Om te praat of nie

Party mense moet praat, want dis hoe hulle ‘n ding uitredeneer.

Hulle maak nie altyd sin nie, veral as hul in hul persoonlike redeneer fase is (die deel wat ander mense eintlik alleen binne in hul koppe doen). Dit frustreer die stilles (mense van min woorde). Praters sukkel weer om sin uit stilles te maak, want wat op aarde dink hulle?

Of jy nou ‘n prater of ‘n stille is, beteken dit nie altyd dis vir elke situasie die beste nie.

Soos byvoorbeeld, tydens jou kind se skool eksamen. Wanneer praat jy en wanneer bly jy stil?

As prater, loop ek in eksamentyd met al my woordjies opgeslurp, skoon rooi in die gesig van al die opslurpery.

Ongelukkig of gelukkig, kan ek nou nie help vir my DNA as Ma nie: Dis mos om namens die hele gesin te staan en bekommer oor goed.

Dit raak tyd vir ons dogter se belangrikste eksamen in haar hoërskool loopbaan. Volgens ervare ouers is dit nie matriek nie. Dis sommer net Graad 11. Blykbaar raak universiteite meer opgewonde oor die Graad 11 eindeksamen as enige ander skool eksamen, alhoewel jy matriek moet hê.

Ek probeer toe met baie en min woordjies om meisiekind voor te berei op die ernstigheid van hierdie saak. Mens wil net seker maak liefste bloedjie verstaan hierdie paal-bo-water belangrikheid.

Met die wegtrek van hierdie belangrike eksamen, koekeloer ek op teleskopiese wyse na die leer vordering. Dinge lyk nie te ernstig nie, maar ek knyp my woordjies nog suksesvol vas.

Om woordjies te knyp is blykbaar nie goed vir my algemene gesondheid nie. Die slim horlosie wat my man vir my gekry het om my fiksheidbewus te hou, reageer bietjie oorgretig. My angsvlakke spring sommer van ‘n voor-eksamense laag na ‘n midde-eksamense hoog.

In die daaropvolgende dae besluister ek ‘n vriendin se stres verhaal. Volgens haar wil haar kind nooit rus nie. Hy dink nie eens aan enige sosiale byeenkomste of iets dergliks nie. Al wat hy doen is om homself in sy kamer op te sluit met boeke, papiere en ‘n meegaande bui.

Hy kry te min vars lug; dink sy. Ek dink: Die vrou is geseënd.

My eie liefieding kry geen tekort aan vars lug of ekstra kurikulêre ontspanning nie. Oefening, flieks kyk en Instagram gee haar soveel afleiding dat dit amper die pendulum van balans heeltemal onderstebo dompel.

Die ergste week van haar eksamen breek aan. Sy toon tekens van belangstelling en lig my in dat sy soos ‘n nagdier is en regtig eers goed funksioneer, wanneer selfs die uile al gaan slaap het. Sy is ‘n diep nag leerder!

Soggens sien die son en ander lewende wesens haar eers so van elf uur af. Dit neem dan omtrent twee ure om deur opstaan en ontbyt te ontwaak tot leerwaardige materiaal.

Ek kyk my slim horlosie en sien dat as ek my mond nie binnekort oop maak en my vrese verwoord nie, kry ek dalk ‘n gruwelike rooi lesing.

Toe bewoord ek maar al die kwellende gedagtes.

Waarskynlik, het van my woordjies nie mooi sin gemaak nie, want my tiener het so paar keer haar oë gerol, kop geskud en toe besluit die gesprek is nie haar kosbare tyd werd nie. Ek mors toe sowaar haar tyd wat sy beplan het om te leer. Om sewe uur die oggend?

“Dis dié belangrikste eksamen van my lewe, Mamma!” O!

My slim horlosie het sommer gekalmeer. Sekerlik omdat my woordjies uiteindelik vrygelaat was.

“Mense verskil as dit kom by voorbereiding vir eksamen, Mamma!” Ja, dis so!

Om te praat of nie, bly vir praters en stilles ‘n uitputtende ding om te beheer. Dit blyk egter somtyds terapeuties te wees om wel te praat, oë toe te knyp en met ‘n skietgebedjie te hoop jou woordjie-kanon skiet nie te hard wanneer dit sag moes gewees het nie.

Wel, eintlik bly dit maar ‘n saak van gebed. Ons almal weet hoe skerp ‘n mens se tong kan wees.

Sterkte aan al die eksamen mammas en mag jul genade kry om te weet wanneer en hoeveel om te praat.