Om te kan herlaai, het jy stilte nodig

2019 het op ‘n galop weggespring. Die een oomblik het almal nog luilekker die Oujaar gevier en toe ons weer ons oë uitvee, toe is die skole aan die gang, en daarmee saam die res van ons.

Ons wil vinniger, verder en beter doen as 2018. Wat my laat wonder waarvoor jaag ons nou eintlik? Wat van die goed wat jy vandag op jou lysie het om te doen, gaan oor ‘n paar jaar nog enigsins ‘n impak hê?

Miskien probeer ons om weg te hardlooop van onsself. As mens die heeltyd besig is en verwoed van die een projek na die ander projek werk, hoef mens mos nie stil te staan en te dink nie. Nie dink hoe om jou werk te doen of wat is vir ete vanaand nie. Nee, daardie diep dink wat net saam met stilte kom. Baie mense is bang vir daardie dink. Dis daardie dink wat jou laat vra wat maak ek hier? Hoekom lewe ek? Wat is die doel van dit alles? Wie is ek?

Die antwoorde op al die vrae is reeds in jou hart, maar om dit te kan hoor, moet jy tot stilstand kom. Moet jy stil word. Regtig stil. Ai, en wie het nou tyd daarvoor om net te gaan sit, jou brein se volume sagter te draai en na jou gees te luister?

As ons tog maar net wil besef, dat mens in die stil word oomblikke antwoorde, insig en energie bekom. Dat wanneer jy jou brein bietjie kan stil kry, jou hart en jou gees met jou kan praat, nie oor omstandighede nie, maar oor drome, geloof, hoop en liefde. Maak tyd om gereeld regtig stil te word die jaar. Sodoende, sal jy bewus wees van wat in jou hart en gees aangaan en sal jy met meer energie daagliks ‘n verskil in ander se lewens kan maak.

Vorige artikelBolletjies klei
Volgende artikelVerrassingsdroogte
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.