Ons gaan 2018 saam aanvat!

Welkom in 2018! Twee weke van die Nuwejaar is al agter die rug en so stadig-stadig begin almal weer rigting en roetine kry.

Ek hoor oral van Nuwejaarsvoornemens en mense wat verklaar di­­é jaar is hulle jaar. Die jaar gaan hul groot gaan, maar dan beloer ek hulle so en sien hulle doen alles nog presies dieselfde as laasjaar.

Min mense besef dat vir verandering om plaas te vind, hulle moet verander. Omstandighede, gewig, fiksheidsvlakke, finansies en drome sal dieselfde bly tot jy verander. Anders oor dinge begin dink en anders begin doen.

Laasjaar se roetines gaan niks help om jou drome hierdie jaar te laat waar word nie. Persoonlik dink ek ook niks gaan help tensy jy nie eerste daardie drome en voornemens met die Vader gaan uitklaar nie. Jeremia 29:11 sê nie verniet: “Ek weet wat ek vir julle beplan nie…” Kry jou drome, gedagtes en roetines in lyn met wat God vir jou beplan, dan sal jy hierdie jaar met soveel meer durf en vreugde kan aanvat.

Ek is opgewonde oor die jaar. Daar is vele nuwe geleenthede, projekte en avonture wat wag. Ek hoop julle gaan saam met my 2018 aanvat met Abraham se geloof, Job se geduld, Salomo se wysheid en Petrus se impulsiewe waterloop avonture!

Nie almal is ewe opgewonde oor die jaar wat voorlê nie. So baie mense staar hul blind teen die reuse op hul pad, van begrotings wat nie wil klop nie, tot by omstandighede in die land wat hul bang en benoud laat. Hulle realiteit is een van negatiwiteit, wanhoop en mismoedigheid. Hierdie jaar wil ek juis na julle ‘n hand uitsteek en sê: “Ek weet dinge lyk vir julle net donker, maar vat my hand en leer saam met my om met geloofsoë na die wêreld te kyk. God is steeds in beheer en die oorwinning is klaar behaal. Saam kan ons as oorwinnaars in Christus leef.”

Vorige artikel[VIDEO] Hanteer jou emosies as jou planne nie slaag nie
Volgende artikelGeroep Om te Vertegenwoordig
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.