Om voluit te lewe met die regte beplanning

Ons is darem maar lief om lysies uit te skryf!

Dis inkopies, dis dinge wat gedoen moet word beter bekend as die “to-do-list” en dan nog daardie “bucket list” ens. Liewe land waar kom die einde!?

Meeste van ons is so lief vir daardie “doen lysies” en om die waarheid te noem sommige van ons lê snags in die bed en dink alreeds wat die volgende dag gedoen moet word. Dit veroorsaak net meer frustrasies by jou!

Die rede hiervoor is doodeenvoudig. Ons kry te min slaap in en daarna sit ons met ‘n bui wat weer veroorsaak dat ons na almal wil hap wat net vir ons iets dalk mag sê wat ons nie dalk van hou nie.

Dan is daar boonop ook dalk goeters waaroor ons gereeld dink ook op daardie lysie van ons. Dis eintlik daardie dinge waaraan ons gereeld dink wat ons tyd steel asook ons lewens geluk. Daardie negatiewe dinge wat ons liewers moet verplaas na ‘n ander lys.

Daar is ‘n lysie vir daardie goed wat ons tyd steel. Ek gaan nou maar die Engelse naam gebruik NOT-TO-DO-LIST. So kom ons span vir ‘n slag daardie lysie in gebruik en skryf daardie dinge neer wat net negatiewe emosies vir ons in hou.

Hier is Jesus se inskrywing op Sy “not-to-do-list” “ … en los môre se probleme vir die dag van môre.  Van probleme het elke dag immers oorgenoeg. Leef vandag voluit vir God!” (Matteus 6:33)

Ek sou voorstel dat ons dalk hierdie paar punte kan neer pen.

~ Om onsself te bekommer oor môre.

Laat dit oor aan Jesus wat die stuurwiel van ons lewe in Sy hand het.  Dit help ons nie om te dink aan dinge wat kan of dalk mag gebeur nie. Om te stres hieroor gaan jou immers niks in die sak bring nie.

~ Om jouself te herinner oor jou verlede, jou mislukkings asook jou swakpunte.

Jy kan niks doen aan jou verlede nie. Dis gedane sake. Dit kan nou wees geleenthede wat jy deur jou vingers laat glip het of dinge waaroor jy spyt is. Al wat jy hieraan kan doen is om dit uit jou sisteem te kry is d.m.v skryf jou frustrasies neer oor die dinge waaroor jy spyt is. As dit iemand is wat jy te na gekom het dan sal ek aanraai en gaan maak reg met daardie persoon.  Dit sal nou nie beteken dat julle weer boesem vriende gaan wees nie, maar vir jou sal dit ‘n berg van jou skouers af wees. Ons almal het swakpunte en ons moet eerder fokus op ons sterk punte. Ons almal kan tog nie Olimpiese atlete wil wees of dalk briljante akteurs ens nie. Ons almal het sekere talente of gawes dit hang net af of ons dit gaan begin om dit te ontdek of nie!

~ Om oor alles te kla.

Behalwe as jy wel iets daaraan kan doen om dit op te klaar, maar anders fokus op die goeie dinge. Ons almal het dit nie breed in die lewe nie, maar elkeen van ons het beslis iets om voor dankbaar te wees – fokus op die GOEIE dinge as om te kla.  Jy wil tog nie bekend staan as ‘n kla kous nie! Wil jy?

So wat gaan jy op jou lysie skryf?