Om te lag – en te huil

0
1763
Hennie Jacobs

Die akteur en sanger Hennie Jacobs, wat die rol van Diederik in 7de Laan vertolk, weet humor in ’n huwelik is onontbeerlik, maar dat lighartigheid en erns hand aan hand gaan.

Daar is ’n besliste vonkeling in Hennie Jacobs se oë, ’n kenmerk van sy persoonlikheid. “Dis lekker om ander te laat lag,” erken hy. “Die lewe is kort. ’n Mens moet probeer om dit nie te ernstig op te neem nie. Soms is ’n glimlag al wat ’n iemand nodig het om die lewe vir hom beter te maak.”

Hennie se vrou, Marissa, bewonder haar man, en dit strek verder as sy talent as akteur. Vir haar is hy die man van haar drome. “Dis die klein dingetjies van die lewe wat saak maak, die gebare waarmee hy wys dat hy omgee.”

Vandat Marissa in sy lewe gekom het, is Hennie se siening oor die huwelik versterk. Hy glo as iemand veilig voel in ’n verhouding, is daardie persoon meer ontspanne en is dit moontlik om te wees wie jy in werklikheid is. “Behalwe dat Marissa die mooiste vrou is wat ek nog ooit gesien het, is sy ook een van die beste mense wat ek ken,” vertel Hennie.

Marissa stem saam dat hulle ’n gelukkig getroude paartjie is. “Dit was Hennie se mooi stem wat my in die eerste plek aangetrokke tot hom laat voel het. Daarna het ek sy hart leer ken, selfs nóg mooier as sy stem. Hy is nog steeds die amazingste man wat ek ken!”

Humor en erns word afgewissel in hulle saamwees, na gelang van wat op ’n bepaalde dag hanteer moet word. Hulle pas dit ook toe in die grootmaak van hulle kinders. “Ons weet wanneer om ernstig te wees en wanneer om iets tong in die kies te benader.” Hulle ken mekaar en is fyn ingestel op mekaar se gemoedstemmings en die situasie waarin die ander een hom of haar bevind.

“Ons praat baie met mekaar,” verduidelik Hennie. “Kommunikasie is onbeskryflik belangrik. Wanneer jy on par is met jou partner en wat in haar lewe aangaan, gaan daar ook meer geleentheid en ’n groter moontlikheid wees om ligtelik met mekaar om te gaan.”

Natuurlik ervaar hulle ook spanning in hulle verhouding. Dis veral die tydskedules wat nie altyd uitwerk nie en hulle mis mekaar baie wanneer hulle nie saam is nie. “Wanneer jy nie by jou mense kan wees nie, is niks lekker nie, want ons kan nie met mekaar gesels soos wanneer ons saam by die huis is nie.”

Hulle probeer die gaping oorbrug deur onder andere video-oproepe te maak, maar dis nie dieselfde as om in werklikheid by mekaar te wees nie. Tog vind hulle maniere om die krisisse wat deel van die lewe is te hanteer. “Ons bid saam daaroor,” sê Hennie.

Hennie voel sterk daaroor dat ’n mens wanneer jy by die huis is, ten volle daar moet wees. “Dan is die tyd om oor dinge te praat wat pla en ten volle te fokus op die mense wat eintlik die rede is vir jou bestaan.”

Wanneer Hennie en Marissa bymekaar is, terg hulle mekaar soms ’n bietjie. “Ons maak maar eerder grappies oor die klein jakkalsies, soos wanneer een van ons vergeet het om iets te doen.” Die paartjie het natuurlik troetelnaampies vir mekaar, iets wat vir hulle baie spesiaal is. En privaat!

Hennie voel elke dag is ’n gawe en moet as sodanig gewaardeer en gekoester word. “Jy moet elke dag vir jouself so spesiaal as moontlik probeer maak, juis omdat die lewe so kort is. ’n Mens moet seker maak jy leef elke dag ten volle en waardeer jou mense. Hulle is per slot van sake waaroor die lewe gaan en wat alles die moeite werk maak!”