nodig nie, want jy kan alles koop. Dit was ook so met ons. As jy ’n mooi huis het, kan jy mos ook ’n gelukkige huis koop. As jy gestres is, kan jy ’n vakansie koop. Ek en Francois was vas oortuig dat geld geluk kan koop – maar toe maak die Here ’n “skaakmat-skuif”. Ek sal seker raas kry oor die manier waarop ek dit sê, maar partykeer moet jy eers jou agterent sien voor jy God sien.

In die tyd toe ’n aantal banke in die land gevou het, het Francois se besigheid ook gevou, want dit was direk aan die banke gekoppel. Hy het homself vrywillig laat sekwestreer, en toe verloor ons álles. Letterlik. Ons het ons huis en motors verloor, en geraap en skraap vir kos. As jy uit ’n wêreld van weelde kom, is dit baie erg om skielik honger en behoeftig te wees. Hoe verduidelik jy vir jou kinders hoekom hulle nie nuwe skoene kan kry nie, al is hulle voetjies te groot vir die oues? Basiese dinge het krisisse geword. Waar kry jy skoene? Vir wie vra jy?

Gelukkig het die kerk sommige Vrydae vir ons kospakkies gebring. My dogtertjie was eenkeer vreeslik opgewonde oor iets wat in die pak was, twee goed wat ons lanklaas in die huis gehad het: Zoo-koekies en Coke! Die welsyn stuur mos altyd aanmaakkoeldrank, so, hiérdie was ’n lekker bederf. Ons sou ook gejuig het van blydskap as ons êrens op die pad ’n geldjie opgetel het. As dit ’n silwer stuk was, het die kinders opgewonde kom sê: “Mamma, dis ’n blink ene!” Dan het ons geweet dis nie net 5c nie, maar ’n R1- of R2-stuk. Baie geld. Tot vandag toe is ek erg daaroor as daar sente uit my beursie val. Ek tel dit op. Jy los dit nie net daar nie, want as jy niks het nie, is dit baie werd.

[pagebreak]

Die tweede skok: huweliksontrou

’n Ruk na ons sekwestrasie het Francois by ’n ander besigheid begin werk, en dis hier waar die tweede ontnugtering wortelgeskiet het. Ek is geleer dat as jy seksueel mooi na jou man kyk en jouself goed versorg, sal hy nie rondloop nie.

Ek het intussen geleer dat mense nie noodwendig emosioneel of seksueel ongelukkig by die huis hoef te wees om in die slaggat van ontrouheid te trap nie. Partymaal gaan dit eerder oor ’n leegheid in jouself, ’n leemte ten opsigte van jou identiteit.

Francois het sy lewe lank ’n baie groot soeke na erkenning gehad. Hy sê altyd hy was nie ’n makelaar omdat hy van finansies gehou het nie, maar oor die sukses wat hy behaal het. Hy het die erkenning geniet. Toe hy alles verloor het, het dit geweldig aan sy man-wees gevat, want vir hom was sukses gelyk aan wie hy as mens was. Hy het begin worstel met die vraag: Wie is ek dan? Daar was ’n ouer dame by sy nuwe werk wat hom verskriklik geboost het in ’n tyd toe ek meer op ons kinders gefokus het as op my man. Ons het nie geld gehad nie, ons kon niks betaal nie en boonop was een van die kinders baie siek. My oorlewingsinstink was om op hulle behoud te fokus. Ek het dit heeltemal misgekyk hoe leeg hy in sy man-wees was. Die ander vrou het hierdie behoefte vervul.

Hulle verhouding was aanvanklik net een van bemoediging, ondersteuning, erkenning en “jy-is-mans-genoeg”. Tot op ’n dag. Hy het ’n SMS gekry waarin sy hom weereens vertel het hoe wonderlik hy is, maar dit eindig met die woorde: “…en ek word in elk geval nie seksueel bevredig by die huis nie”. Dis tóé dat hulle verhouding seksueel geraak het. Dit het ’n hele paar maande voortgeduur.

Met die finansiële gemors en die geheime verhouding, het Francois hom al hoe meer van my onttrek. Hy sou huis toe kom en opsetlik skoor soek, want as ons baklei het, het hy minder skuldig gevoel. Dinge het dus baie vinnig baie sleg uitgerafel, tot op die punt dat ons besluit het dis beter om te skei.

[pagebreak]

Om jou geldsake en huwelik weer op dreef te kry

My ma het altyd gesê ek is haar sonneblomkind, want ek sien van nature die positiewe in alles raak. Ek was nog nooit iemand wat net gaan lê nie. Dalk het my naam iets daarmee te doen. Gretha beteken ewige hoop; dus het mense dit al van kleins af oor my uitgespreek.

Maar om nie moed op te gee nie was ook méér as dit. Dit was ’n keuse. Toe ek en Francois op die punt gestaan het om te skei, was nie een van ons gered nie. Ons was lou kerkgangers, maar ons het nie die Here persoonlik geken nie. Om op te staan was dus aanvanklik ’n wilsbesluit. Ek sien baie vroue wat ’n sterk geloof het, maar hulle maak nooit ’n doelbewuste keuse om terug te veg nie. Om egter geloof te hê én ’n keuse uit te oefen wat dit ondersteun, is ’n kragtige kombinasie. Ek het op ’n baie spesifieke dag en oomblik die kans gekry om mý keuse in geloof te maak. Ons twee het eintlik klaar besluit ons gaan skei, toe my ma ons na ’n gebedskursus toe stuur. Ek en Francois was glad nie lus nie, maar toe ons hoor daar is drie etes per dag (onthou, ons was hónger), het ons ingestem.

By die kursus was daar ’n vrou met ’n profetiese bediening. Ons ken haar nie (ons is daar vir die lasagne), maar die volgende oomblik loop sy tot hier reg voor ons sê: “Die Here wys vir my Hy gaan julle twee se huwelik laat omdraai, en dan gaan Hy julle gebruik om ander se huwelike om te draai.” Ons was uit die veld geslaan. Ons staan dan op skei! Nogtans, haar woorde het dadelik hoop in my hart wakker gemaak, my iets gegee om voor te veg. Francois het duidelik anders gevoel. Hy het nie eers die kursus klaargemaak nie, maar in sy kar geklim en gery. Ek dink hy het gevoel hier praat God met hom oor dinge van die lig, terwyl hy besig was met dinge van die duisternis. Op die kursus het ek radikaal tot bekering gekom en in ’n baie kort tydjie verskriklik baie geleer. Eenvoudige dinge soos: Ek het geweet Hy is ’n God van liefde, maar ek het nooit geweet Hy het mý, Gretha, persoonlik lief nie.

Omdat ek met nuwe oë na God, myself en die lewe begin kyk het, het ek ook aktief vir my huwelik begin veg. Ek wou dit nie sommer net weggooi nie. My man het hom steeds onttrek, maar nou, as hy gesê het sy hart is morsdood teenoor my, het ek saggies badkamer toe gegaan en gebid: “Here, Lasarus was óók dood en U het hom lewend gemaak. Ek weier om Francois se woorde te aanvaar.” As hy gesê het sy hart is so hard soos klip, het ek Skrif gaan soek wat dit weerspreek. Ek sou in die stilligheid verklaar: “Die Here sê hy sal jou hart van klip in ’n hart van vlees verander.”

Eendag het ek in Lukas gelees dat as ons nie die Here eer nie, die klippe Sy Naam sal uitroep. Omdat ek nog altyd ’n baie praktiese mens was, maar nie op daardie stadium openlik voor Francois kon bid nie, het ek Bybelverse op klippe begin neerskryf. Daar waar ek nie kon bid nie, het ek geglo die klippe sal die Waarheid uitskree. Ek het dit onder sy kar gesit, onder sy bed, in ons blombakke, in sy kas…daar was naderhand oral klippe met Skrif opgestapel. Mense naby aan my het later gedink ek is ’n bietjie die kluts kwyt.

Maar dit was my manier om my gebede, my hoop, te lééf. Ek het later gereeld kwekery toe gegaan om te vra vir los klippe wat klaar gebruik is, want ek het nie geld gehad om my eie te koop nie. Die man daar het my goed leer ken. “Hoeveel klippe soek jy vandag?” sou hy vra. Dan antwoord ek, Koki-pen in die hand: “Ses, asseblief, want ek het vandag ses verse gekry wat ek wil neerskryf.” Om deur God bemoedig te word het ongelooflik baie gedoen om my geloof te vestig.

[pagebreak]

God bevry ons van die tronk van ontrouheid

Ek verstom my oor hoe belangrik detail vir die Here is. Nog voor ek tot bekering gekom het, het ’n ander vrou vir my kom sê ek moet vir my man bid. Sy het in ’n droom gesien hy is in ’n tronk en vasgebind, en ek moet bid dat hy vrykom en oorwinning kry. In my onkunde en ongeloof het ek gedink sy praat van ’n fisiese tronk. Dit was eers toe ek tot bekering gekom het dat ek besef het dis ’n geestelike tronk. Ek het maande lank gebid dat hy moet vrykom, al het ek nie geweet waarvan nie.

Een aand het ek na ’n kursus by die kerk gegaan. Francois wou saamkom. Laat die aand, op pad terug, was hy baie stil. Al wat hy gesê het, was: “Greets, die Here wys my daar’s dinge in ons huis wat nie daar hoort nie.”

Hoor net ’n bietjie hierdie fyn detail! By die huis het hy teen middernag ’n klomp goed buitentoe begin dra en opmekaargestapel. Pornografiese boeke en dinge, en selfs van die kinders se speelgoed wat hy gesê het okkulties is. Toe gooi hy petrol oor alles en steek dit aan die brand. En só, kort voor middernag, staan ons buite by ’n groot vuur. Hy, biddend met trane wat oor sy wange rol. En ek, tipies na my aard, besig om hardop te sing.

Toe ons later die huis ingaan, sê Francois: “Ek weet ek is vry.” Alhoewel hy altyd gesê het hy weet nie hoe God vir mense Skrif gee en met hulle praat nie, het hy op daardie oomblik die Bybel by Handelinge 16:25 oopgemaak. Die ooreenkoms was verstommend, want daar staan: Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing…Skielik kom daar ’n groot aardbewing wat die fondamente van die tronk geskud het. Al die deure van die tronk het onmiddellik oopgegaan, en al die gevangenes se boeie het losgeraak. Ons het ook later uitgevind Francois se naam beteken “vry en in oorwinning”, presies dít wat ek vir hom moes bid. Hoe getrou is God, selfs in die kleinste stukkie detail!

Dwarsdeur daardie nag het Francois alleentyd saam met die Here deurgebring. Toe ek hom die volgende oggend sien, was dit duidelik dat hy heelnag geworstel het. In sy gesprekke met God het hy besef hy sal nooit voluit kan leef as hy nie die waarheid oor sy buite-egtelike verhouding vertel nie. Maar hoe?

Intussen het God mý voorberei, nog voor Francois met my kom praat het. Ek onthou nog die Here se stem in my binneste: “Jy, Gretha, het jou man met jou tong gebind. Jy moet hom vryspreek.” Hy het my herinner aan al die kere, selfs toe ons uitgegaan het, dat ek vir Francois gesê het ek sal hom alles vergewe, maar nóóit as hy my verkul nie. Die woorde het in my gees weerklink.

Toe hy in die badkamerdeur kom staan en sê hy het iets om my te vertel, kon ek voorbereid antwoord: “Wat jy ook wil sê, ek is reg om dit te hoor.” Francois is ’n groot man, maar hy het dubbel gevou soos hy gehuil het. Die skuldgevoel en verdriet het in ’n vlaag woorde en trane uit sy lyf geruk. Die waarheid was uit en ek kon sien my man is vry!

[pagebreak]

God gebruik jou grootste beproewing as jou bediening

Vergifnis maak nie die oortreder onskuldig nie, dit maak die slagoffer vry. Ek het ook geleer dat die mate van berou die mate van vergifnis bepaal. My man se opregte berou het dadelik genade in my hart geroer. Ek het hom vrygespreek, en ook daardie Maandagoggend na sy werk toe gery en vir die vrou gaan sê dat ek haar vergewe. Dit was die heel beste ding wat ek vir myself kon doen, want dit het my ook vrygemaak.

In die tyd toe dit so sleg gegaan het met ons, het ek geleer om te rejoice oor die klein wonderwerkies op jou pad, want dít bemoedig jou. Baie mense maak die fout om vir groot deurbrake te wag, maar jou krag om aan te gaan lê opgesluit in die klein oorwinninkies. Jy moet kies om dit raak te sien. Ek het ook opnuut besef hoe belangrik ondersteuning en kommunikasie is. Praat eers openlik met mekaar, deel julle emosies, word mekaar se buffer. As dít nie help nie, reik uit en kry professionele hulp. Partymaal is daar eenvoudige, praktiese oplossings vir ’n probleem, maar julle het ’n simpatieke oor en objektiewe opinie nodig. Hou ook aan bid, want gebed kán mense en situasies verander.

Bowenal het ek geleer dat God altyd die groter prentjie raaksien. Die afgelope twee jaar word ons huwelikskampe by ons Lodge buite Hartbeespoort aangebied, grond wat die Here op ’n wonderbaarlike manier vir ons bediening voorsien het. Ons was lank op soek na ’n gepaste naam. Ek het een oggend wakker geword met La Wiida Lodge in my kop. Ons albei het gehou van hoe dit klink, en was mal daaroor dat dit ons van bevat. En daar bederf die Here ons toe ons uitvind dat La Vida sowaar “lééf die lewe” beteken.

Wat kan ek sê? God slaan ’n reguit hou met ’n krom stok. Danksy Sy genade het ons ’n nuwe begin gemaak en leef ons inderdaad voluit.