Om te groei moet jy aanhou

0
82
Corli Botha

Koekedoor-wenner Corli Botha glo dat voortdurende introspeksie die enigste manier is om uit jou foute te leer, en dat dit die enigste pad na bo is.

Koekedoor-wenner Corli Botha glo dat voortdurende introspeksie die enigste manier is om uit jou foute te leer, en dat dit die enigste pad na bo is.

Hoe groter die fout, hoe groter die lewensles is my filosofie, al besef ons dit eers as ons terugkyk na ’n gebeurtenis. Ek het byvoorbeeld al dikwels toegelaat dat ander se opinies en verwagtings my besluite beïnvloed.

My kreatiewe werk het my ook al op ’n praktiese manier perspektief geleer. Daar was al baie flops of goed wat nie uitgekom het soos ek graag wou gehad het nie, maar ek het geleer as jy ’n flop nie kan red nie, begin doodeenvoudig weer van voor. Baie resepte het vir my meer soos ’n slagting as soos ’n kunswerk in die kombuis gelyk!

Die versoeking is groot om te maak asof dit nie gebeur het nie of om dit net te ignoreer. Dit verhoed ons dikwels om weer te probeer, want ons wil nie misluk nie. As ek moedeloos raak, herinner ek myself altyd aan iets wat my dogtertjie dikwels sê as ’n ding skeefloop, asof sy die volwassene is. Sy sê: “Mamma, daar is nooit ’n probleem so groot dat ’n mens dit nie kan regmaak of hanteer nie. Kom ons maak ’n plan.” Baie wyse woorde vir ’n meisie van haar ouderdom, maar ook ’n groot inspirasie vir my elke dag.

Gebed, geduld en geloof is altyd my reddingsboei as ek negatiewe gevolge probeer hanteer of gefrustreerd is met my aksies. As ek iets meer onmiddellik soek, is my kalmeermiddel ’n koppie warm tee of om ’n kas reg te pak. Net klein goedjies om my meer positief te laat voel. Die afgelope jaar het ek besef my verskuilde eienskap is dat ek die emosie uit ’n situasie kan haal as ek moet fokus. Dit was al meer as een keer my redding. Voor ek my oë kan uitvee, het ek al klaar ’n manier gevind om aan te beweeg. Ek is ’n optimistiese mens en beskou ’n probleem gelukkig eerder as ’n uitdaging of geleentheid.

[VIDEO] Corli Botha – Moed om te doen wat vir jou werk

Dit menslik dat jy jouself aanhoudend wil verwyt of kwalik neem. Vir my is die beste medisyne om eerder met jou kop as met jou hart te dink. Erken dit aan jouself, identifiseer presies wat jy verkeerd gedoen het en besluit om dit nie weer te doen nie. Dit is net die eerste stap, maar dit verskuif onmiddellik jou fokus na die positiewe sy van die ervaring. Dit is ook belangrik om te onthou dat ongeag wat gebeur of wat jy gedoen het, die negatiewe emosies en gevolge net tydelik is, dit sal weer verbygaan.

Elke ding wat ons dink, doen of oor besluit is ’n keuse! So, jy kan kies of jy wil aanhou om in die verlede rond te dwaal en of jy gaan aanbeweeg. Om die moed te hê om op te staan en weer te probeer is vir seker bevrydend. Ek dink wat ’n mens moed gee, is dat almal rondom ons tog maar net mens is, so, jy staan nie alleen nie. En dit word elke keer makliker.

Mense is geneig is om net die suksesverhaal te wil hê en vergeet dan dat daar ’n pad is wat gestap moet om daar uit te kom. Ek voel my sukses verteenwoordig net een persent van die werk. Dit is dan die gevolg van 99 persent leer uit wat jy verkeerd gedoen het. Bly altyd die lesse leer, probeer ’n nuwe manier van dinge doen. Hou aan totdat jy die regte weg vind. Maar ek dink dit is juis die foute in die lewe wat jou vir die groot eindresultaat voorberei. Die voorwaarde is dat jy elkeen bestudeer en aanhou om daaruit te leer; dan kan jy ook jou sukses meer waardeer.