Ons pak ouerskap saam aan

0
144

Aktrise Gerwen Simon glo dat ouerskap ’n spanpoging is, nie ’n solovertoning nie. Daarom maak sy en haar man, Ben, klein Luca saam-saam groot.

Ouerskap verander die hele dinamika van ’n verhouding. Dit gaan nie meer oor “ons as paartjie” nie, maar oor “ons rol as ouers”. ’n Mens leer mekaar op ’n heel ander vlak ken. Vir my en Ben was Luca se geboorte ’n opwindende nuwe hoofstuk in ons reis as lewensmaats. Ons het saam besluit om ouers te word en het saam ons geskenkie oopgemaak.

’n Dag later dring die werklikheid eers tot my deur: “Haai, ek is ’n ma.” ’n Mens vergeet dat die ouerlike instink soms ’n tydjie neem om in te skop. Vir Ben was pa-wees die natuurlikste rol op aarde. Hy was van die eerste dag af heelhartig betrokke in Luca se lewe. Terwyl ek van my keisersnee herstel het, het hy doeke aangesit. Teen die tyd dat ons by die huis gekom het, was hy ’n doekruil-pro. Ek moes nog oefen!

As ek terugdink aan die eerste drie maande na Luca se geboorte, is dit ’n waas. ’n Mens is doodmoeg en emosioneel. As mense ouerskap saam aanpak, weet jy daar is altyd iemand om op staat te maak. Met nagvoedings het Ben opgestaan en Luca vir my gebring. Na ek geborsvoed het, het hy reggestaan om windjies uit te vryf. Sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie.

’n 50/50-benadering tot ouerskap help dat verantwoordelikhede regverdig verdeel word. My man babysit byvoorbeeld nie en ek is nie die alfa-ouer nie. Ons het beide ’n verantwoordelikheid teenoor Luca om betrokke ouers te wees.

Omdat ons spanmaats is, vul ons mekaar as ouers aan, ook wanneer dit by ons verskillende ouerskapstyle kom. Ben is sag en geduldig, terwyl ek die streng een is. ’n Klassieke good cop, bad cop-scenario. Oor die algemeen probeer ons tog ’n balans handhaaf. Pappa raas darem ook as dit nodig is.

Verwagtings, veral dié waaroor daar nie gepraat word nie, kan baie konflik in ’n verhouding skep; gevolglik maak ons ’n punt daarvan om kommunikasielyne oop te hou. Ek deel my frustrasies met hom, maar plaas myself ook in sy skoene. Só maak ons seker dat ons op dieselfde bladsy is.

As tuisblyma bring ek die meeste tyd saam met Luca deur. Hy is ’n regte nuuskierige klein woelwater en speel van die oggend tot die aand. Sy klein handjies wil aan alles voel en vat. Soms kan dit nogal uitputtend wees. Teen laatmiddag wil ek net vyf minute vir myself hê om my battery te laai.

Ben weet hoe belangrik ’n blaaskans is, veral vir tuisblyma’s. Hy los my graag af as hy van die werk af kom. Luca se ogies blink as Pappa by die deur instap. Vir die twee manne is dit dan speel- of badtyd. Dit gee my kans om byvoorbeeld kos te maak. Op Saterdae spandeer hy en Luca gehalte-tyd saam, terwyl ek saam met my vriendinne kan kuier of laat kan slaap.

Met ’n kleintjie in die huis is dit maklik om by mekaar verby te leef. ’n Mens moet ook tyd maak om aan jou verhouding te werk. ’n Date night nou en dan kan wonders verrig. Dit help natuurlik as jy ’n hegte netwerk familie en vriende het wat vir ’n paar uur na jou kind kan kyk.

Vroue word van kleins af geleer dat ouerskap ’n vrou se forte is. Soms laat hulle hulle maat onwetend uit die prentjie uit. Dis belangrik om jou maat kans te gee om deel te wees van julle baba se lewe. Baie vroue sal verbaas wees oor hoe handig en gretig vandag se pappas is. Staan terug, gee hulle kans. Moenie heeltyd reghelp nie, al kners jy soms op jou tande, anders skrik jy hulle dalk heeltemal af. Onthou altyd: Vele hande maak swaar werk ligter.