Om ‘n gelowige te bly ondanks pyn

0
16
vermoor.png

Die berig in gister se Rapport het my diep getref. Rita en Wiets Botes van Delmas se babatjie (Wiehan) is verlede jaar vermoor. Vandag in Rapport is daar ‘n pragtige artikel oor hierdie ouerpaar. Rita is weer swanger en hierdie keer verwag sy ‘n tweeling, wat , soos die Here wil, oor ‘n maand gebore word. Maar ek wil net so ‘n paar sinne uit die koerantberig aanhaal wat my so geraak het. Die tweeling se name gaan Waldu en Anushka wees. Rita sê: “Waldu beteken Christen-kryger en Anushka beteken eerste bloeisel, God se seën.” Sy sê ook “Hulle het berusting oor Wiehan se dood, al was daar baie woede en verbittering.” En dan sê sy: “Ek dink nie mens verwerk dit ooit nie, mens leer net om daarmee saam te leef. Die Here dra my. En my fantastiese man.” En aan die einde van die berig sê sy: “Maar ons kan nie daarby vashaak nie. Hierdie kinders het ’n reg op gesonde ouers. Ons wil hulle nie met ’n wrok in die hart grootmaak nie.”

Minder as ‘n jaar gelede het hierdie ouerpaar deur intense pyn en hartseer gegaan. Ek weet ‘n mens kan jou nie indink wat hulle deurgegaan het nie. Baie ander mense sal woedend wees vir die Here omdat Hy dit nie verhoed het nie, maar Rita en Wiets het besluit hulle noem hulle twee nuwe babas Waldu en Anushka want “Waldu beteken Christenkryger en Anushka beteken eerste bloeisel, God se seën.” Hoe kry hulle dit reg om ‘n jaar na die verskriklikste hartseer so ‘n pragtige belydenis oor hul lippe te laat kom?

Mense vra dikwels hoekom is daar pyn, en hoekom laat God pyn toe. Ek ken nie die antwoorde nie, maar ek weet één ding, en dit is dat daar mense is wat die grootste hartseer en seerkry oorwin het, en hulle stel ‘n wonderlike voorbeeld vir ons!

Die Psalmdigter sê: “Want met U loop ek ’n bende storm, en met my God spring ek oor ’n muur.”