Om seks as ’n wapen te gebruik

0
537
seks.png

Van speletjie, na wapen en uiteindelik word ’n sekslose verhouding ’n kringloop wat julle vasvang.

“Seks is nie al wat ’n huwelik aanmekaar hou nie, maar dit is vir seker ’n kragtige gom om paartjies bymekaar te hou,” sê Elmarie Smith, aanbieder van seminare oor hoe om meer oemf in jou liefdeslewe te sit.

“Trouens, die grootste oorsaak van huweliksprobleme en affairs is seks. Die man kla gewoonlik dat daar nie genoeg seks is nie, terwyl die vrou voel sy kry nie genoeg liefde by haar man nie. Dit kan ook andersom wees, maar die feit is dat hierdie situasie in ’n bose kringloop kan verander waaruit egpare nie maklik kan kom nie.”

Jy soek meer liefde by jou man

Die Amerikaanse skrywer dr. Emerson Eggerichs skryf in sy boek Crazy Love Cycle dat seks die mees intieme liefdestaal tussen twee mense is. Ongelukkig verstaan mans en vroue nie dat die dialekte van hierdie taal tussen die twee geslagte verskil nie.

Vir ’n vrou is seks ’n baie meer emosionele ervaring as vir mans. As haar hart en kop nie op die regte plek is nie, kan sy ook nie haar lyf ten volle oorgee nie. Sy moet geliefd voel voor sy liefde kan maak.

As haar man dan seksuele toenadering soek, kan en wil sy nie reageer nie, want sy is emosioneel ongelukkig. As sy nie oor haar gevoelens praat nie, is die man dikwels salig onbewus daarvan dat hy verkeerd teenoor haar opgetree het. Al wat hy ervaar, is dat hy seksueel verwerp word – die ergste miskenning van sy manlikheid.

Jou man soek nie meer seksuele toenadering nie

’n Man sal uiteindelik ophou om seksuele toenadering te soek as hy aanhoudend verstoot word. Dit gaan selfs verder: Hy ignoreer ook sy vrou se pogings tot intimiteit. Sodoende beskerm hy homself teen verdere verwerping, maar betaal hy ook sy vrou terug vir die pyn wat sy hom gee.

Kort voor lank is die paartjie in ’n negatiewe siklus vasgevang: Sy voel nie geliefd nie, hy voel seksueel verwerp, hy soek nie meer toenadering nie, sy voel nie geliefd nie…en so hou dit aan.

Hierdie patroon kom ongelukkig meer algemeen voor as wat ’n mens sou dink. Dit is maklik om te voorspel wat dit aan ’n egpaar se sekslewe kan doen. Wat egter nie so voorspelbaar is nie, is wat die langtermyngevolge van hierdie siklus vir ’n paartjie se verhouding vir die res van hulle lewe kan wees.

Lees ook: 4 probleme wat getroude vroue verras.

Klein irritasies verander vinnig in groot probleme

Die negatiwiteit en verwerping wat man en vrou op seksuele vlak ervaar, gaan oor na die res van hulle lewe. Goed wat in die verlede as nietig beskou is, ontaard nou in groot rusies. Die vrou word woedend omdat haar man sy handdoek op die vloer los en die man is skielik nukkerig omdat sy ure op die foon spandeer.

Op die ou end baklei hulle oor allerhande goed wat niks met intimiteit te doen het nie omdat hulle te bang is om die werklike probleem in die oë te kyk. Seks, of eerder die weerhouding daarvan, word die maatstaf van die vlak van liefde en vertroue wat daar in hulle verhouding heers. Wanneer seks wel bespreek word, is die argumente vol seer en woede sonder dat daar tot ’n bevredigende oplossing gekom word. Seks word as ’n wapen gebruik om hulle pyn mee uit te druk.

Só kom julle uit die negatiewe seks-siklus

Die Bybel gee in 1 Korintiërs 7 ’n oplossing om uit hierdie siklus te kom. “Die man moet sy huweliksplig teenoor sy vrou nakom, en so ook die vrou teenoor haar man…Moenie vir mekaar omgang weier nie, behalwe met wedersydse toestemming…”

Hieruit is dit duidelik dat seks nie as ’n wapen gebruik mag word nie. Verstoting is nie eers ’n opsie nie. Maar omdat daar respek vir mekaar is, mag ’n eggenoot nie intimiteit van die ander persoon verwag wanneer dit ongemak sal veroorsaak nie. As een van die twee siek is of as een ongemaklik voel omdat die kinders enige tyd by die kamer kan inloop, moet die ander persoon dit respekteer.

Op die ou end gaan dit oor ’n balans tussen respek en liefde. As hierdie balans bewaar word, word seks ’n emosioneel en liggaamlik vervullende ervaring vir man en vrou.

Lees meer: Word weer dolverlief op jou man.

Vertaal en verwerk deur Marlize Leyden na aanleiding van ’n artikel Sex on request deur Lee J. Langley.