Om jou pa se moordenaar te vergewe

0
314
moordenaar.jpg

Jennifer Chatburn ken die pyn van moord. Sy sal self nooit antwoorde kry nie, maar kan ander daardeur help.

Dis ’n vreemde prentjie: die mooi vrou wat oorkant die veroordeelde misdadiger in sy oranje oorpak sit. Vroeër het sy met die hele groep gepraat, maar nou wil die man met sy kaalgeskeerde kop en tatoe in die nek alleen gesels. Haar boodskap van vroeër lê swaar op die krop van sy maag. Hy was nie juis lus vir die whitey se storie nie. Almal met ’n graad of twee dink mos hulle kan engele uit tronkvoëls uit maak…

Jennifer het mooi herinneringe aan haar pa, Graham – die man wat sy eers regtig ná skool leer ken het. “Hy was in die Spoorweë en het vreeslik hard gewerk om te sorg dat ons alles moontlik het,” onthou sy. “En nou is daar niks oor van daardie netbalbal en mooi skoene wat hy vir my gekoop het nie.” Jennifer onthou haar pa ook as ’n speel-pa. “As hy by die huis was, het ons altyd pret gehad. Die treinvakansies was die beste! Ons sou van een dorp na die ander ry en nét lekker dinge doen. Vandag is daardie herinneringe vir my bitter kosbaar.”

As gevolg van die lang tye weg van mekaar, het Jennifer se pa en ma vreemdelinge vir mekaar geword. Sy was in matriek toe hulle geskei is. “Op my verjaarsdag! My hart was stukkend. Al het ek geweet dat hulle nooit regtig baie gelukkig was nie, dink ek tot vandag toe hulle het saam gehoort. As hulle net tyd gehad het om die probleme deur te werk…”

Graham het baie gesukkel om die egskeiding te verwerk, en die dag toe hy met ’n glimlag op sy gesig by die huis kom, was bittersoet. “Ek was so bly dat hy weer beter voel,” vertel Jennifer. “Verlief en verlore! Ongelukkig het ek niks van sy nuwe liefde gehou nie. Ek kon eenvoudig nie vatplek aan Louise kry nie. Maar nou ja, my pa was maar redelik skepties oor my kêrel ook!” ’n Rukkie later is haar pa en Louise getroud, en Jen het self afgehaak.

“My pa en Louise se huwelik het nie lank gehou nie, maar sy het hom wraggies oorreed om ’n tweede keer met haar te trou! Ek kon dit nie glo nie, ek was so verlig toe hulle geskei is. Moes hy wéér met haar trou?” ’n Paar maande later het Jennifer een Saterdagaand met haar pa oor die telefoon gepraat. “Hy het na ons verlang en was bly om van my te hoor, maar toe baklei ek met hom.” Sy het later gehoor hy was besig om foto’s van hulle laaste Kersvakansie saam te sorteer toe sy hom gebel het.

“Dit was ’n aaklige, aaklige gesprek. Ek het met my pa baklei omdat hy nie my boetie finansieel help nie; ek en my man moes op daardie stadium vir hom sorg. Hoe meer my pa probeer verduidelik het, hoe kwater het ek geword. Vir wat gee hy al sy geld vir Louise? wou ek weet. Kort voor lank was ek in trane en het woedend die foon in sy oor neergegooi. En dit sou die heel laaste keer wees wat ek met my pa gepraat het.”

[pagebreak] Toe Jennifer se man haar later in trane sien, het hy voorgestel dat sy haar pa bel en vrede maak. “Maar dit was al amper twaalfuur en ek wou hom nie wakker bel nie.” Die volgende dag het Graham spoorloos verdwyn. Hy het van ontsteltenis ’n entjie gaan stap, het Louise vertel, want sy dogter het met hom baklei. Hy wou sy kop skoonkry.

Wat daarna gebeur het, het in die volksmond die “kruisboogmoord” geword. Op elke koerant se voorblad is die raaisel stuk-stuk oopgekloof. Maar tot vandag toe het Jennifer nog nie die antwoorde waarna sy in die jare na 15 Februarie 1992 gesoek het nie. Wat sy wel weet, is dat Louise haar pa se moord baie fyn beplan het. Na die tweede troue het sy ’n groot polis op Graham se lewe uitgeneem, ’n kruisboog gekoop en gewag vir die perfekte geleentheid. Wat was nou beter as ’n argument met sy geliefde dogter? Die kans dat hulle Graham se liggaam ooit in die Liesbeekrivier sou opspoor, was skraal. Louise het Graham in sy slaap met die kruisboog deur sy kop geskiet en van sy liggaam in die rivier ontslae geraak. Maar toe spoor hulle sy lyk op…

“Ek is deur hel daardie twee dae voordat hulle my pa se lyk gekry het. En deur ’n inferno daarna. Die selfverwyt het deur elke sel in my lyf getrek. Ek het met hom baklei, die foon in sy oor neergegooi… En dit is hoe ons uitmekaar is. Vir altyd. Dit het my ’n rukkie geneem om te besef dat sy alles haarfyn beplan het en dat niemand die moord sou kon gekeer het nie. As ek en my pa nie baklei het nie, sou sy wel ’n ander geleentheid gekry het. Aan die laaste gesprek tussen my en my pa kan ek ook nie verander nie. Dit het gebeur. Ek wou net bitter graag weet hoekom sy dit gedoen het. Wat was die rede?”

Hoewel Jennifer met verloop van tyd wel ’n mate van vrede gekry het, was die groot vraag nog altyd: Hoekom? Sy het nog as haarkapper gewerk toe ’n kliënt haar oorreed om te gaan studeer. “Ek wou nog altyd, maar het nie gedink dit sou moontlik wees nie. Nou ja, dit was toe. Benoud oor die groot sprong wat ek gewaag het, bevind ek myself aan die begin van 2000 as eerstejaar op kampus. So het my pad met kriminologie en sielkunde begin.” Daar, het sy gedink, tussen al die boeke en teorieë sal sy uiteindelik haar antwoord kry. Jennifer het haar eerste graad behaal, toe ’n honneurs en uiteindelik ’n meestersgraad.

[pagebreak] “Ek sal dit nooit vergeet nie. Die eerste dag in die sielkundeklas het die dosent gesê: ‘As jy hier is om ’n oplossing vir jou eie probleme te soek, maak jy ’n fout.’ Hy was toe reg! Hoe meer ek geleer het, hoe minder het ek geweet. Tot ek op herstellende geregtigheid afgekom het. As deel daarvan, ontmoet die geliefdes van die slagoffer die oortreder.” Jennifer het ’n intense behoefte gehad om die program te volg en Louise in die tronk te gaan besoek. Om in haar oë te kyk en te vra: Hoekom? Sy wou ook meer besonderhede oor die moord hê: polisiefoto’s sien, detail, enigiets om die vraagteken in haar lewe weg te vat.

“Natuurlik was dit ontstellend, maar ek het ook besef dat die prentjies wat ek in my kop gehad het, ’n duisend keer erger was. Dis beter om met die realiteit gekonfronteer te word. Natuurlik het Louise nie my ‘hoekom’ beantwoord nie… Net soos sy destyds in die hof die skuld op ander gepak het, het sy aangehou om dit te doen.”

Al is daar na al die jare steeds ’n vraagteken vir Jennifer, was dit alles die moeite werd. “Ek het betrokke geraak by ’n herstellendegeregtigheidsprogram. In die tronke vertel ek my storie vir die gevangenes. Elke stukkie detail. Ek wys vir hulle foto’s van my pa soos ek hom geken het, en ook die foto’s van dít wat Louise vir ons agtergelos het. Dis nie mooi nie, maar dis die waarheid. Oortreders weet selde waarmee die familie gekonfronteer word. Hulle is dikwels geskok. Verder motiveer ek hulle om met hulle slagoffer se familie te praat, want net húlle het die antwoorde. Dit staan nêrens in ’n boek nie. Om te weet gaan nie die moord ongedaan maak nie, maar hoe minder vrae daar is, hoe makliker is die genesingproses. Die waarheid maak die oortreders en die persone wat hulle seergemaak het, vry.