Ongeduldig raak en kwaad word gaan nie help nie…

Wat doen jy as dinge buite jou beheer raak?

Hier praat ek nou nie van as groot lewensveranderde krisisse oor jou pad kom nie, ek praat van daardie klein goedjies wat jou dag deurmekaar kan krap…

Soos wanneer jy skielik in ‘n verkeersknoop op die snelweg beland. Al die bane staan stil en jy sien hoe tik die tyd verby. Jy gaan laat wees en daar is niks wat jy daaromtrent kan doen nie. Of jy moet dringend ‘n stuk werk klaarmaak en skielik is die hele dorp se krag af. Omstandighede buite jou beheer.

Die mens se natuurlike reaksie op hierdie klas van dinge is om dadelik gespanne te raak. Die oeroue veg of vlug reaksie skop in. Maar dis juis die probleem, in die meeste van die situasies is dit buite jou beheer. Sit jy in die verkeersknoop vas of as die hele dorp se elektrisiteit af is, kan jy nie veg of vlug nie. Ongeduld skop in. Humeure “ref” in die rooi. Kort voor lank het jy ‘n hoofpyn. Sjoe… het dit gehelp om te stres daaroor? Het jou ongeduldige getrommel met jou vingers op die stuurwiel die verkeer weer in beweging gebring? Het die krag weer aangegaan nadat jy vir almal in die omtrek vertel het presies wat jy dink van die gebrek aan dienslewering in die dorp? Nee!

Ons moet leer om dinge wat buite ons beheer gebeur te aanvaar en dit te laat gaan. In stede daarvan om kwaad te word oor die verkeersknoop, luister liewer mooi musiek, as jy alleen in die motor is, gebruik die geleentheid om te bid of sommer lekker te sing.

En terwyl jy nou weet dat verkeersknope op die snelweg wel en gereeld gebeur, sorg maar dat daar altyd ‘n bottel water en ‘n koudingetjie in die motor is, dit kan ook help om jou tot bedaring te bring. En ja, ons almal weet elke dorp het soms elektrisiteitsprobleme, belê maar in ‘n gasbottel wat ten minste kan help dat jy ‘n koppie tee of boeretroos kan maak terwyl jy wag vir die krag om weer aan te kom. Bowenal, hou dit rustig. Bly kalm en vat elke dag soos dit kom.

Vorige artikelOor grootword
Volgende artikelLIANIE MAY se Bosveld Burger
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.