Om werklik veilig te wees, moet ek my sekuriteit prysgee

127

Sekuriteit. Dit is baie meer as om jouself teen kriminele te probeer beskerm. Of om genoeg geld in die bank te hê sodat jy nie angstig hoef te wees oor die toekoms nie.

Ons verwelkom oënskynlike teenstrydighede. Soms lyk iets soos ’n bedreiging, maar dan is dit eintlik nie. Ander kere lyk dinge heel onskuldig, maar dan is dit juis dodelik gevaarlik, met ewige implikasies. Veilig speel is dikwels ’n gevaarlike manier van leef wat jou oneindige skade kan berokken.

Van kleins af voel ons onveilig in die donker. Bang om alleen te wees. Bang vir stilte. Ons hou ook nie daarvan om iets af te staan wat ons glo ons s’n is nie. Een van die heel eerste dinge wat ’n baba doen, is om te keer dat iemand iets kry wat aan hom behoort. Elke kind maak baie vroeg een van die gevaarlikste woorde in die lewe deel van sy arsenaal: myne.

Om alleen te wees en te laat gaan waaraan ek eerder wil vashou, is nie maklik nie. Dit laat my onseker voel. Ek voel bedreig. Maar dis juis dan dat ek dapper moet wees en dit net moet dóén.

Stil wees. Eenkant kom. Hoe moeilik is dit nie om daardie belangrike stap te neem nie? Om voor die kil spieël van die werklikheid te gaan sit. Om te kyk en te kyk tot jy jouself sien soos jy is. Om jou af te sonder totdat jy hoor waarvoor jy die bangste is. Agter te kom hoe dit regtig gaan in die diepste plekke van jou wese.

Stilte is ’n bedreiging, ja. Maar slegs vir dit wat vals is. Dit wat onskadelik lyk maar eintlik doodmaak en steel. Die stilte maak dood, maar dit maak dood wat móét sterf. En net die dapperes laat toe dat alles wat vals is in hulle sterf.

Jy kan jouself probeer flous en dink jy is onaantasbaar en ondeurdringbaar. Maar jy móét dit waag om gereeld na die “onveilige” plek van eerlikheid en gestrooptheid te gaan. Anders is jy veilig op die bedrieglikste en gevaarlikste manier wat daar is!

Die beste manier is om voor Hom te gaan staan wat terselfdertyd ons grootste bedreiging én grootste sekuriteit is. Hy wat wil doodmaak wat moet dood, wil stroop wat gestroop moet word en wil laat lewe wat moet lewe. Hy wat my wil help om daardie eerste woord wat ek so koester vanaf kleutertyd te laat gaan. “Myne” is mos lankal nie meer myne nie!

Die veiligste plek in die wêreld sal my nie kan beskerm as ek dit nie soms waag om kwesbaar te wees nie. Die grootste rykdom sal nie genoeg wees as ek nie leer dat niks myne is nie.

Die mees opwindende lewe sal my nie kan vervul as ek nie op die plek kom waar Hy alreeds was nie. Hy het alle sekuriteite prysgegee daar in ’n stil tuin: “Laat nogtans nie my wil nie, maar U wil geskied…” Nie maklike woorde nie. Maar dis die beste manier. Dís sekuriteit. Dís veiligheid.

KOOS VAN DER MERWE is ’n bekroonde liedjieskrywer, predikant en solokunstenaar.

Gebruik die afslagkode KOOS om die boek STAAN OP, STAAN VAS, STAAN UIT te koop op voelgoedboeke.co.za. R104 R149