Om stil te word by God

3383

Dis belangrik om tyd te maak om stil te word en jou gees te verruim, maar dis soms moeilik om by jou goeie voornemens te bly.

Maandag

Doen moeite om jou af te sonder

Stiltetyd is betekenisvolle, lewensveranderende, persoonlike aanbidding. Dis daardie spesiale tydjie wat ’n mens in die teenwoordigheid van God deurbring. Die doel daarvan is om te aanbid, om te hoor wat Hy wil hê, om dankie te sê en jou lewe in lyn met Sy wil te bring.

Dis nie altyd maklik om die regte tyd en geleentheid te kry nie, want ons bly besig, dikwels met onbenullighede. Soms is ons net eenvoudig te moeg om nog in ’n besige dag hiervoor ook tyd te maak. Of ons begin, maar hou nie vol daarmee nie.

Daar is ook talle steurings terwyl jy besig is: jou selfoon wat piep, die deurklokkie wat lui, ’n kind met ’n krisis. Jy het dalk die beste bedoelings, maar dit werk nie altyd uit soos jy wil hê dit moet nie. Jou behoeftes kom noodwendig altyd laaste.

“Stiltetyd” is nie net ’n tyd waarin jy stil is en luister nie. Dis eintlik ’n gesprek. Stiltetyd gaan oor ’n intieme gemeenskap, waar jy jou diepste vrae, begeertes en behoeftes meedeel en ook luister na die troos, liefde en rigting vir jou lewe.

Psalm 1 sê die sleutel tot voorspoed en geluk is in die hande van dié mens “wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink”.

Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees (Rom. 15:4).

Dinsdag

Stiltetyd gee krag en maak jou gees gesond

Vroue droom soms daarvan om iewers hoog in die berge in ’n afgesonderde klooster te wees. Daar waar jy met die sagte sang van die monnike op die agtergrond net die geraas in jou alewig besige kop kan stilkry. Die wêreld waarin ons leef, is baie anders. Tog, jy kan ook iets van daardie rustigheid in jou oorvol dag inbou.

Iemand wat al heelwat tyd in kloosters in Italië en Frankryk deurgebring het, sê: “Die monnike het my geleer dat ons, waar ons ook al is, werklik op heilige grond is: dat die ‘heilige stilte’ nie alleen ’n noodsaaklike geestelike toewydingsoefening sedert die vroegste Christendom is nie, maar dat dit ook geweldige krag en genesing bewerkstellig.”

Daniël Verstraete, biskop van die Good Shepherd Retreat Centre, sê mense is te besig en hulle praat te veel. Hulle maak nie tyd om na God te luister nie. Hulle luister dan nie eers na mekaar nie! Ons gebede bestaan dikwels net uit ’n lysie van alles wat ons nodig het. Ons is heeltyd aan die woord.

Oor “heilige grond” en “heilige tyd” sê hy: Toe God vir Moses roep in die brandende braambos (Eksodus 3), moes Moses eers sy skoene uittrek voordat hy met Hom kon praat. Dit is simbolies van hoe ons “dinge” moet “uittrek” en buite los as ons met ons Pa praat oor ons probleme of ons dag se program.

Daardie oggend het Abraham vroeg opgestaan en na die plek toe gegaan waar hy in die teenwoordigheid van die Here gestaan het (Gen. 19:27).

Woensdag

Kies ’n tyd wat jou die beste pas

Die enigste manier om in stilword te groei, is om dit te begin doen. Soms is dit ’n groot gesukkel en voel dit of niks gebeur nie. Maar hou aan, want die Gees doen wel iets diep binne-in jou waarvan jy nog nie eers bewus is nie.

Jy sal moet opoffer om tyd te maak hiervoor. As jy dit eers begin doen, sal jy uitvind hoeveel seën daarin is. Paulus het drie keer oor ’n sekere probleem gebid, maar dit was eers toe hy stil geword het en geluister het dat hy God se stem kon hoor: “My genade is vir jou genoeg.” Daarna het hy berusting en vrede gevind.

Die meeste vroue weet hulle moet volhou om hulle geestelike verhouding te verdiep. Ons vraag is egter nog steeds: Wanneer? Waar? Hoe?

Willem Nicol van die NG Gemeente Universiteitsoord het al verskeie boeke hieroor geskryf: “Jy moet die tyd kies wat jou die beste pas. Vroue se behoeftes verskil; almal moet maar selfdissipline aan die dag lê. Later word jy so lief vir dié spesiale tyd dat jy na ’n jaar of twee sal ervaar dis die waardevolste tyd in jou dag.”

Stel jou wekker vir die tyd wat jy gaan gebruik, ’n kwartier, ’n halfuur of ’n uur… dan hoef jy jou nie te bekommer dat iets anders in die slag bly nie.

Soos sy gewoonte was, het Hy op die sabbatdag na die sinagoge toe gegaan (Luk. 4:16).

Donderdag

Kry ʼn spesiale plek waar jy rustig voel

Jy moet ’n plek inrig waar jy jou daaglikse ritueel kan uitvoer. Dit hoef glad nie ’n aparte vertrek te wees nie – jy kan sommer ’n hoekie in jou studeer- of eetkamer ook inrig. Sit ’n kers of ’n kruis daar neer en kry ’n spesiale knielbankie of lekker gemakstoel. Sit liefs regop sodat jou oë nie dalk toeval nie!

Raak eers bewus van jou lyf en geniet die sit vir ’n rukkie. As iets jou pla, gee dit vir die Here en vra Hom om jou hart oop te maak. Lees dan ’n stukkie in die Bybel of die Bybelgedeelte in jou dagboek.

Kyk weer na wat jy gelees het. Kies die deel of frase wat jou die meeste tref. Sluit jou oë en mediteer (dink diep) daaroor vir ’n paar minute. (Dis eintlik meer luister as dink.)

Laat jou aandag telkens na die woorde terugkeer en ontvang alles wat die Gees daardeur vir jou gee. Daar sal ander gedagtes ook deur jou kop gaan, maar dit moet jou nie pla nie, want dit is doodnatuurlik. Solank jy jou aandag elke keer sagkens na die woorde terugbring. Die ander gedagtes en terugkeer is deel van die proses. Antwoord nou op dit wat jy gehoor het en praat verder met Hom soos jy wil.

As jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon (Matt. 6:6).

Vrydag

Maak jou innerlike geraas ook stil

Om die innerlike geraas (begeertes en deurmekaar gedagtes) stil te kry, is die volgende langer tree. Vertrou op Hom om jou op hierdie stil reis dieper in Sy teenwoordigheid in te lei. Ontspan, want julle is nou bymekaar. As jy bereid is om ’n bietjie te wag, sal jou innerlike geraas en frustrasies wel soos ys in die son begin smelt.

Om notas te maak help ’n mens onthou wat jy lees en laat dit waaroor jy gelees het, beter by jou vassteek. Dit help jou ook om die gedeelte beter te verstaan. Dis belangrik om neer te skryf wat jy “hoor” uit die stuk wat jy lees.

Maak ook ’n gewoonte daarvan om die dinge neer te skryf waarvoor jy vra, asook die dinge waarvoor jy wil dankie sê. So kan jy sien hoe en wanneer jou gebede beantwoord word.

Hierdie joernaal kan ’n kosbare bron word waarheen jy kan teruggaan vir ’n boodskap, ’n oplossing of troos – wat jou behoefte ook al is. Ons moet doen en toepas wat ons in hierdie tye leer oor wie ons is, wie ons behoort te wees en waarheen ons op pad is.

As jou wekker afgaan, maak rustig klaar, kniel voor Hom en gaan dan voort met jou dag. Moenie ontevrede voel met hoe dit verloop het nie. Soms is dit rustig, soms onrustig, soms selfs dooierig; elke keer is anders.

Ek het die Here aangeroep en Hy het my geantwoord, Hy het my gered uit alle doodsgevare (Ps. 34:5).

Saterdag

Stilte is elke mens se grootste behoefte

Kaaiman sê sy navorsing toon dat meer as 90% van vroue na stilte hunker, veral na ’n retreat in die monnike se styl waar baie stiltye ingebou is. Na so ’n naweek getuig die meerderheid (selfs al was hulle aanvanklik bang en bedreig deur die stil tye) van die helende krag wat hulle ervaar het.

In ’n klooster is dit ’n kenmerk van monnike om minder te praat. Stilte word hoog geag en gewaardeer, veral die stilwees in God se nabyheid.

Jy kan net soos die monnike in jou eie huis of tuin ook op heilige grond beweeg. Jy moet net kies om tyd af te staan aan daardie allerbelangrikste afspraak elke dag. Die eerste stap is om te besluit om te wíl stil word en aan Sy voete te sit. Hy is immers die belangrikste persoon in jou lewe!

’n Geskikte plek en tyd is belangrik, asook die regte liggaamshouding. Jy kan ontspanningsoefeninge doen en diep en ritmies asemhaal. Jy selfs sekere gebedswoorde of Bybelfrases herhaal. Die belangrikste is om alle “geraas” uit te skakel en net bewus te wees van in Wie se teenwoordigheid jy is.

As jy graag minder bekommernisse wil hê, bid meer! Elke keer as jy voel hoe die bekommernisse oor jou toesak, moet jy eers halt roep en dit vir Hom sê.

Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend (Fil. 4:6).

Sondag

Kry ’n boodskap uit die Bybel, nie net feite nie

Ons kry ’n stilte van woorde, ’n stilte van begeertes en ’n stilte van gedagtes. Die feit dat jy al hoe minder praat terwyl julle saam is om mettertyd al hoe meer te luister en te wag, is al ’n eerste kort tree. Jy is op pad in die regte rigting!

Lees die Bybel soms anders. Kontemplatiewe lees is ’n baie spesiale manier van lees. “Kontemplasie” beteken “vrome oordenking” of “bespieëling”. Dis goddelike lees wat jou baie ontspanne maak.

Dit werk soos volg: Jy lees ’n kort stukkie en dink dan diep daaroor na met ’n ontvanklike gees. Jy moet genoeg tyd neem om in vrede oor die teks te dink. Jou gees moet die Woord indrink, soos ’n suikerbekkie wat sy snawel diep in die kelk van ’n blom druk om die soetste nektar uit te suig.

Dit moet jou hele menswees raak en moenie net jou denke stimuleer nie. Dis ’n ander manier om met die Woord om te gaan en vereis persoonlike verandering en groei. Jy kan hierdie metode gebruik as inleiding tot jou stiltyd. Met kontemplatiewe lees neem jy nie soseer feite in nie, maar eerder die boodskap.

Dit verg oefening en volharding om in hierdie dissipline in te groei, maar dis die aanhou werd. Moenie jouself met ander vergelyk nie: Daar is geen maklike “resep” wat vir almal werk nie.

Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou (Ps. 32:8).