Om te lag is die beste medisyne!

1443

’n Vrolike skaterlag verminder stres, verbeter jou bui, gee jou immuniteit ’n hupstoot en kan selfs pyn verlig. Geen wonder dat Salomo vreugde aanbeveel nie!

MAANDAG

Sien die snaakse in elke situasie

Jy ken seker iemand wat so lekker uit haar maag kan lag dat dit almal in die omtrek aansteek.

Sy is ’n sprankelende persoon wat elke dag met ope arms verwelkom. Dit is lekker om by haar te wees; sy straal van geluk en verhelder die somberste oomblik.

George Cooper het gesê: “Leer om op te hou kla. As jy niks goeds in die wêreld kan sien nie, bly ten minste stil daaroor. Leer voor enigiets anders om te lag. Dit koop meer vreugde as al jou geld in die bank.”

Humor kan beskryf word as die verskynsel dat sekere dinge wat ons as mense ervaar, ons laat lag en vir groot pret sorg. Die konsep “humor” kom van die antieke Grieke, wat geglo het dat die balans van jou liggaamsvloeistowwe (genoem “humores”) jou gesondheid en emosies beheer. Die mens is die enigste lewende spesie wat humor kan verstaan en ervaar.

Dis natuurlik nie dieselfde vir almal nie. Verskillende mense vind verskillende dinge snaaks. Een persoon sal haar slap lag oor ’n bepaalde insident, terwyl dit vir iemand anders niksseggend is.

Laat die Gees julle vervul, en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here
(Efesiërs 5:18-19)

DINSDAG

’n Lagbui is meer werd as duur medisyne

Navorsing het getoon dat gelukkige mense langer leef, gesonder is en oor die algemeen ’n beter kwaliteit lewe geniet as dié wat ongelukkig is. Daar is talle studies wat bewys dat hoe jy besluit om oor die lewe te dink ’n groot rol speel in geluk.

Jy is nie net ’n slagoffer van chemiese stowwe wat in jou brein afgeskei word nie. Jy is verantwoordelik vir jou eie buie. Iemand het eenkeer gesê: “Die hart bedoel goed, maar buie het geen lojaliteit nie. Daarom moet buie gehoor word, maar nie gesien word nie.”

Geniet die oomblik. Hier en nou. Hou op om so baie te dink aan wat nog alles gedoen moet word. Sien die klein dingetjies raak.

’n Mens kan jouself bluf om te dink jy is gelukkig. Glimlag breed as jy geïrriteerd voel met alles en almal. Maak ’n grappie en sit ’n huppel in jou stap as jy loop – so asof jy die Lotto gewen het. Probeer dit oor en oor en kyk wat kan gebeur! Hoe meer ’n mens voorgee dat jy gelukkig is, hoe vinniger sal jy so voel.

Ek het vreugde aanbeveel: daar is niks beter vir die mens in hierdie wêreld nie as dat hy eet en drink en vrolik is onder al sy geswoeg
(Prediker 8:15).

WOENSDAG

Wat sê die Bybel oor humor?

Humor is skaars in die Bybel, ’n mens moet dit eintlik maar tussen die reëls lees. Partykeer is die humoristiese oomblikke eerder galgehumor, soos wanneer die kinders Elisa spot oor sy kaal kop in 2 Konings. Of waar Petrus op die water probeer loop en dan sink as hy sy oë van Jesus wegneem.

Sarah het gelag oor die onmoontlike belofte van ’n baba op haar ouderdom. Maar sy het bly glo en gekry wat vir haar belowe is. Sy het selfs haar seun Isak genoem, wat “hy lag” beteken.

Wanneer ons so in geloof “lag”, kan groot dinge gebeur. Bonatuurlike vrede kan in moeilike omstandighede kom en ’n hopelose situasie kan reg uitwerk.

Ons lees dat die Spreukevrou lag oor die dag van môre. Dit beteken dat haar geloof so sterk is dat geen nuusberig of slegte tyding haar kan laat twyfel nie.

God gun ons dit om bly te wees, want Hy weet dit is goed vir ons. Ons moet ’n bietjie uit ons stroefheid kom en sommer net skater. Gee jou bondel probleme vir Hom en durf die onbekende aan. Jy hoef nie vir die toekoms bang te wees nie, want Hy is reeds daar.

Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees
(Johannes 16:24).

DONDERDAG

’n Tikkie vrolikheid gee sin aan die lewe

In Elsabé Aldrich se snaakse boek Vonkelkyk op die lewe skryf sy: “Humor is soos ’n gewilde, duur velroom. Jy vermoed dit doen nie alles wat dit belowe nie, maar jy voel beter as jy dit gereeld aanwend.

“Lag bring lig en laat waai vars lug deur muwwe en pynlike situasies. Al lyk dinge hoe donker, het kinders van God die versekering dat hulle nooit alleen is nie. Dit is genoeg rede om bly te wees.”

God gee ons rykdom en besittings en laat ons dit geniet. Hy sorg dat elke mens sy deeltjie kry en sy werk met vreugde kan doen. As jy dit alles as ’n gawe sien, dan is jy vol blydskap, ’n soort hemelse blydskap.

Volgens Elsabé hou dit baie voordele in vir jou lewe en dit is selfs op ’n sielkundige vlak genesend.

“Dieselfde goedvoel-endorfiene wat afgeskei word wanneer ’n mens ’n ver ent gaan draf, kom in jou bloedstroom as jy bevrydend skater. En dit is baie minder sweterig!”

Elke ding in hierdie wêreld het sy tyd: daar is ’n tyd om gebore te word, ’n tyd om te sterwe… ’n tyd om te huil, ’n tyd om te lag, ’n tyd om te treur, ’n tyd om van blydskap te dans
(Prediker 3:1-2, 4).

VRYDAG

Om vol vreugde te wees is ’n leefwyse

Een vrou, Chani, met ’n nommerplaat wat lees: 123FUN, ken die voordele van lag in ’n mens se lewe. Sy verduidelik dat die vrolike persoon wat ander raaksien, nie toegeskryf kan word aan ’n spesifieke gebeurtenis nie. Dis eerder die resultaat van iets wat oor ’n sekere tydperk in haar gegroei het.

Chani kan die gawe van vergifnis toepas, sy weet wie sy is en sy doen dinge wat vir haar lekker is. Haar vriendinne kan nie uitgepraat raak oor haar aansteeklike uitkyk op die lewe nie.

Sy werk hard aan haar doelwitte, maar sy kyk nie verlammend terug na dit wat sy nie bereik het nie.

Elsabé Aldrich sê: “Die toppunt van geluk is om so te lewe dat ons eendag by die Groot Prysuitdeling sal kom en die woorde hoor: ‘Jy het die Droom ontsyfer en bewaarheid met al die toerusting wat Ek aan jou gegee het. Jy het gewoeker met jou talente. Jy het liefde geleef. Welkom tuis, my kind!’ Ek hoor al hoe lag die engele van vreugde!”

Nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê
(Galasiërs 2:20).

SATERDAG

Elke mens is verantwoordelik vir haar eie geluk

Wanneer jy jouself en jou onvolmaaktheid volkome aanvaar, wen jy elke keer. Jy is verantwoordelik vir jou eie vreugde en vir die keuses wat jy elke dag maak.

Die werklikheid is dat die lewe sy draaie met elkeen van ons loop. Niemand is gevrywaar van hartseer en pyn nie, maar met die regte, positiewe ingesteldheid sal ons die snaakse in elke situasie kan raaksien en die reis geniet.

Selfs ’n slegte ding kan ’n avontuur word as jy omgee vir die mense rondom jou. Drummond Robinson, die skrywer van Seven Secrets to Fan the Flame, onthou toe die wasmasjien se pyp gebars en hulle hele huis oorstroom is.

In die middel van hierdie krisis het sy ma se humorsin skielik ingeskop. Die hele gesin is nader geroep om deel te neem aan die binnenshuise glip-en-gly. Daardie insident is een van sy beste herinneringe van kindwees.

Ons kan tog partykeer so ernstig wees. Spontane tye gee soveel kleur en geur aan ’n verhouding.

Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!… Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend
(Filippense 4:4-6).

SONDAG

Kry só weer ’n huppel in jou stap

Jy alleen is verantwoordelik vir jou eie geluk. Mense kan ’n inspirasie wees, maar slegs jy kan jouself motiveer om gelukkig te wees.

Gaan terug na ’n tyd toe jy lekker kon giggel. Miskien was dit toe jy nog ’n kind was, met geen bekommernisse nie. Wat was toe anders? Is dit moontlik om meer daarvan nou in jou lewe in te bou? Selfs al het omstandighede verander, sal die regte gesindheid elke situasie prettig kan maak.

Aanvaar die dinge wat jy nie kan verander nie. Die goue reël is: Doen die moontlike en bid vir die onmoontlike. Raak ontslae van daardie wrokke waarmee jy nou al so lank rondloop. Vergewe, skud dit af en gaan dan aan met die lewe.

Kry ’n duidelike visie van daardie gelukkige en borrelende vrou wat daar binne wegkruip en voed haar met positiewe keuses. Geniet die lewe weer soos ’n kind. Vergeet van wat ander gaan dink of sê, neem die inisiatief en skep geleenthede vir meer pret.

Maak tyd om weer die dinge te doen wat vir jou lekker is. Wees slim: Beplan vooruit en besluit hoe om meer pret in die lewe in te bou.

Wees altyd dankbaar. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing
(Kolossense 3:15, 16).