Onbenullighede steel maklik julle vreugde

0
1167

As jy lank genoeg getroud is, weet jy die gesegde van klein jakkalsies wat ’n wingerd kan verniel, is waar. Kies om julle huwelik te beskerm.

Die probleem, soos met regte jakkalse, is dat ons nie die getjank en die teenwoordigheid van ’n jakkals op ons grond kan ignoreer nie. Dalk het jy al gif oorweeg, nie net vir ’n jakkals nie, maar vir jou man ook. Jy het al probeer om hom in te wag in die nag met die hoop dat julle die jakkals sal hanteer en dinge sal uitpraat, net om die volgende dag weer dieselfde getjank te hoor.

Met genoeg jakkalse rig jy mettertyd versperrings op – die spreekwoordelike muur tussen jou en jou man. So groot as wat hierdie realiteit in elke huwelik is, net so groot is die moontlikheid om dit te verander.

Kies om nie dadelik te reageer nie

Ek is lank genoeg getroud en ek praat gereeld met paartjies tydens ons huweliksnaweke om te weet dat geen werklike huweliksprobleem ’n kitsoplossing het nie. Die waarheid is egter dat baie dinge in die meeste verhoudings anders sal lyk as mense die kuns aanleer om nie dadelik op die negatiewe dinge te reageer nie.

Sodra iets op ons emosionele knoppie druk, is die natuurlike reaksie om aan te val, oë te rol, mekaar af te jak, te beskuldig of ons te wip tot in weke lange stilstuipe. As ons egter besef hoeveel waarde dit het om nie te oorreageer nie, maar eerder ’n afkoelperiode te kies, sal ons dit vir seker meermale doen.

Om dadelik te reageer op iets kleins wat jou irriteer of wat jou maat verkeerd gedoen het, het nog nooit positiewe gevolge gehad nie. Ons sê en doen net onnodige goed wat soos dominostene in alle rigtings val en alles later omstoot. Loop ’n draai, maak jou kop en hart skoon, haal asem en kry perspektief voordat jy reageer.

Bepaal of die issue volgende jaar nog gaan tel

In oomblikke van woede, pyn en teleurstelling vang ons soms dinge aan wat eerder kon gebly het. Ek weet dis belangrik dat paartjies dinge moet oplos, maar as ons die jakkals groter maak as wat hy werklik is, sal dit ons enigste fokuspunt word.

Is die ding waaroor jy nou stilstuipe kry of kwaad gaan slaap of wat jou vreugde steel, werklik so ’n groot issue? Ek weet nie of jy dit ook so ervaar nie, maar ek en Francois het al oor dinge baklei en vasgesit en dan was ek vir ’n week lank omgekrap daaroor. ’n Jaar later kan ek nie eers onthou waaroor die bakleiery gegaan het nie. As ons die dag handdoek ingooi met ons huwelike, of ons maats verloor of selfs aan die dood afstaan, besef ons dalk dat die dinge wat groot gelyk of gevoel het, eintlik totaal onbenullig was.

Om aan die klein jakkalsies te werk, beteken dalk dat ek nou moet kies om die mooi kampvuur raak te sien, al hoor ek die jakkals se getjank. Geniet die maanlig en hou op brom oor die ongenooide gas op die agtergrond.

Verskuif jou aandag na die positiewe dinge

Natuurlik beteken dit nie dat jy in ontkenning moet leef en die probleem moet ignoreer nie, maar baie dinge sal anders lyk as jy dit kan regkry om eerder op die positiewe aspek te fokus.

Jy kan in die mooiste vertrek met die duursaamste meubels, skilderye en blomme staan, maar kies om vas te kyk teen die spinnekop teen die muur. Of jy kan die mooie waardeer, ten spyte van die ongedierte wat vir jou loer.

Miskien gee hy nie vir jou komplimente nie, maar hy maak die krane en waterpype in die huis reg. Miskien is hy nie ’n man wat soveel tyd met die kinders deurbring soos jy graag wil hê hy moet nie, maar hy werk ongelooflik hard om kos op die tafel te sit vir julle gesin. Hy is dalk nie ’n man wat emosioneel praat oor dinge wat in sy hart aangaan nie, maar hy hang nie elke aand in ’n kroeg rond en verdrink sy sorge nie.

Kies om jou wingerd teen die jakkalse te beskerm. As jy elke dag ’n boom in jou wingerd plant, kan die jakkalse maar kom!

Gretha Wiid, huwelikskenner

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Gretha.