Om te skoffel of nie

Dit is ‘n nuwe jaar. 365 geleenthede om oor te begin. 365 kanse om 2018 finaal af te sluit.

Koning Hiskia was nie perfek nie, maar hy het probeer doen wat reg is. Hy het die afgodsbeelde laat afbreek, en selfs die koperslang wat Moses laat maak het, vernietig. Die mense het daaraan offers begin bring en dit was verkeerd. Dit was nooit Moses se doel daarmee nie.

Sy hele lewe word eintlik mooi beskryf in net 2 verse in die Bybel – 2 Konings 18:5,6:

“Hezekiah trusted the Lord God of Israel. No other king of Judah was like Hezekiah, either before or after him. He was completely faithful to the Lord and obeyed the laws the Lord had given to Moses for the people. The Lord helped Hezekiah, so he was successful in everything he did.”

Elke keer as ‘n uitdaging oor Koning Hiskia se pad gekom het, het hy die Here se raad gaan opsoek. Toe die vyand hom tart en probeer uitlok deur kwaad te praat van die God van Juda, loop skeur hy sy klere… en gaan tempel toe.

Hy raak nie betrokke in ‘n woordgeveg met die aardse instrumente van die aanvoerder van die duisternis nie. Hy bid. En die Here antwoord.

Kort hierna word koning Hiskia siek en die Here stuur Sy profeet om hom te waarsku om sy huis in orde te kry. En Hiskia, wat gedurig die teenwoordigheid van die Here opgesoek het, wat hom tuis gevoel het in die plek van die Allerhoogste, het die hemelse durf om die Here te herinner:

“ ‘Here, onthou tog dat ek altyd probeer doen het wat U wou hê.’ “

Ons almal weet dat daar geen mens op aarde is wat blaamloos voor God kan staan nie. Selfs koning Hiskia sou moes erken dat sy probeer soms net nie genoeg was nie. Maar ek lees oor hierdie gedeelte:

“No doubt he had made mistakes.
But his heart was right with God.”

Dit is moontlik om foute te maak, maar steeds jou plek by Vader se voete te behou.

Hoe? Deur gedurig te vra soos Dawid: “Here, wys my waar ek skeef getrap het. Herinner my, maak my oë oop vir my eie foute, kom pla my hart wanneer ek verskoning moet vra, kom maak vir my die weg oop na daar waar ek weer voor U kan staan.”

En so, deur gedurig die voetpad tussen my en God oop te kap en die braambosse weg te snoei, bly my saak met die Here reg. Bly my verbinding met Hom oop en leeg van enige hindernisse wat tussen ons sou kan kom lê.

Dit is 2019. Dalk is daar nog 2018-duwweltjies wat geskoffel moet word. Doen jouself ‘n guns en doen dit voor die son water trek. Vroeg in die oggend, terwyl die wind nog nie opgekom het en die klein maaifoedies oral tussen jou groentetuin ingewaai het nie. Want dan gaan jy dalk baie langer moet swoeg om dit weer uit te kry.

My pa was ‘n vreeslik handige man wat sommer sy eie ‘gadgets’ in ons garage aanmekaar gesweis het en dan ewe trots die eindproduk rondgeparadeer het. Een daarvan, was so ‘n handgedrewe skoffelmasjien, onthou ek nou.

Maar selfs daardie intelligent-ontwerpte skoffelaar sou nie oral kon inkom om die vuilgoed uit te kry nie. Iewers was daar maar altyd ‘n vuilgoedjie wat onder die tamatieplantjies ingewikkel het, of tussen die rankboontjies. En dan was knieë toe, die enigste antwoord.

Soos wat hy ouer geword het, sou die knieë-ding vir hom al hoe moeiliker word. Dan sou hy sekerlik my boetie of die naaste buigbare persoon kry om namens hom op sy knieë te gaan.

Soms trek die skadu’s lank voor jou uit, en voel jy nie die drif of die moed om self af te sak nie.

“In certain ways we are weak, but the Spirit is here to help us. For example, when we don’t know what to pray for, the Spirit prays for us in ways that cannot be put into words.”
Romeine 8:26 CEV

Mag daar geen son sak in 2019 sonder dat jy onder ‘n tamatieplantjie ingeloer het nie.

Jou temalied vir die week: Yet not I, but through Christ in me

Vorige artikelWat Is Die Bron Van Jou Geluk
Volgende artikelHoe groot is jou vliegtuig
Blogger - Maxie Heppell
Vir baie lank het my lewe nie regtig rigting gehad nie. 'n Gekompliseerde kindertyd, verkeerde keuses en dan die ongelukkige gevolge daarvan, het my gevange gehou. Tot daardie dag dat die Here Sy kind uit die modder opgetel en haar voete stewig op Vaste Rots laat land het. Psalm 40 bly tot vandag toe 'n groot favourite! Dit het my baie jare geneem om uit te kom by dit wat Hy nog altyd vir my lewe bedoel het. Maar nou is ek hier. En ek glo in God Drie-Enig, in die maagdelike geboorte, in Jesus aan 'n kruis, maar meer nog - aan die opgestane Jesus in my eie lewe. Ek glo dat Hy ons weer gaan kom haal en dat ek tot dan die Heilige Gees het wat my lei en my denke help vernuwe. In 2009 behaal ek my B.Th graad in teologie en sedertdien preek ek, praat ek en deel ek oral waar ek genooi word. Ek en my eerste liefde en ons langhaar-vierbeen meisiekinders bly tans op Jeffreysbaai in die Oos-Kaap en ons getuig gereeld: Die Here is nie net goed vir ons nie, Hy bederf vir ons!